Alto Cabernet Sauvignon 2018 is top terroir-wyn

Stellenbosse cabernet sauvignon vanjaar se top Terroir-wyn

Alto Cabernet Sauvignon 2018 van die historiese Stellenbosse wynplaas het vanjaar die uiters gesogte SA Terroir-trofee vir die top wyn uit al die inskrywings van alle style en kultivars wat vir die kompetisie ingeskryf is, verower.

Hierdie vyf jaar-oue cabernet sauvignon is as die algehele wenner aangewys uit die 264 wyne wat beoordeel is vir die eksklusiewe SA Terroir-wyntoekennings.

Die 2023 SA Terroir-wyntoekennings se toppresteerder met die meeste hoë gehalte inskrywings is die Rietvallei-landgoed in Robertson, wat daarmee ook die meeste top landgoed-geproduseerde wyne opgelewer het.

Rietvallei het nie net die SA Terroir-trofee vir die topprodusent verower nie, maar ook vir die derde jaar agtereenvolgens met die trofee vir die toplandgoed weggestap. Hulle het twee nasionale wenners opgelewer, naamlik die Rietvallei JMB Cabernet Franc 2019 en die top rooiversnit, die Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc 2019, asook ses areawenners in die Robertson-distrik.

Vanjaar se top enkelwingerdwyn kom uit die Elgin-wynterrein in die Elgin-distrik – ‘n houtverouderde chardonnay. ‘n Enkelwingerdwyn is die mees opregte uitbeelding van ‘n terrein-gedrewe wyn uit spesifieke grond en klimaatstreek. Altesaam 66 enkelwingerdwyne is vanjaar beoordeel en die SA Terroir-trofee vir die top enkelwingerdwyn is aan die Almenkerk Chardonnay 2020 toegeken.

Dat die unieke Kaapse wynland wêreldwyd kan spog met die mees veelsydige topgehalte wynterreine, is vanjaar weereens by die 18de SA Terroir-wyntoekennings beklemtoon. Die SA Terroir-trofee vir die top area is aan die Malmesbury-wyk in die Swartland toegeken. Die grootste bydrae hier was van Arbeidsgenot Wyne in Riebeek-Kasteel, deel van die Malmesbury-wyk, wat drie nasionale wenners opgelewer het. Dit was Arbeidsgenot se eerste deelname aan dié spogkompetisie, waar hul minder bekende kultivars uitgeblink het, naamlik die Arbeidsgenot Grenache Blanc 2022, Roussanne 2022 en Verdelho 2022.

Die vyf SA Terroir-wyntoekenningstrofeë wat toegeken is, het vanjaar uit vier verskillende wynterreine in die Kaapse wynland gekom: Malmesbury, Robertson, Stellenbosch en Elgin. Die nasionale wenners van al die style en kultivars het hul oorsprong uit meer as 15 terreine in die Kaapse wynland en sodoende werklik die verskeidenheid van terroir-gedrewe wyne beklemtoon.

“Die diversiteit van ons wyngebiede is weer eens by vanjaar se SA Terroir-wyntoekennings bewys,” aldus Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV). “Gehalte is die hooftema van  beoordeling en dit is insiggewend om elke jaar te sien watter terreine uit hierdie baie spesiale wynland die beste van watter kultivar en styl lewer.”

Altesaam 35 wyne het die top standaard punte behaal om as nasionale wenners aangewys te word.

Bertho van der Westhuisen van Alto wat die prys gekry het vir die top wyn, ‘n Alto Cabernet Sauvignon 2018 en Dawrian Salies.
Kobus Burger van Rietvallei (top-langoed en top produsent), Bertho van der Westhuizen van Alto (top wyn), Joris van Almenkerk van Almenkerk-langoed (top enkelwingerd) en Jaco Brand van Arbeidsgenot-wyne (top area: Malmesbury).
Die trofeewenners en bestuur van SA Terroir en finansiële vennote: Bennie Howard (SA Terroir), Jan Vermaak (HUB Winfield United), Kobus Burger, Bertho van der Westhuizen, Christo Pienaar (SA Terroir), Joris van Almenkerk, Jaco Brand, Dawrian Salies (GM SA Litho) en Louis Mclaren (uitvoerende vervaardiger en eienaar, Ontbytsake).
Kobus Pienaar en Olivia Poonah, die uitvoerende bestuurder van die Wyn en SpiritusrRaad aan wie ‘n spesiale oorkonde oorhandig is.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!