Verskeie Stellenbosse kelders lewer Top 10 sauvignon blancs

20 Finaliste wys hul slag met sauvignon blanc

Verskeie Stellenbosse wynkelders het van die land se beste sauvignon blanc-wyne ingeskryf en tel onder die top 10 suavignon blancs vir 2023.

Onder die Stellenbosse kelders is Klein Zalze, Spier, Flagstyone, Simonsig, Tokara en Zorgvliet.

Sauvignon Blanc is nie net ‘n wyn om onmiddellik te geniet nie. Die oesjaar van ‘n sauvignon blanc is beslis ook nie die vervaldatum nie. Hiervan is die 20 finaliste in Sauvignon Blanc Suid-Afrika se 2023 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie die klinkklare bewys. Nie minder nie as veertien van die top 20 aanspraakmakers is van vorige oesjare, tot en met 2017.

Wynmakers beskou sauvignon blanc toenemend as ‘n kultivar met gravitas. Subtiele gebruik van hout maak die wyn meer kompleks en verouderingswaardig, soos die agt gehoute wyne in vanjaar se top 20 beklemtoon.

Die 20 finaliste bied ‘n indrukwekkende keuse van style uit uiteenlopende wynstreke met heelwat streke wat meer as een finalis opgelewer het. Altesaam 106 produsente het 169 wyne ingeskryf vir hierdie kompetisie wat sedert 2007 die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie is wat uitsluitlik aan sauvignon blanc toegewy is. Dit word met die ondersteuning van die Top 10-titelvennoot FNB en die platinumvennoot EVER Solutions aangebied.

Die top 20-finaliste (in alfabetiese volgorde) is:

  • Benguela Cove Vinography Sauvignon Blanc 2022
  • Bloemendal Wine Estate Suider Terras 2017
  • De Grendel Koetshuis 2022
  • Diemersdal Sauvignon Blanc Reserve 2023
  • Diemersdal The Journal Sauvignon Blanc 2022
  • Flagstone Free Run Sauvignon Blanc 2022
  • Iona Elgin Highlands Wild Ferment Sauvignon Blanc 2022
  • Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2022
  • Kleine Zalze Vineyard Selection Sauvignon Blanc 2023
  • KWV Cathedral Cellar Sauvignon Blanc 2021
  • Le Grand Domaine Our Origin The Pledge Sauvignon Blanc 2022
  • Le Grand Domaine The Pledge 10 Sauvignon Blanc 2019
  • Nitida Sauvignon Blanc 2023
  • Simonsig Sunbird Sauvignon Blanc 2023
  • Spier Seaward Sauvignon Blanc 2023
  • Stark-Condé Round Mountain Sauvignon Blanc 2022
  • Steenberg The Black Swan 2022
  • Tokara Reserve Collection Elgin Sauvignon Blanc 2022
  • Zevenwacht Estate Sauvignon Blanc 2023
  • Zorgvliet Single Vineyard Sauvignon Blanc 2022

‘n Paneel vooraanstaande wynkenners het vanjaar se kompetisie beoordeel met die Kaapse Wynmeester dr Winifred Bowman as sameroeper. Saam met Bowman op die paneel was die internasionale wynbeoordelaar en wynskrywer Fiona McDonald, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, Morgan Steyn, wynmaker van De Grendel, Gregory Mutambe, sommelier van Rust en Vrede, asook twee protégés, Mahalia Kotjane, assistentwynmaker van Lievland, en Shanice du Preez van De Grendel.

Top 10-aankondiging

Die Top 10 word op Woensdag 25 Oktober 2023 tydens die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-toekenningsgeleentheid by Kleine Zalze asook op die webwerf www.sauvignonblanc.com en op sosiale media aangekondig.

  • ʼn Tegniese seminaar word op Woensdag 22 November 2023 by Allée Bleue in Franschhoek gehou. Vir meer inligting, besoek sauvignonblanc.comof skakel  +27(0)82 808 1114.

Vanjaar se beoordelaarspaneel van die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie op Uitkyk: Van links is Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, protégé Mahalia Kotjane, assistentwynmaker van Lievland, protégé Shanice du Preez van De Grendel, Bennie Avenant van Ever Solutions, die Kaapse wynmeester en paneelsameroeper dr. Winifred Bowman, Nancy Lockett van FNB, die wynskrywer en -beoordelaar Fiona McDonald, Arno Cloete van FNB Landbou, Gregory Mutambe, sommelier van Rust en Vrede en Morgan Steyn, wynmaker van De Grendel. Altesaam 20 finaliste sal in September aangekondig word en die tien wenners word op 25 Oktober bekend gemaak.
Foto: Natalie Gabriels Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!