Bloemhof weer beste in SA
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum het Bloemhof wéér vereer as die top Afrikaanse skool in die land.
Dié merietetoekenningsgeleentheid, wat op Vrydag 9 Februarie 2024 in Centurion gehou is, is deur tientalle skole regoor die land bygewoon. Bloemhof is volgens die SOS-matriekverslag 2023 as top skool onder Afrikaanse, dubbelmedium en parallelmedium skole aangewys. Hierdie toekenning word gebaseer op die gemiddelde aantal onderskeidings per kandidaat.
Bloemhof se matriekgroep van 2023 het 3,57 onderskeidings per kandidaat behaal, die derde meeste in die land naas Herschel Girls’ High School en Rustenburg Girls’ High, beide Engelse skole in die Wes-Kaap. Dit besorg Bloemhof dus ook met die eerste plek in die Wes-Kaap onder alle Afrikaanse, dubbelmedium en parallelmedium skole.
Ses uit die top 20-skole in die land is Afrikaanse skole en enkelgeslagskole het veral uitgeblink.
Tesame met hierdie top-skool toekenning is die HMS Bloemhof ook vereer in die volgende vakgebiede gebaseer op die aantal onderskeidings per kandidaat:
- Afrikaans Huistaal: ’n algehele tweede posisie landwyd onder alle skole en algeheel eerste in die Wes-Kaap.
- Engels eerste addisionele taal: ʼn Algehele tweede posisie landwyd en ʼn eerste plek onder Afrikaanse skole.
- Ingenieursgrafika- en ontwerp: ʼn Algehele derde posisie landwyd en 1ste plek onder Afrikaanse skole.
- Wiskundige Geletterdheid: ʼn Algehele vierde posisie landwyd en eerste plek onder Afrikaanse skole.
- Fisiese Wetenskappe: ʼn Algehele agtste posisie landwyd en eerste plek onder Afrikaanse skole.
- Ekonomie: ʼn Algehele veertiende posisie landwyd.
Volgens Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, is daar In paar faktore waaraan hierdie uitsonderlike prestasie toegeskryf kan word: “Hierdie uitstaande uitslae wat ons matriekgroep gelewer het neem ons nie vanselfsprekend op nie en kan toegeskryf word aan ons puik opvoeders wat hul uitstekend van hul taak kwyt, die uitstekende werksetiek by die leerders en personeel, gesonde selfwaarde en natuurlik die seën van die Here.”
Foto’s: Solidariteit Skoleondersteuningsentrum