Plan B gaan kykers vir 5 weke vermaak

Deon Meyer-eerste vol aksie en intrige

Wanneer kykNET ‘n Deon Meyer boek opraap en dit lewe gee op die skerm, verwag ons aksie, soos ons tereg gesien het in die Tv reekse Trackers en Devils Peak. Wat sou kykNET-kykers en aanhangers van dié bekroonde skrywer se eerste boek, reeds 30 jaar gelede geskryf, Plan B. op hulle kassie verwag?

Die Hertzogprys-wenner, Tertius Kapp, het hierdie minder ernstige Deon Meyer-werk, in ‘n draaiboek omskep. Avontuur, kwinkslae en sjarmante skurke maak van Plan B ‘n produksie in die klas van Ocean’s Eleven en die The Italian Job. In die regisseurstoel is Jozua Malherbe en die vervaardigers is Scene 23 se Cobus van den Bergh en Tim Theron. Plan B is ‘n vars nuutjie in die tv-genre. Hierdie mini-reeks, enig in sy soort, beloof om vyf weke van absolute kykgenot te verskaf en kykers sal verseker verlief raak op die karakters.

“Die reeks is beter as die boek,” glo Deon Meyer.

Meyer kan spog met die een treffer ná die ander en hy het hom al as draaiboekskrywer en vervaardiger bewys. Meyer se boeke is in 27 tale vertaal. Hy is by vanjaar se KKNK vereer met die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae.

Plan B se pas is vinnig sonder dat die storielyn gejaagd voel of die kyker verward gelaat word. Daar is tonne aksie, maar ook genoeg humor om die produksie as ‘n caper te beskryf. Kykers sal ook sommer gou die karakters leer ken en kan besluit of hulle van hom of haar hou al dan nie. Elke toneel het lyf en dra by tot die storie se ontwikkeling.
Die rolverdeling is gedoen met spesifieke talent in gedagte en elke lid van die produksie help om die storie suksesvol te vertel. Hannes van Wyk het na die afloop van die eerste episode met lede van die produksiespan gesels en vrae uit die gehoor gefasiliteer. Van Wyk spreek sy lof uit vir die produksie wanneer hy sê dat “… almal werk saam om die mooiste storie te bring.”

Anrich Herbst bring weer sy speeltalent terug as die speurder Boef. Hierdie speurder kom ietwat ongeërg voor, maar die akteur meen sy karakter gaan nog die kykers verras. “Boef is nie werklik so dom soos hy lyk nie,”vertek hy.

Vir Armand Aucamp te siene as die slinkse glyjakkals Joshua was dit lekker om die rol as antagonis te vertolk en “… om die vryheid te hê om my donker kant uit te leef.”

Wanneer kykers vir Amalia Uys as Ragel Bergh sien, is dit duidelik waarom die vervaardigers opsluit vir haar as Rachel wou sien. Uys se talent word nie meer onderskat nie en sy het haarself as ‘n veelsydige en uiters talentvolle aktrise bewys. Sy kom tot haar reg in die bedryf.

Amalia Uys ias Ragel Bergh.

Tim Theron is nie net as mede-vervaardiger betrokke nie, maar is ook te siene as Ivan Malan en bring Suid-Afrika se eie Magnum na die skerm. Die akteurs prys Arnold Vosloo se talent, ondervinding en dinamika. Vosloo gee lewe aan die karakter van Paul Schmidt.

Ander spelers sluit in Dorette Potgieter, Roberto Kyle, Devoncia Swartz, André Weideman, Marguerite van Eeden en Dylan Williams.

Die betaalkanaal kykNET het vir die eerste keer ‘n voorskou van ‘n tv-reeks by die KKNK vrygestel. Die kanaal het ook erkenning gegee aan die oudste DStv-intekenare en genooi na die voorskou. Van die oudste intekenare is reeds 38 jaar DStv-kliënte.

Plan B is in en om Kaapstad verfilm en bestaan uit vyf episodes. Die eerste episode is verlede week op 26 Maart om 20:00 op kykNET uiujtgesaai. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar. En onthou dis vanaand weer daar!

Annette Havenga ©

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!