Blaauwklippen-herehuis in brand vernietig

Brand- en windskade treister Stellenbosch

Die stormskade regdeur die munisipale gebied van Stellenbosch is ernstig. In een van die ergste voorvalle is die historiese herehuis op Blaauwklippen totaal in ‘n brand verwoes, tewyl talle ander veldbrande ook in die stormsterk wind voortwoed. Talle bome is ontwortel, dakke afgwaai en boomversperrings oor paaie kom wyd verspreid voor.

“Ons het te make met talle brande, bome wat omgeval het, elektrisiteitsonderbrekings, en dakke wat afgewaai het,“ het Gesie van Deventer, Stellenbosch se burgemeester,  vanoggend vroeg gewaarsku.

“Rapporteer asseblief enige diensleweringprobleme aan ons beheerkamer sodat ons dit kan hanteer. Alhoewel ons nie alles gelyktydig kan hanteer nie, wees verseker ons sal ons beste doen. Baie onderbrekings hou verband met Eskom-dienste en ons sal hulle in kennis stel.“

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste gaan voort om talle brande wat regoor die distrik woed, te bestry.

In Blaauwklippen, Stellenbosch, het die KWDM Brandweerdienste deur die nag met drie brandbestrydingsvoertuie en bemanning die Blaauwklippen-brand bestry het. Ongelukkig bly die brand buite beheer en word dit vererger deur rukwinde.

Die brand op Pappegaaiberg is intussen onder beheer gebring

Intussen, in Simonsberg, Pniel, brand die vuur steeds en beweeg deur sterk wind in die rigting van Bochendal. Stellenbosch Munisipaliteit is op die toneel met vyf voertuie, wat inkamping en beskerming van strukture prioritiseer.

By Solms Delta, Groot Drakenstein, het KWDM Brandweerdienste gereageer op ‘n brand wat die meeste strukture verbygesteek het, maar steeds deur digte plantegroei aangevuur word. Die Winelands FPA verleen hulp aan nabygelee plase soos Allee-Bleue en Lekkerwyn.

Die brand by Keerweder, Drakenstein, brand steeds buite beheer. Ongelukkig is een struktuur vernietig, terwyl ‘n ander gedeeltelike skade opgedoen het. Pogings is daarop gefokus om oorblywende strukture te beskerm.

“Onss doen ‘n beroep op die publiek, veral ramptoeriste, om nie ramptonele te besoek nie. Jou teenwoordigheid by ramptetonele kan belangrike toegang vir nooddienste belemmer. Deur hierdie gebiede te vermy, fasiliteer jy die vinnige en doeltreffende pogings van noodpersoneel om die situasie aan te spreek en te versag,“ versoek die KWDM.

Dorpstraat lyk asof ‘n orkaan dit getref het.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!