Jacob Zuma: Teflon-man se invloed op roomys

‘Hier’s ek weer, hier’s ek weer met my rooi rok voor jou deur…’

Jannie Gagiano

Oud-pres. Jacob Zuma spartel partykeer  benoud rond in die politieke stroomversnellings.

Net soos dit lyk of hy gaan versuip, wip hy sy kop soos ‘n ontstelde fonteinpadda bo die water uit, lek met sy tong soos ‘n verbouereerde veldlikkewaan  ‘n paar keer oor sy lippe en voor jy jou kom kry, brand hy alweer met sy umshini op jou los.

Veelvuldig is die kere wat ons gedink dat ons hom uiteindelik in ‘n blik gedruk het. Net om kort daarna te sien hoe hy homself soos Houdini loswikkel uit sy boeie en sy sondes afspoel onder ‘n stort.

Ons het gedink ons het hom aan die knaters beet toe hy een van sy Gupta-maatjies laat inglip het by Waterkloof vir ‘n lekker bruilofparty op staatsonkoste en kort daarna sy ander maatjie Bashir by dieselfde Waterkloof laat uitglip het sodat die Sudanese diktator aan die geregtigheid van die Internasionale strafhof kon ontkom.

Ons het gedink sy turf gaan sit oor die wapenskandaal, oor hoe hy vir Kwezi onder sy falliese vlerk geneem het, die vindingryke metodes wat hy aanbeveel het om virusbesmettings weg te spoel, om te lieg soos ‘n tandetrekker voor die Zondo-kommissie en oor die verwaandheid om te dink dat hy die Gupta-broers soos gebruikte kolonostomiesakke in sy politieke koskas kon aanhou sonder om vlieë te trek.

Tevergeefs. Sy menige telge doen nog steeds sake met die Guptas en hy waai die vlieë flink weg met die beesstert wat hy by Shaka geërf het.

Ons het gedink dat toe die tronkstrafvonnis sonder die keuse van ‘n boete op hom val hy miskien vir eens en altyd uit die politieke arena sou verdwyn.

Maar net soos die tronkdeure agter hom toeslaan, doen hy gerieflik ‘n ongeneeslike siekte op wat nie in die gevangenis se siekeboeg of hospitaal behandel kan word nie. Die soort siektes wat die Direktoraat van Gevangenisse verplig om hom toe te laat om die res van sy straf in die vrye ope lug langs ‘n brandpoel in sy Nkandla-landgoed uit te dien en verder te bepaal dat die enigste doktors wat sy kwale kan diagnoseer en genees Russies praat en in Moskou praktiseer.

En nou lek Jacob, die TeflonMan met die Russiese siektes, sy lippe weer opnuut af om sy veelsydige Umkhonto in diens van die weZiswe te stel. Waar die geesdrif hoog vlam vir sy nuwe party se beesvelskild-en-spies logo in Kwazulu-Natal, word hy oral op die hande gedra. Dikwels op albei hande vol jubelende vingers. In ander landsdele word die gejubel en die hande en die vingers stelselmatig minder totdat dit in die Wes-Kaap kwyn tot net een. Die  middelvinger. Ook bekend as die Jakop Regop.

In die Wes-Kaap neig mense om baie soos H.L. Mencken te dink oor hoe presidente behandel moet word wanneer hulle uittree. Mencken beveel aan dat sodra hulle dienstermyne uitloop, hulle of geskiet of gehang moet word, anders peuter hulle obseen rond met alles, steek hulle neuse ongevraagd oral in en eindig op as openbare oorlaste. Soos pedofiele wat by openbare toilette rondhang om stemme te werf vir die Drakensberg-seunskoor.

Die stigting van sy nuwe party is ook nie die eerste keer dat sy umkhonto die nasionale politieke arena binnedring en dreig om die wêreld aan die brand te steek nie. In 2010 maak die kunstenaar, Brett Murray, nasionale opslae met ‘n skildery van Jacob waar hy soos Vladimir Lenin na sy (Lenin) se aankoms by die Finland-spoorwegstasie in St Petersburg pronk en sy revolusionêre manlikheid vertoon.

Die enigste verskil is dat Brett vir Zuma in die nabootsingsportret alles laat uithang. Sy revolusionêre geesdrif en sy genitalia. In Brett Murray se skildery hang die slang wat hang heelhuids by Jacob se gulp uit. Sy geheime wapen word voor die ganse weSiswe ontbloot. Vir die weSiswe is die skok amper net so erg as vir ‘n opgeskote dogter wat haar pa vir die eerste keer nakend onder ‘n stort  sien uitkom. ‘n Nasionale skande word ooreenkomstig afgekondig en ter bevordering van nasionale maagdelikheid word die skildery uit die openbare oog verwyder.

Hoe kan ‘n leier nou die setel van sy revolusionêre libido dominandi beskerm as Brett Murray sy Umkhonto ontsluier in ‘n toestand van skugtere verleptheid? Dit ondermyn mos die nasiebouingsprojek!. Die amaXhosa met hulle besnydenispraktyke gaan mos lag vir Jacob. Enersyds omdat hulle kan sien dat sy Jakop nie regop of opreg is nie en andersyds omdat hulle ook dadelik kan sien dat hy nie so ‘n goeie kop vir besigheid soos sy besnyde voorganger Thabo Mbeki het nie.  En gesoute politici weet dat net skoolkinders sal stem vir ‘n politikus wat belowe om sy ketotter vir hulle te wys as hy die verkiesing wen.

Maar moenie vir ‘n oomblik dink dat sulke beuselagtige vernederinge die held van Nkandla van stryk sal bring nie. Soos Donald Trump groei sy politieke kapitaal saam met sy politieke skandes. Hoe meer sy onderrok uithang, hoe gewilder word hy onder diegene wat glo dat die koloniale slang wat Suid-Afrika se tuin van Eden saam met Jan van Riebeeck se drie skepies die Kaap binnegeseil het, se kop alleenlik met Comrade Lenin se Bolshevistiese byl afgekap kan word.

Zuma se radikale ekonomiese transformasie (RET)-planne word wyd en syd deur nugtere ekonomiese deskundiges afgemaak as ‘n bekooksel wat gelykgestel kan word aan ‘n poeding wat van ‘n beesmis- en roomysmengsel saamgestel word. “It does not do much for the cow dung” beoordeel een gesaghebbende kommentator Jacob se RET resep “but it sure spoils the ice cream.”

Sommige dink dat om hom weer aan die stuur van die staat se sake te stel vergelykbaar is met ‘n poging om slaapsiekte in Afrika te bestry deur raad te vra by ‘n tstetsevlieg. Ander spekuleer dat hy ‘n plan het om KwaZulu Natal te herdoop tot Cloud Guptaland en dat die Asiatiese vleuel van sy party speel met die idee om Natal as ‘n kolonie van Indië in te lyf en as sodanig deel te maak van ‘n ontluikende Brics-empire.

Hierdie soort bespiegelinge en veroordelinge sal meeste van ons politici ontmoedig en oorreed om die handdoek in te gooi. Maar nie vir Jacob Zuma nie. Soos ou regter Erasmus altyd gesê het toe hy die bemoeienisse van die wêreld van sy skouers af wou skud, “It rolls off my back like ducks water.”

Vir Jacob the Teflonman, rol alles van sy rug af soos “ducks water”.

Selfs “ducks water” rol van sy rug af soos “ducks water.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!