FEDHASA se 2024 Leier van die Jaar is boorling van Pniel
Annette Havenga
Die 52-jarige Denise Stubbs gesels gemaklik op ’n Maandagoggend uit haar kantoor. Wanneer ek haar uitvra oor haar ouderdom, maak sy dit gou duidelik dat as iemand uit die klein dorpie Pniel, sy baie trots is op haar herkoms, haar gemeenskap en die mense saam met wie sy werk.
Hierdie ma van drie dogters is al vir 23-jaar met haar skoolliefde, Winston Stubss, getroud: “my eerste boyfriend en ewige man,” sê Denise, self die middelste van drie kinders.
Dit is duidelik dat Denise se ouers ‘n groot en vormende rol in haar lewe gespeel het wanneer Denise vertel dat hulle haar steunpilare was. Sy het ongelukkig reeds beide haar ouers verloor. Haar ouers het haar gebrei en gevorm om daar te wees vir haar gemeenskap en om ander mense te help waar sy kan. Dit was ook haar ma wat haar geleer het om alles uit jou hart te doen. Sy skerts dat Pniel se mense saam staan en ook maar ‘n ‘tipiese klein dorpie’ is. “Almal weet maar alles van mekaar af.”
Oos Wes tuis bes
Denise praat met passie van die bedryf en sê die diversiteit van Suid-Afrikaners maak sy merk in die toerismebedryf, maar noem dat die mense van die Wes-Kaap fenomenaal en besonderse creatures is.
Al reis sy baie is dit vir haar lekker om huis toe te kom en sal Suid-Afrika altyd vir haar huis wees en sê dat niemand so gasvry kan wees soos Suid-Afrikaners nie. “Ek wil net gedurig vir mense wys ons is besonders,” sê sy. Sy plaas klem op gasvryheid wanneer sy sê dat gasvryheid mense aantrek en dit juis die gasvryheid is wat mense sal laat terugkeer.
Erkenning
Denise se reis na dié FEDHASA- toekenning het in 2022 by Diemersdal, onder die mentorskap van David en Sue Sonnenberg begin. Sy het in ‘n bedryf onbekend aan haar beland en skielik moes sy ‘n gastehuis beman en die wynbedryf bemeester. Vandag is sy die trotse besturende direkteur van Thokozani Wyne, na ‘n reis wat sy nie sal vergeet ne..
Denise herinner my gou daaraan dat die oorpronklike ‘Coffee Chocolate Pinotage’ juis van Diemersdal is.
Vir Denise is dit ‘n reuse-eer om hierdie toekenning te kry teenoor verskeie legendes in die bedryf en het sy dit met trane van dankbaarheid aanvaar. Sy het ook van haar kollegas op die verhoog saam met haar geroep. David en Sue was aan Denise se sy met die ontvangs van haar toekenning en prysgeld.
Denise sê dat, ten spyte van ander toekennings, hierdie een haar na aan die hart lê en dat saam met die bewoording van hierdie erkenning daar ook baie druk kom. “Die woord ‘leier’ kom met sy eie deel van uitdagings. Jy lei, maak dinge gebeur en is ‘n voorbeeld vir ander. Ek het besef dat mense jou grootste uitdaging kan wees. Soms moet jy ‘tuff love’ toepas en soms moet jy ‘n sagter kant kan wys en mense daarop wys waarom sekere besluite of stellings gemaak was,” glo sy.
Vir Denise is dit ‘n verdere riem onder die hart wanneer haar mense haar nie net as ‘n leier sien nie, maar ook as ‘n ma-figuur en iemand wat vir hulle ‘n pad probeer oopmaak wat beter is.
Denise voeg trots die betekenis van thokozani by wanneer sy vertel dat dit celebretation beteken. “Hier vier ons net weer eens die diversiteit van vooruitgang met die wete dat dieselfde mense wat jou hier in die gastehuis en restaurant bedien, ook aandeelhouers in die besigheid is.”
Van ‘n business within a business het Thokozani Wines, onder die Diemersdal-eienaars se mentorskap en Denise se leierskap, plaaswerkers sien groei tot mense wat, ongeag hul kwalifikasies, hulle handelsmerk verstaan en dit met trots aanbied en luidkeels kan vertel dat we work the land, now we own the brand.
Denise sê die mense in die veldslag van die besigheid, die hande op die grond, op die plaas, in die wingerde en die mense wat saam met jou werk, dra by tot die besigheid se sukses
Haar motivering spruit voort uit haar kennis van die gemeenskap en sy mense. Sy het self groot geword as ‘n kind van plaaswerkers, op die plaas, daarom verstaan sy juis die mense so goed.
Vir Denise is dit belangrik dat mense in die bedryf van toerisme en gasvryheid geduld en ‘n besliste passie moet hê vir mense en sê jy kan alleenlik iets maak werk as dit vir jou ‘n passie is. Hierdie is die belangrikste beginsels en daarsonder kan niks in plek val nie.
“Sonder daardie passie is dié bedryf nie vir jou nie. Weg van die formaliteite, die strategiese beplannings en analises, is dit die gasvryheid en die mense wat belangrik is. Dit is wat die mense laat terugkom, die ervaring. Ons is in ‘n heartwarming bedryf en dit is wat ons vir mense moet gee. As jy gedurig na die bottom line staar gaan jy jouself siek maak. Dan moet jy maar nou uitloop.”
Thokozani wyne
Denise Stubbs se vriendelike gesig toon dit duidelik waarom haar mense haar as ‘n ma-figuur sien. Dit is haar dryf, passie en nederigheid wat haar ‘n leier waardig van die FEDHASA Leier van die Jaar 2024 maak.
Sy het saam hande geklap vir die wenner, vir Denise Stubbs, sonder om te besef dit is sy. Dit was eers tot iemand vir haar sê – Denise, dit is jou naam – dat sy, met trane van ongeloof en dankbaarheid, na die verhoog gestap het.
Denise se laaste woorde is ‘n vriendelike uitnodiging. “Kom kuier, kom kyk wat ons doen. Kom kyk na ons plekkie wat aan die werkers behoort.”
Vinnige-Feite oor Denise:
Denise is ‘n oggendmens en sê sy het die meeste energie in die oggend. Sy raak sommer maklik aan die slaap in haar lazy boy saans wanneer haar gesin tonne energie het.
Sy het nie ‘n spesifieke gunsteling vakansiebestemming nie, maar ontspan graag by die see. “Enige plek by die see waar ek net kan afskakel en ontspan. Ek ry sommer Strand toe.”
Sy is ‘n kat-mens en het koffie leer drink in die bedryf.
Alhoewel pizza eintlik haar gunsteling is, is rooivleis ook iets wat sy in die bedryf leer ken het.