Baie Suid-Afrikaners verenig in stryd téén ANC se voorverkiesingswette
Politieke partye sowel as burgerlike organisasies oor die hele Suid-Afrika heen is verenig in hul heftige teenstand teen die diep kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, ook bekend as die BELA-wetsontwerp, wat vandeeweek deur die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar is.
Terselfdertyd is daar heftige reaksie teen die Nasionale Gesondheidsversekering-beleid (NGV), wat Woensdag deur pres. Cyril Ramaphosa as wetgewing onderteken is.
Hierdie drakoniese stuk wetgewing verteenwoordig ’n duidelike aanval op grondwetlike regte en demokratiese vryhede van elke Suid-Afrikaner. ’n Groeiende sentiment vir groter outonomie in veral die Kaap is besig om pos te vat en die regering se planne vir die implementering van hierdie wetsontwerp en nuwe wet vuur net hierdie sentiment aan.
Volgens Bernard Pieters, hoof van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, is daar uit uiteenlopende gemeenskappe weerstand teen die implementering van die BELA-wetsontwerp. Hoewel Kaapse Forum op Christelike waardes berus, verwelkom die organisasie ook lede uit ander gelowe wat saamstaan téén BELA.
“BELA is besig om Suid-Afrika te verenig téén die regering in ’n tyd waarin twyfel bestaan oor of die regerende party weer ’n meerderheidstem in die komende verkiesing op hom sal verenig,” meen Pieters.
“In tye van onderdrukking vind diverse gemeenskappe dikwels krag en veerkragtigheid in eenheid. Ondanks ons verskil in agtergrond, kultuur of oortuigings, kom mense van verskillende groepe bymekaar omdat BELA gesien word as ’n stryd wat gemeenskaplik gepak moet word. Hierdie eenheid kweek ’n gevoel van solidariteit en bemagtig ons om ons gesamentlike stem teen onreg te verhef. Deur wedersydse erkenning, ondersteuning en gesamentlike optrede kan diverse gemeenskappe hul eise vir gelykheid, geregtigheid en menseregte versterk. Hierdie eenheid dien as ’n kragtige mag waarmee onderdrukkende stelsels en wetgewing, soos die beoogde BELA-wet, uitgedaag sal word.”
Kaapse Forum voer aan dat die samehorigheid téén die BELA-wetsontwerp wat onder diverse gemeenskappe vorm, wys op gemeenskappe se gedeelde strewe na vryheid, menswaardigheid en ’n regverdige samelewing. “Dis ook hierdie feit wat die Kaapse Forum die selfvertroue gee om tot in die hoogste hof saam te veg téén BELA,” meen Pieters.
Hoewel die NV se aanvaarding van die wetsontwerp volgens Pieters ’n slag was, dien dit ook as ’n geleentheid vir gemeenskappe om saam te staan.
“Gister se gebeure is wel ’n laagtepunt vir ons demokrasie, maar dit bied ook ’n saadjie van hoop dat gemeenskappe, soos met die stryd teen BELA, sal saamstaan teen uitdagings wat die regering nie kan of wil oplos nie. Ons sal dus self werk aan oplossings, maar ons sal nie dit alleen hoef te doen nie.”
Afriforum
Volgens Afriforum is die aanvaarding van die omstrede BELA-wetsontwerp slegs ’n volgende stap in die ANC se meedoënlose stoomrollerproses om die wetsontwerp voor die verkiesing deur te voer. Die volgende stap is dat die wetsontwerp aan die president vir ondertekening voorgelê sal word. AfriForum se regspan is gereed om die president te versoek om dit ingevolge bepalings van die Grondwet nie te onderteken nie, maar dit weer na die NV terug te verwys.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beklemtoon dat AfriForum hou by die voorneme om die BELA-wetsontwerp nasionaal en, indien nodig, ook internasionaal met regsaksie teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte-onderrig inhou.
“AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n berekende aanslag op veral enkelmedium- Afrikaanse skole en daarom as ’n poging om kulturele etniese suiwering te pleeg. Die Afrikaanse gemeenskap se kulturele identiteit word bedreig deur hulle taal stelselmatig uit openbare skole te sluit, soos wat reeds met openbare universiteite gebeur het,” sê sy.
“Onderwys oor die algemeen gaan daaronder ly, met die regering wat die finale sê oor toelating sal kry, in plaas van demokraties verkose beheerliggame. Die departement toon reeds in die meerderheid skole in die land dat oorvol klasse en ’n gebrek aan moedertaalonderrig hulle weinig skeel. Programme wat die uitbreiding van die moedertaalaanbod en infrastruktuur beloof, word met groot fanfare aangekondig, maar die departement het óf nie die wil óf die vermoë om dit betekenisvol uit te voer nie. Die oplossing is dat wanfunksionele skole reggeruk moet word en begrotings behoorlik spandeer moet word, en nie om deur taal- en toelatingsbeleide die skole wat ten spyte van die departement se inmenging nog suksesvol is, te benadeel nie.”
“Die land se kinders verdien beter as wat die Departement van Basiese Onderwys tans vir hulle opdis en beslis beter as die bedreiging wat BELA vir hulle inhou. AfriForum se voorbereidings vir regsaksie gaan daarom voort.“
NGV
AfriForum maak reg vir ’n klasaksie teen die regering, pres. Cyril Ramaphosa, die parlement en die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, vir die skade wat Suid-Afrikaners gaan ly onder die onbekostigbare NGV. AfriForum het dít in ’n regsbrief bevestig wat by die Uniegebou oorhandig is.
Die organisasie gaan vervolgens spoedig ’n dagvaardiging uitreik saam met ’n tussentydse aansoek vir die tersydestelling van die implementering van die wet, hangende die voltooiing van die klasaksie.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die doel van die hofgeding om NGV te stuit en ook diegene wat verantwoordelik is vir hierdie destruktiewe beleid dwing om die gevolge van hul ondeurdagte optrede te dra.
Boshoff het ook sy teleurstelling uitgespreek dat Ramaphosa nie self die media te woord gestaan het nie. “As die regeringshoof bereid is om ’n nuwe wet te bekragtig, is hy veronderstel om goed genoeg daarin onderlê te wees om sy besluit in die openbaar te verdedig. Tog sien amaphosa nie kans daarvoor nie.”