Toekoms van kwantumtegnologie verseker
Prof Francesco Petruccione, professor in kwantumrekenaarkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), is aangestel as die permanente direkteur van die nasionale instituut vir teoretiese en berekeningswetenskappe (NITheCS). Dié aanstelling volg op sy suksesvolle ampstermyn as tussentydse direkteur.
NITheCS, wat amptelik in April 2024 van stapel gestuur is, is ‘n konsortium van 24 Suid-Afrikaanse openbare universiteite en die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS).
Die Instituut se hoofkwartier is by die US met vyf koördinerende nodusse regoor die land – aan die Nelson Mandela Universiteit (onder leiding van prof Azwinndini Muronga), die Noordwes-Universiteit (onder leiding van prof Du Toit Strauss), die Universiteit van Kaapstad (onder leiding van prof Will Horowitz), die Universiteit van KwaZulu-Natal (onder leiding van prof Sunil Maharaj) en die Universiteit van die Witwatersrand (gelei deur prof João Rodrigues).
NITheCS spog met ‘n netwerk van nagenoeg 300 medewerkers, almal met PhD’s, wat teoretiese en berekeningsnavorsing in agt belangrike wetenskaplike dissiplines doen – sterrekunde en astrofisika, bioinformatika en kwantitatiewe biologie, datawetenskap, aardstelsels en modellering van klimaatsverandering, wiskunde, kwantitatiewe finansies, statistiek en teoretiese fisika.
“Ons platform maak voorsiening vir ʼn diversiteit van kennisvelde om in ‘n stimulerende omgewing te byeen te kom. Ons werk daaraan om die mensdom se fundamentele begrip van die heelal te bevorder en die grondslag te lê vir die tegnologie van môre,” sê Petruccione.
Mylpaal
Sy aanstelling is ‘n belangrike mylpaal in sy loopbaan, nadat hy voorheen as adjunkdirekteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika gedien het, wat NITheCS voorafgegaan het. Petruccione het ook ‘n Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in kwantuminligtingverwerking en -kommunikasie beklee toe hy aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) verbonde was. Hy het in 2022 by die US aangesluit en is in die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke aangestel.
Aktiwiteite
NITheCS, befonds deur die departement van wetenskap en innovasie (DWI) via die nasionale navorsingstigting (NNS), het reeds beduidende vordering gemaak met die organisering van verskeie wetenskaplike aktiwiteite en die aanbied van ‘n beursskema vir nagraadse studies.
Aan die begin van die jaar het dit ‘n kodering-somerskool aangebied in samewerking met die sentrum vir hoëprestasie rekenaarkunde (CHPC). Nagraadse studente het onderrig in die Linux (Ubuntu) en Python-programmeertale ontvang.
Dit was egter ‘n gebeurtenis met ‘n verskil. In hibridiese modus is sessies oor die loop van twee weke regstreeks na 30 kampusse regoor Suid-Afrika en Kenia gestroom, wat dit vir meer as 850 nagraadse studente en navorsers moontlik gemaak het om dit by te woon.
Fokus
Een so ʼn persoon was Chanelle Matadah van Kameroen, wat ‘n PhD in Fisika aan die US doen. Sy sê sy wil graag meisies in haar tuisland inspireer om in STEM (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) belang te stel.
Uchenna Okwuosa van Nigerië, wat ‘n PhD in meganiese ingenieurswese aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie doen, het dit ook bygewoon.
“Ek het ‘n aanbod gehad om in Australië te studeer, maar ek het daarteen besluit omdat ek op Afrika-bodem my gedagtes daarop toespits om die uitdagings van ons vasteland die hoof te bied, wat my passie is,” het hy gesê.
NITheCS streef daarna om by te dra tot die Afrika-unie se Agenda 2063 en wetenskap-, tegnologie- en innovasiestrategie vir Afrika 2024.
Bekwaam
Petruccione, ‘n hoogs bekwame akademikus met meer as 338 publikasies, het wydverspreide erkenning vir sy bydraes tot die wetenskap ontvang. Hy is ‘n verkose lid van die Akademie vir Wetenskappe van Suid-Afrika (Academy of Sciences of South Africa) en ‘n genoot van beide die Royal Society of South Africa en die African Academy of Sciences.
Gelukwense
Die nuus is met entoesiasme van die US en die DWI en NNS begroet, met beide instansies wat hul vertroue uitgespreek het in Petruccione se vermoë om NITheCS te lei.
Prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, sê Petruccione het die afgelope twee jaar ‘n “transformerende impak op navorsing en innovasie by die US gehad, gekenmerk deur sy strategiese visie en produktiewe leierskap.”
Hy voeg by dat Petruccione se kundigheid “‘n deurslaggewende rol sal speel in die vorming van die toekoms van kwantumtegnologieë by ons universiteit en regoor Suid-Afrika, wat die US se reputasie as ‘n toonaangewende navorsingsintensiewe instelling op die vasteland verder sal versterk.”
Prof Sibusiso Moyo, die US se viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies, het gesê sy het geen twyfel dat Petruccione se aanstelling “die reputasie van NITheCS en sy konsortiumlidinstellings verder sal verhoog om spilpunte vir voorpuntnavorsing en transformerende innovasie as deel van die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap te word nie.”
Die NNS het gesê hulle is verheug oor die aanstelling van Petruccione en uitsien na die waarde wat hy tot Suid-Afrika se nasionale stelsel van innovasie sal toevoeg.
Petruccione stel in die vooruitsig dat NITheCS na nege nodusse uitbrei, een in elke provinsie van Suid-Afrika, met die insluiting van alle openbare universiteite landwyd. Hierdie ambisieuse plan gaan gepaard met die voortgesette opknapping van die US se Merensky-gebou, wat die nuwe NITheCS-kantore sal huisves, wat teen November 2024 gereed sal wees.