Nuwe dinosourus-spesie so groot soos ’n hond ontdek

Studie bevorder begrip van klimaatsverandering

 Dr Ryan Tucker, ‘n sedimentoloog van die Universiteit Stellenbosch se departement aardwetenskappe, was deel van ‘n span wetenskaplikes van die North Carolina State University en die North Carolina Science Museum (NCSM) wat in 2013 verskeie monsters van die spesie Thescelosaurus  in die Mussentuchit Member van die Cedar Mountain Formation opgegrawe het.

Dié nuut-ontdekte dinosouriër is waarskynlik ‘n voorouer van Thescelosaurus en aanvanklike aanduidings is dat hierdie diere minstens ‘n deel van hul lewe in ondergrondse gate deurgebring het.

Volgens ‘n mediavrystelling wat deur North Carolina State University (NCSU) uitgereik is, was die “nuwe” dinosourus, genaamd Fona herzogae, ‘n kleinerige, plantetende dinosourus omtrent so groot soos ‘n groot hond, bedek met ‘n laag donsige, kleurvolle vere.

Tucker, wat reeds vir meer as ‘n dekade saam met dr Lindsay Zanno van NCSM en NCSU werk, fokus op die beskrywing en datering van die onmiddellike omgewings- en klimaatstoestande van die gebied waar Fona en ander nuutontdekte fossiele gevind is.

‘n 3D-drukstuk van die skedel van Fona. Foto: Lindsay Zanno

Hy het onlangs verskeie goed bewaarde vulkaniese asvalbeddings ontdek wat met hierdie en ander belangrike fossielvondse (soos Moros intrepidus en Iani smithi) verbind word. Die vulkaniese asvalbeddeings vergemaklik meer akkurate datering aangesien die neergelegde as relatief oombliklik in geologiese tyd neergelê word. Hierdie nuutgeformuleerde tydsraamwerk is onlangs in die vaktydskrif Geology gepubliseer.

Tucker sê daar moet nog baie werk gedoen word in die middel-Kryt Wes-binnelandkom om klimaatsverandering gedurende hierdie tydperk van die aarde se geskiedenis beter te verstaan. Hierdie pogings word tans deur die National Science Foundation in die Verenigde State van Amerika ondersteun.

Tucker en nagraadse student Kira Venter sal weer by Zanno en ’n internasionale, diverse multidissiplinêre span aansluit vir ‘n twee maande lange veldekspedisie na die Oos-Gobi-kom in Mongolië. Hierdie ekspedisie, wat deur National Geographic befonds word, maak deel uit van ‘n grootskaalse studie om paleoklimaatsneigings van 125 tot 83 miljoen jaar gelede in Oos-Asië te verstaan.

Fona is omtrent so groot soos ‘n hond. Foto: Jorge Gonzalez

“As dit suksesvol is, sal ons klimaatsverandering op ‘n hemisferiese skaal (in vergelyking met Noord-Amerika) beter kan verstaan, tesame met die generering van data wat betekenisvolle klimaatvoorspellings vir ons eie nabye toekoms kan fasiliteer – indien huidige neigings natuurlik onveranderd bly,” verduidelik hy.

Fona het omstreeks 99 miljoen jaar gelede in die huidige Utah geleef, terwyl Thescelosaurus net voor die massa-uitsterwingsgebeurtenis sowat 66 miljoen jaar gelede geleef het. Gedurende Fona se leeftyd, was hierdie gebied ‘n groot vloedvlakte-ekosisteem wat deur ‘n massiewe binnelandse oseaan in die ooste, en aktiewe vulkane en berge in die weste vasgedruk is. Oor die algemeen was dit ‘n warm, nat, modderige omgewing met talle riviere.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!