US se SR-verkiesing steeds onder vergrootglas

AfriForum Jeug neem standpunt in oor ontroversie oor SR-verkiesing by Maties

 Nuwe verwikkelinge in die voortslepende kontroversie rakende die Studenteraadsverkiesing (SR-verkiesing) by die Universiteit Stellenbosch (US) het AfriForum Jeug genoop om vandag ’n tweede regskrywe aan die universiteit se verkiesingskommissie (VK) te stuur. Die verwikkelinge bou voort op vorige pogings van die VK om ’n aantal pro-Afrikaanse kandidate deur middel van ’n klag, wat by die studentehof aanhangig gemaak is, van die verkiesing te diskwalifiseer. Die klag is deur die studentehof van die hand gewys, maar die VK het gedruk vir verdere ondersoek en het nou sy aanval op die betrokke kandidate verskerp met twee bykomende aantygings wat intussen teen een van die kandidate gemaak is en haar kans op ’n plek op die SR in gedrang bring.

Die nuwe aantygings sluit bewerings in dat ’n spesifieke kandidaat voordeel getrek het uit ’n Instagram-plasing wat AfriForum Jeug op 9 Augustus gemaak het en wat die kandidaat na bewering ’n onbillike voordeel in die SR-verkiesing gegee het. AfriForum Jeug hou egter vol dat die plasing geensins verband gehou het met enige kandidaat se verkiesingsveldtog nie, dat dit gemaak is ter viering van Nasionale Vrouedag en dat dit geen melding van enige spesifieke kandidaat of enige ondersteuning aan ’n SR-kandidaat gelewer het nie.

Wian Spies, prokureur by Hurter Spies en lid van AfriForum Jeug se regspan, hou vol dat selfs al het sodanige onderskrywing plaasgevind, geen reëls daardeur geskend is nie aangesien geen regulasie die ondersteuning van SR-verkiesings of -kandidate deur geregistreerde US-studenteorganisasies verbied nie.

AfriForum Jeug ontken enige misbruik van fondse of betrokkenheid by finansiële ongerymdhede ten sterkste. Die onlangse AfriForum Jeug-vrouedagfunksie, wat die uitgee van blomme ter viering van Vrouemaand ingesluit het, val ten volle binne die raamwerk van die universiteitsregulasies. As ’n geregistreerde organisasie op kampus en ’n lid van AfriForum Jeug is dit die kandidaat se reg om deel te neem aan die geleentheid. Die kandidaat se deelname is nie ’n oortreding van veldtogfinansieringsreëls nie.

Die jeugorganisasie het in sy regskrywe ’n beroep op die VK gedoen om tasbare bewyse te voorsien van die oortreding van enige verkiesingsreëls – spesifiek met betrekking tot enige ondersteuning van ’n derde party. “Kandidate kan nie gepenaliseer word vir hul deelname aan normale studenteaktiwiteite of lidmaatskap van ’n studenteorganisasie nie,” verduidelik Spies. “Die kommissie moet bewyse bring dat dié of enige ander kandidaat in dié verkiesing enige onbillike voordeel getrek het.”

 AfriForum Jeug is bekommerd oor die VK se versuim om by die proseduriële tydlyne te hou aangesien meer as 96 ure reeds verloop het sedert die oorspronklike klag teen die kandidate aanhangig gemaak is. Ingevolge US se Studentegrondwet word daar van die VK verwag om sodanige ondersoeke binne 24 uur af te handel. Ten spyte van hierdie duidelik riglyn, het die VK nog nie ’n afdoende besluit uitgereik nie. Die organisasie dring nou aan op deursigtigheid en toegang tot die verwante bewyse om te verseker dat die proses billik en verantwoordelik geskied.

Intussen is die aankondiging van die verkiesingsresultate, wat oorspronklik op 28 Augustus gedoen sou word, al verskeie kere uitgestel. Die aankondiging van die resultate is nou geskeduleer om op eerskomende Donderdag (5 September) gemaak te word. Die vertragings hou op ’n bedenklike wyse verband met die voortgaande ondersoek teen die betrokke kandidate wat verdere kommer wek oor die onpartydigheid van die proses.

 Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, sê: “Hierdie kwessie raak alle kandidate en ondermyn die hele verkiesingsproses. Ons dring aan op billikheid en deursigtigheid om toe te sien dat geen kandidaat onbillik geteiken word nie. Elke student by US verdien ’n vrye, demokratiese en deursigtige verkiesingsproses.”

Gerber hou vol dat AfriForum Jeug sal voorgaan om die regte van alle studente te verdedig om aan ’n billike verkiesing deel te neem. “Ons sal nie terugtree totdat ons tevrede is dat die proses regverdig is en elke kandidaat gelyke geleentheid gegun is nie. Hierdie verkiesing moet die demokratiese waardes reflekteer wat US beweer om te handhaaf,” voeg sy by.

 AfriForum Jeug het dit voorts ook duidelik gemaak dat hulle bereid is om verdere dringende regstappe te oorweeg indien die VK sou voortgaan om buite die raamwerk van die vasgestelde reëls en regulasies op te tree. Die organisasie is daartoe verbind om te verseker dat die regte van kandidate – en alle studente – beskerm word.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!