Ramjugernath is nuwe US-rektor

Universiteit Stellenbosch wys 13de Rektor en Visekanselier aan om op 1 April 2025 diens te aanvaar

Professor Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US), is deur die US-Raad as die aangewese rektor en visekanselier aangewys.

Ramjugernath sal die amp op 1 April 2025 opneem met prof Wim de Villiers wat op 31 Maart 2025 sy tweede termyn van vyf jaar as rektor en visekanselier afsluit. Hy word die Universiteit se 13de rektor (hoewel die naam van hierdie pos die afgelope 100 jaar ‘n paar keer verander het). In hierdie oorgangstydperk sal Ramjugernath as aangewese rektor en visekanselier nou saam met De Villiers werk.

Ramjugernath is ‘n gesoute en hoogs ervare leier in die hoëronderwyssektor met byna 12 jaar senior uitvoerende ondervinding in hierdie sektor in Suid-Afrika. Hy was vóór sy aanstelling as viserektor: leer en onderrig by die US in Januarie 2021, die viserektor: navorsing en innovasie, kommersialisering en rntrepreneurskap aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy het ook uitgebreide direksie- en bestuurservaring en het al in verskeie maatskappydireksies en organisasierade gedien.

Ramjugernath woon saam met sy vrou, prof Prathieka Naidoo, ‘n bekwame akademikus in eie reg, hulle drie dogters en twee honde op Stellenbosch.

“Ek voel baie geëerd dat die geleentheid om een van die topuniversiteite in Afrika te dien en te lei, aan my toevertrou is. Ek is baie dankbaar dat die Raad van die US hulle vertroue in my visie stel om die instelling na die volgende vlak as ‘n navorsingsintensiewe universiteit van wêreldgehalte te neem wat in diens van die samelewing staan,” het Ramjugernath oor sy aanstelling gesê.

“Stellenbosch word plaaslik en internasionaal vir sy akademiese uitnemendheid gerespekteer en bewonder, en ek sien uit na die tydperk van noue samewerking met prof De Villiers voordat ek in April aanstaande jaar amptelik die amp opneem en voortbou op sy ongelooflike ampstermyn en prestasies die afgelope dekade.”

Ramjugernath se aanstelling kom ná ‘n deeglike werwingsproses, insluitende aanbiedings deur en onderhoude met kandidate op die kortlys by vergaderings van die Senior Aanstellingskomitee, die Senaat, die Institusionele Forum en die Raad.

Die voorsitter van die Raad, Nicky Newton-King, het gesê: “Ons is verheug oor prof Ramjugernath se aanstelling en sien daarna uit dat hy ons spesiale instelling in die volgende fase van sy reis lei. Hy is ‘n uitstekende akademikus en gesoute administrateur en die Raad het geen twyfel dat hy ‘n waardige opvolger van prof De Villiers sal wees nie.”

Newton-King gee toe dat die Raad ‘n moeilike taak gehad het. “Die US se prestasies het aansoeke van die beste plaaslike en internasionale kandidate gelok. Alle eer aan prof De Villiers, sy Rektoraat en die bykans 3 500 Stellenbosse akademici en professionele en administratiewe steundienstepersoneel wat verseker dat die US steeds topnavorsings- en studente-uitslae lewer. Die Raad is baie dankbaar hieroor.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!