Najma Abrahams, Azba Fanie
Tietie en Nanna se huiskos
Azbah Fanie, beter bekend as Nanna, en Najma Abrahams, alom bekend as Tietie, het TikTok-sterre geword nadat hulle binne drie maande reeds meer as 103 000 volgelinge opgebou het. Dit het alles begin toe Tietie se jongste seun, Ubain, ‘n video van sy ma en haar suster op die platform geplaas het. Die twee TikTok-tuiskokke Najma Abrahams (Tietie) en Azbah Fanie (Nanna) se hande staan vir niks verkeerd óf stil nie.
Hul resepte is hartskos net geurige regte, egte huiskos.
Met Tietie en Nanna se onfeilbare resepte, perfek beproef, kan elkeen weer huiskos, soos ons ma’s, oumas, tantes en tieties dit gemaak het, in hul eie kombuise opdis.
Van groenboontjiebredie, tamatiekos en selfs die vergete sagobredie, blomkoolbredie, panfrikkadel tot Nando’s-hoender, broodpoeding en dhaltjies is mos die onopgesmukte huiskos waarna elkeen verlang. Die kerries is natuurlik ook daar – suikerboon-, hoender-, dhal- en fynvleiskerrie, breyani, noem maar op. Snoek-in-die-oond, kerrievis en seekos-paella bring die see in jou kospotte. Vir einde-van-die-maand-sakrukkers is daar sakpas-randrekkers soos dhanya-soesys, eierkerrie en spaghetti-en-sardyne. Tietie se peperminttert en lemon meringue is uit ’n ander wêreld en Nanna se braised skaapnek sal enige onthaaltafel laat kreun van smaakgenot. Mavrou, Tietie se lamsvleis-weergawe van dié tradisionele gereg wat in die Kaaps-Maleise kultuur by troues voorgesit word, is ’n tydlose treffer.
En moenie van die happies en lekkernye vergeet nie – dis nou die “soet en sout” waarmee Mzansi se mense grootgeword en die lewe om elke hoek en draai gevier het. Watertand-verleidings soos bollas, flapjacks, skons, snowballs, patatkoekies, sweetcorn fritters en vele meer. Samoesas en roti’s kry variasies in geure en kleure om van te droom. (Só sê Tietie: Roti is baie versatile – eet dit met kerrie, masala steak of selfs as ’n poeding. Dis tog te lekker met strawberries, strawberry jam en cream.)
Soos vinkel en koljander, dís Najma Abrahams (Tietie) en Azba Fanie (Nanna). Dié twee TikTok-tuiskokke is geliefd vir hul hartskos, net plein huiskos met ’n KaapsMaleise twist.
Wat kry jy? Elkedag-kos soos kiefaait-bredies, kerries met skop, ingelegde vis en gesmoorde soesys, maar ook seekospaella, Krismispoedings, Labarang-feesdisse, Mavrou (van lamsvleis) vir ’n troutafel en ander ghrênd goed. Daarby kom die sweet en savoury waarmee Mzansi die lewe vier – bollas, snowballs, roti’s, samoesas, dhaltjies en nog vele verleidings.
Ken jy nie van so ’n tuiskombuis nie, het jy dalk reeds ’n voorsmakie gekry in Tietie en Nanna se kwinkslae op Instagram en TikTok. Terwyl die potte prut, strooi die twee siezas so saam met die masala, dhanya, karamonk en jeera ook vrylik hul eie spices virrie lewe in. ’n
Resepteboek waar memories en liefde saamsmelt, met elke roer van ’n pot.
Oor die skrywers
Najma Abrahams (Tietie), die jonger suster, het ook geleer kos maak by haar ma. Tietie het twee seuns, Rezah en Ubaid. Ubaid is die meesterbrein agter die TikTok-sensasie. Hy het dikgehou dat die twee tuiskokke moet kosvideo’s maak en soos hulle sê, die res is history. Die twee susters woon in die Strand saam met Tietie se seuns.
Azba Fanie (Nanna) het op 11-jarige ouderdom begin bak en brou. Haar liefde vir kosmaak kry sy van haar oorle’ ma. Sy onthou dit was tamatiekos wat sy die eerste keer saam met haar ma gekook het. Nanna hou van nuwe goed try en is ewe mal oor kook en bak.