Rudie van Rensburg dra vaandel vir WAT

WAT kry nuwe beskermpersoon

Die skrywer Rudie van Rensburg is op 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, aangekondig as die nuwe beskermpersoon van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ’n Woord-projek. Hy ondersteun reeds vir jare dié fondsinsameling en die WAT deur telkens ’n woord uit elk van sy nuwe boeke se titels te borg.

Van Rensburg is in Bloemfontein gebore. Hy begin sy loopbaan as joernalis in die Vrystaat voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit, onder meer as senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

Van Rensburg is bekend vir sy topverkoperspanningsromans en humoristiese Hans-reeks. Die rolprentverwerking van Hans steek die Rubicon oor is onder meer as beste speelfilm by die Silwerskermfees bekroon. Hy skilder ook die afgelope 30 jaar en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Volgens Van Rensburg is dit ’n groot voorreg om as beskermpersoon aangewys te word en sy liefde vir Afrikaans ook op dié manier uit te leef: “Dit is vir my ondenkbaar om in ’n ander taal as Afrikaans te skryf, want dit is my hartstaal. Solank ons skryf, dig, sing en praat in Afrikaans en al sy variante, sal die taal lewend bly. Maar om dit na behore te doen het ons woordeboeke soos die WAT nodig wat voortdurend vernuwe om die volle spektrum van ons pragtige taal te weerspieël. Jy kan ook daarby betrokke raak deur jou gunstelingwoord te borg of te koop.”

Die beskermpersone word aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer. Die fondsinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy vyftiende jaar. Vorige beskermpersone sluit in: David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch, Dawie Roodt, Amanda Strydom, Hannes van Wyk, Amore Bekker en Frazer Barry.

Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop. Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.

Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!