AfriForum ruik ’n rot oor vrot rivierwater in Stellenbosch

Nienakomingsvlak oor watergehalte beloop 53%
Beskikbare feite van onder meer die departement van water en sanitasie (DWS) oor die Stellenbosch-munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte en die gehalte van verwerkte rioolwater wat vanuit aanlegte in hierdie munisipaliteit in die Eerste- en Veldwagtersrivier vloei, vereis volgens dringende optrede.
Daarom het die burgerregteorganisasie AfriForum’n klag by die Inligtingsreguleerder (IR) ingedien om aan te dring dat inligting hieroor, wat reeds in Oktober 2023 ingevolge die wet op die bevordering van toegang tot inligting (PAIA) van die munisipaliteit aangevra is, aan AfriForum oorhandig word. Die organisasie hou vol dat inligting uit munisipale bronne dié van DWS weerspreek en daarop gemik is om die probleme te misken en te onderspeel en die publiek derhalwe te mislei.
Dit volg kort op die hakke van nog ‘n waterverwante probleem in die Johannesburg-metro waar AfriForum ’n dringende beroep op die Johannesburg-metro gedoen het om ’n grootskaalse inisiatief vir die herstel van waterlekkasies aan te pak en die vervanging van verouderde pyplyne en deurlopende instandhouding van die waternetwerk in die stad te prioritiseer.
Dié elementêre inisiatiewe is noodsaaklik om die mensgemaakte “Dag Zero”-krisis, wat ontstaan het as ’n produk van swak munisipale en provinsiale bestuur onder leiding van die ANC af te weer.
Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is Stellenbosch-munisipaliteit se onlangse bewerings dat daar “geen probleme” met water in dié munisipaliteit is nie, strydig met dit wat bronne soos die Iris-platform en die Groendruppelverslag toon.
“Die inwoners van Stellenbosch sal nie langer toelaat dat die munisipaliteit hulle ’n rat voor die oë draai nie,” beklemtoon Benade.
“Die waarheid moet uit en AfriForum is gereed om voort te veg in die belang van inwoners, ondernemings, boere en die gemeenskap se ekonomie.”
Volgens die Iris-rekords oor verwerkte rioolwater van die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg toon die 116 mees onlangse monsteranalises dat daar in 61 gevalle nie aan die vereiste gehaltestandaarde voldoen is nie. Dit kom neer op ’n nienakomingsvlak van 53%.
Benewens verskeie fisiese en chemiese eienskappe wat nie op standaard was nie, het 21 analises, oftewel 18% van die 116 ontledings, gewys op die teenwoordigheid van E.coli (Escherichia coli) bo die toelaatbare vlakke. In een geval is tot 206 000 dele per 100 ml aangemeld – ver bo die toelaatbare perk van 10 dele per 100 ml. Dit dui daarop dat onvoldoende verwerkte riool in Stellenbosch se riviere gestort is, wat stroomaf ernstige gesondheidsrisiko’s kan inhou.
DWS se nasionale Groendruppelvorderingsverslag vir 2023 wat in November verlede jaar vrygestel is, skets ook ’n kommerwekkende prentjie van Stellenbosch se rioolsuiweringsaanlegte. Dié verslag bevat die resultate van ’n omvattende jaar lange assessering van die land se munisipale rioolsuiweringswerke. Daarvolgens het die Stellenbosch- en die Wemmershoek-rioolsuiweringsaanlegte ’n kumulatiewe risikogradering van onderskeidelik 86,4% en 82,4% behaal (’n hoër persentasie dui op hoër risiko). Dit plaas beide aanlegte in die hoërisiko-kategorie en is ’n aanduiding van swak prestasie in kritieke aspekte van prosesbeheer, instandhouding, kapasiteit en nakoming van die toepaslike gehaltestandaarde vir die vrystelling van verwerkte rioolwater. Stellenbosch-munisipaliteit se prestasie is boonop in die verslag as “treurig” (“dismal”) en “kommerwekkend” (“deep concern”) bestempel, onder meer weens die swak mikrobiologiese gehalte van verwerkte riool en die munisipaliteit se onvermoë om die nodige inligting aan die departement te verskaf vir die bepaling van die akkuraatheid van die resultate wat die munisipaliteit op Iris gerapporteer het.
AfriForum se klag by die IR oor Stellenbosch se watergehalte volg in reaksie op ’n jaar lange stryd waartydens die Stellenbosch-munisipaliteit AfriForum se PAIA-aansoek vir inligting oor beweerde besoedeling van en rioolstorting in Stellenbosch se riviere geweier het en ’n appèlproses gevolg het. Ook dié proses het misluk omdat die inligting volgens die munisipaliteit vertroulik is. Die beskikbaarstelling van hierdie iligting is in die belang van die Stellenbosse gemeenskap en inwoners het die reg tot toegang van hierdie inligting. Intussen bevestig DWS se geïntegreerde regulatoriese inligtingstelsel (Iris) dat water wat onlangs by Stellenbosch se rioolsuiweringsaanlegte getoets is, nie aan die verlangde standaarde voldoen nie. Die Iris-waterbestuursplatform bied aan onder meer die publiek toegang tot rekords van munisipaliteite se wetlike nakomingsmoniteringsresultate as ’n meganisme om deursigtigheid te bevorder.
In die geval van die Wemmershoek-rioolsuiweringsaanleg toon die 190 mees onlangse monsteranalises dat daar in 115 gevalle nie aan die vereiste gehaltestandaarde voldoen is nie. Dié syfer wys daarop dat verwerkte rioolwater in nagenoeg 61% van dié gevalle nie aan die standaard voldoen het nie. Voorts is E. coli bo die toelaatbare vlakke in 37 analises (19% van die 190 ontledings) aangemeld – in een geval is tot 3 800 000 dele per 100 ml aangemeld.

AfriForum het intussen ook ’n onafhanklike en geakkrediteerde laboratorium opdrag gegee om omvattende watertoetse te onderneem en onder meer gerugte van die storting van ongesuiwerde rioolwater in die Veldwagters- en Eersterivier te ondersoek. Die resultate van die verslag sal na verwagting aanstaande jaar vrygestel word.
Die dreigende waterkrisis in Johannesburg en Gauteng is tans ook in die kollig en
Pemmy Majodina, minister van die departement van water en sanitasie (DWS), het gister tydens ’n mediakonferensie ’n rits oplossings vir die stad se waterprobleme voorgelê.
“Die vorige premier van Gauteng, David Makhura, het al in 2018 gewys op ’n dreigende waterkrisis in die provinsie. Daar is toe reeds voorspel dat indien daar nie die nodige onderhoud en infrastruktuurontwikkeling gedoen word nie, die provinsie teen 2025 nie genoegsame water sal hê nie. Sedertdien het Panyaza Lesufi, as huidige premier, hom veel eerder besig gehou met politiekery as om in die belang van die provinsie op te tree. Ons is nou aan die vooraand van daardie onheilspellende voorspelling en intussen het die probleem selfs meer omvangryk geword,” glo Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake.
Volgens De Klerk is die tyd nou ryp vir groter samewerking tussen munisipaliteite en die privaat sektor. “Daar behoort nou ondersoek ingestel te word na maniere waarop die privaat sektor sekere dienste namens munisipaliteite kan bestuur.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!