Eerste US-M-verhandeling na PhD opgegradeer
Toe dr Bongani Tendai Percy Mashange Maandag sy doktorale toga aangetrek het om ʼn PhD te ontvang, het hy die eerste visuele kunsstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) geword wie se meestersgraadverhandeling na ʼn PhD opgradeer is. Die bydraes van dié kreatiewe vakkundige wat akademies én artistiek uitblink, sal beslis buite die mure van die akademie weerklink.
Met ʼn unieke perspektief wat gevorm is deur sy Zimbabwiese erfenis, ʼn globale invloed en ʼn diepgaande begrip van kulturele dinamika, daag Mashange se treffende abstrakte juweelontwerpe en baanbrekersnavorsing konvensies uit en ontlok dit diskoers oor identiteit en verteenwoordiging.
Mashange, wat in ʼn gesin grootgeword het wat opvoeding en kuns prioritiseer, is die tweede van drie sibbes om ʼn PhD te behaal.
Hy het in Zimbabwe grootgeword het en het aan Falcon College, ʼn private kosskool, skoolgegaan waar sy aanleg vir die kunste gefloreer het. Nadat hy hoërskool as die topstudent in sy klas voltooi het, het Mashange se pa hom aangemoedig om ʼn pad te volg wat sy kreatiwiteit verder sou ontwikkel. Hy het verskillende internasionale en plaaslike universiteitsopsies oorweeg, maar het gekies om na die US te kom vanweë die departement visuele kunste se sterk fokus op juweliersontwerp.
“Om Stellenbosch toe te kom was ʼn bietjie van ʼn kultuurskok,” erken Mashange. “Ek het aanvanklik verwyderd van die wêreld gevoel, maar ek het vinnig aangepas. Ek het in die Helderberg-koshuis gebly en dit was die beste ervaring van my lewe.”
Die kampus het ʼn plek van groei en verbondenheid geword terwyl hy die uitdagings wat met ras en identiteit verband hou, aangepak het.
Afrika-identiteit
Om as ʼn buitelander in Suid-Afrika gesien te word, het Mashange geboei en sy verkenning van Afrika-identiteit beïnvloed.
“My ma is ʼn Ndebele en my pa is ʼn Shona, maar omdat ek vir sommige plaaslike inwoners nie Suid-Afrikaans klink nie, word ek anders behandel,” verduidelik hy. “In Zimbabwe is ek nie as Shona genoeg beskou nie. In Suid-Afrika word ek soms as nie swart genoeg beskou nie.”
Die worsteling met die ryk tapisserie van sy eie identiteit het hom geïnspireer om die kompleksiteit van Afrika-identiteit te verken en vir sy navorsing het hy ondersoek hoe kunsvoorwerpe en juweliersware as persoonlike én kollektiewe narratiewe dien.
In die Afrika-kultuur is juweliersware meer as ʼn bykomstigheidstatus; dit is ʼn diepgaande uitdrukking van identiteit, erfenis, tradisie en sosiale status, wat tradisie en moderniteit verweef, vertel Mashange.
“Ek het na my erfenis gekyk, na die plekke waar ek was, my eie spirituele kultuur en agtergrond, asook my eie etniese deurgangsrites. Ek het toe al hierdie idees in visuele objekte vertolk wat ʼn moderne Afrika-estetika kommunikeer. Ek het hierdie konsep ook visueel verken deur die materiale en tegnieke wat ek gebruik. Ek wou wegbeweeg van die tradisionele manier om juweliersware te maak.”
Mashange beskryf sy kuns as gesetel in die konsep van “Afropolitanisme”. Dié woord is ʼn mengsel van “Afrika” en “kosmopolities”, verduidelik hy. Vir hom is dit meer as ʼn gonswoord of ʼn elitistiese etiket, ; dit is ʼn manier om die kompleksiteit van Afrikaan-wees in die 21ste eeu te verwoord. Afropolitanisme gaan daaroor om moderniteit te omarm sonder om deur verouderde etikette beperk te word, voeg hy by. Dit is ʼn verwerping van essensialismes en ʼn viering van vloeiende, ontwikkelende identiteite.
Transformering
Sy PhD het teoretiese verkenning met praktiese kunstenaarskap gekombineer. Sy proefskrif het identiteit, post-koloniale Afrika en dekolonialiteit ondersoek – temas wat diep met sy eie ervarings verweef is. Hierdie benadering het hom in staat gestel om breër narratiewe rondom die voorstelling van Afrika in kontemporêre kuns te ondersoek.
Mashange se pragtige skeppings weerspieël sy teoretiese benadering. Sy juweliersware en beeldhouwerke vermeng tradisionele materiale soos hout en metaal met moderne tegnieke en skep voorwerpe wat tegelyk in erfenis gewortel en treffend kontemporêr is.
Die name van sy juweliersware dui op geestelike konsepte met kulturele betekenis soos iThemba (hoop), Sithembile (ons vertrou), Simangaliso (wonderwerk), Shavi (ʼn swerwende gees), Murapi (geneser) en Ukuqala kwenkululeko (die begin van vryheid)).
Wat Mashange betref, oortref die waarde van juweliersware die materiële waarde daarvan. Deur draagbare kuns te omskep in beeldhouwerke wat denke ontlok wat verder as versiering strek, nooi hy kykers uit om betrokke te raak by dieper betekenisse wat aan kultuur en identiteit gekoppel is.
“Ek gebruik materiaal wat met historiese betekenis gelaai is en interpreteer dit opnuut,” sê hy. “Afrika-drukpatrone het byvoorbeeld in Indonesië ontstaan en is deur Europeërs gekommersialiseer wat dit na Afrika uitgevoer het, maar ons het dit gewysig en as simbole van trots herwin. My werk gaan oor daardie soort agentskap. Ek probeer om die genuanseerde werklikhede van kontemporêre Afrika-identiteit visueel te verwoord en te vier.
“Mense beeld nasionale identiteit dikwels as ʼn geslote stelsel met rigiede grense uit, wat die ware kompleksiteit van identiteit oorvereenvoudig. Soos wat identiteite toenemend in hedendaagse Afrika verstrengel raak, streef ek daarna om ʼn outentieke, positiewe en bevestigende konsep van identiteit te herwin om my kunswerk te rig.”
Ofskoon sy skeppings as kunsjuweliersware geklassifiseer word, lyk dit dikwels na nie-funksionele beeldhouwerk en prioritiseer dit estetika bo verteenwoordigende of narratiewe elemente.
‘In wese gaan my werk oor behoort,” beklemtoon Mashange. “Die estetika wat ek gekonstrueer het, laat my toe om in verskillende sfere te tuis te voel. Afrika-identiteit is nie in yster gegiet nie. Dit verskuif en verander. Ons hoef nie lojaal te bly aan die kulture waarin ons gesosialiseer is nie.”
Ondersteuning
Mashange se akademiese reis was nie sonder hindernisse nie. Om gedurende die Covid-19-pandemie aan sy meestersgraadtesis te werk was uitdagend, maar dit het in 2021 ʼn onverwagse uitkoms gehad.
“Ek het soveel navorsing gedoen dat my teorie-studieleier, prof Lize van Robbroeck, vir my gesê het: ‘Jy het te veel geskryf, maar dis alles waardevol.’ Sy en Carine Terreblanche (my praktiese studieleier) het voorgestel dat dit na ʼn PhD opgegradeer moet word.” Hy was heeltemal oorweldig toe hy besef sy navorsing is goed genoeg om dr Mashange te word.
Hy gee erkenning aan sy familie en dosente vir hulle onwrikbare ondersteuning. “Ek dink my akademiese sukses is te danke aan ʼn baie goeie ondersteuningstelsel, wat by my familie begin – my ma, my pa, my tante en oom, asook my broers en susters. My dosente was uiters ondersteunend. Hulle was heelpad daar vir my – emosioneel en finansieel. Dit was regtig ʼn spanpoging.”
Wat die toekoms betref, neem hy dit nou stap-vir-stap. “Ek het nie onmiddellike planne nie,” sê hy laggend. “Op die oomblik wil ek net huis toe gaan, slaap en die gradeplegtigheid saam met my gesin vier.”
Op lang termyn beoog hy om sy verkenning van Afropolitaanse estetika voort te sit, moontlik ʼn juweliershandelsmerk te begin of na die akademie terug te keer. “Mense vra my of ek ʼn akademikus of ʼn kunstenaar of ʼn juwelier is. Ek hou eerlikwaar nie van etikette nie,” sê hy. “Ek sien myself as ʼn kontemporêre kunsjuwelier en ʼn akademikus, maar ek probeer dit nog uitwerk.”
· Artikel deur Hannelie Booyens