AfriForum Stellenbosch positief oor samewerking oor watersuiwering

Samwerking met Stellenbosch-munisipaliteit positief
AfriForum het ná verskeie formele en informele versoeke en ná twee PAIA-aansoeke, waar die Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit inligting geweier het, uiteindelik danksy volgehoue druk ’n sinvolle en konstruktiewe vergadering by Stellenbosch se rioolwerke gehad. Die vergadering het geskied tussen AfriForum, lede van AfriForum se Stellenbosch-takbestuur, verteenwoordigers van die munisipaliteit, bestuurders van die rioolwerke, verteenwoordigers van die Departement van Water en Sanitasie en verteenwoordigers van die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR), wat onafhanklike toetse van die water by die rioolwerke gaan doen.
Tydens die vergadering is verskeie haakplekke bespreek wat gelei het tot die wantrouige verhouding tussen AfriForum, sy lede, die algemele publiek en die munisipaliteit. Die probleme en uitdagings is duidelik geïdentifiseer en die munisipaliteit het bevestig dat hulle in die toekoms ’n meer deursigtige verhouding met AfriForum en sy takbestuur sal handhaaf. Tydens die vergadering is verduidelik watter stappe geneem is om die uitdagings van die vorige 18 maande met betrekking tot die doeltreffendheid van die rioolsuiweringsaanleg aan te pak en hoe dinge in die toekoms bestuur gaan word. AfriForum het ook as deel van die meer deursigtige verhouding in die toekoms, aangebied om opleiding aan te bied waar nodig.

Watertoetse is by Stellenbosch se rioolaanleg geneem. V.l.n.r. is verteenwoordigers van AfriForum, die nasionale departement van water en sanitasie en die WNNR.

AfriForum is tevrede met die vordering wat gemaak is vandat sy Stellenbosch-tak bekommernisse oor die swak watergehalte by die munisipaliteit aangemeld het. Rou riool het vanuit ’n verouderde mangat by die rivier ingevloei, maar die munisipaliteit het hierdie mangat reggemaak. Nuwe kontrakteurs is ook intussen aangestel om die rioolwerke te bestuur. AfriForum sien uit na die positiewe verwikkelinge wat vanuit die nuwe verhouding tussen die rolspelers kan spruit.
Na afloop van die vergadering is watermonsters by drie punte geneem – stroomop van die uitvloei van die waterwerke, by die uitvloei self en stroomaf in die rivier. AfriForum het hierdie monsters na ’n onafhanklike laboratorium gestuur waar die ander partye teenwoordig ook hul eie toetse gaan laat doen.

Paul Joubert, die huidige bestuurder van Stellenbosch se groot munisipale rioolaanleg met Flip du Plessis, regs, die senior ingenieur wat AfriForum adviseer oor die onafhanklike monitering van die aanleg, die grootste moderne MBR membraan bioreaktor van sy soort in Suid-Afrika. Die aanleg van ongeveer ‘n miljard rand het verlede jaar ernstige bedryfsprobleme gehad wat deur AfriForum se Stellenbosch-tak uitgewys is.

Die partye het ooreengekom om in die nuwe jaar weer te ontmoet om die resultate van die watertoetse te bespreek en hoe om hande te vat en saam te werk in die belang van die gemeenskap.

“AfriForum beplan nou om sy fokus na ander rioolwerke te verskuif om te verseker dat kwaliteit gehandhaaf word. Daar kan ook by mekaar geleer word en suksesse wat behaal word by rioolwerke kan met ander gedeel word om die infrastruktuur van Suid-Afrika verder te versterk en uit te bou,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

“Die Stellenbosch-tak dryf hierdie veldtog al vir meer as ’n jaar. Danksy die takbestuur se volgehoue druk, navorsing en talle ure se harde werk, is die afgelope vergadering en die resultaat daarvan ’n sukses vir die tak en ’n tree in die regte rigting.”
Afriforum moedig lede van die gemeenskap aan om by AfriForum se Stellenbosch-tak betrokke te raak en hulle te ondersteun om belangrike projekte soos hierdie te kan dryf: Besoek www.wordlid.co.za.

Paul Joubert, senior bestuurder van die aanleg, heel links. Hy het verduidelik hoe die prosesse werk en waar die probleme was..

ONDERSKRIF Watertoetse gister by Stellenbosch se rioolaanleg. Vlnr verteenwoordigers van AfriForum, nasionale Departement van Water en Sanitasie en die WNNR.

ONDERSKRIF Paul Joubert, die huidige bestuurder van Stellenbosch se groot munisipale rioolaanleg met Flip du Plessis, regs, die senior ingenieur wat AfriForum adviseer oor die onafhanklike monitering van die aanleg, die grootste moderne MBR membraan bioreaktor van sy soort in Suid-Afrika. Die aanleg van ongeveer ‘n miljard rand het verlede jaar ernstige bedryfsprobleme gehad wat deur AfriForum se Stellenbosch-tak uitgewys is.

Paul Joubert, senior bestuurder van die aanleg, heel links. Hy het geesdriftig verduidelik hoe als werk en waar die probleme was… probleme wat klaarblyklik nou uitgestryk is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!