Net goedgekeurde andersoortigheid kan bydra tot diversiteit – regtig?

Klitser is ons nuwe vreeslose rubriek vir Stellenbossers, en ander belanghebbendes, om hul mening onomwonde, onverdoesel, direk, “in jou gesig” en sonder vrees vir verdoemenis en vervolging te lug. Kwessies wat die dorp en sy bestuur raak, ja, die munisipaliteit, die US en ander instellings of sommer net daardie klein klippies in die skoen wat groot ongemak veroorsaak, is onderwerpe wat bespreek word. Ons skop sommer af met Jannie Gagiano se siening van hoe hy dink die US transformasie hanteer. Repliek is natuurlik welkom. En as jy anoniem wil skryf, is dit ook reg, ons sal jou identitiet beskerm ter wille van regverdigheid.

Is transformasie aan die US net ‘n verbeeldingsvlug?
Jannie Gagiano

O my ma, daars ‘n doring wat my pla
Leg ek op my rug, dan trek die doring trug
Leg ek op my sy, dan steek die doring my
Daars niemand in Transvaal wat die doring uit kan haal.

Die Universiteit Stellenbosch sit al sedert die totstandkoming van die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Aafrika met so ‘n doring in sy vlees. Die vorm waarin die drie groot euwels van moderniteit, imperialisme, kapitalisme en kolonialisme soos afgekook in ‘n apartheid-distelaat, die Universiteit gegiet het, was so diep geplant in sy institusionele, intellektuele en geestelike begrondings- apparatuur dat die instelling toentertyd voor ‘n soort adapt or die-keuse gestel is. Buig of bars: transformeer uit eie beweging of word getransformeer deur ‘n vreemde besettingsmag wat oor jou versperrings gaan klim en jou van buite af gaan louter deur die slym van apartheid van jou mure te kom afwas.
Jy kon die geestelike louteringsenema deur jou eie priesterordes van binne af laat toedien of die buikspoeling sou vir jou van buite af gedoen word deur die priesters van die Vrye Kerk van Verlossing. Maar kom wat wil, die drol moes uit die drinkwater geskep word. Daadwerklike optrede was gebiedend. Die voorbokke in die kweekskool kon later kwessies soos of apartheid die sondeval tot gevolg gehad het en of die sondeval as ‘n stigtingsvereiste vir Apartheid gedien het, uitpluis. Maar vir nou was dit rek of vrek. Alea jacta est!
Aan die begin het die universiteitsbestuurders hulle voetjies wat die pad van versoening en boetedoenings moes loop huiwerig geskud soos ‘n huiskat wat in water getrap het. Maar mettertyd het die stroom sy vloei begin kry en sterker begin loop. Navolgenswaardige voorbeelde uit die breër samelewing het die stroom versterk.
Geestelike leiding deur godsdienstige deskundiges en professionele Christene was aan die voorpunt. Vader Nolan van die Dominikaanse orde het byvoorbeeld aankondiging dat die Opperwese self uit haar hemelse woning afgedaal het om die verlossingstryd uit die sataniese kloue van apartheid te beredder. Sy het daarby ook nog die bevrydingsbewegings met ‘n mandaat toegerus om die gebroke werklikheid in Suid-Afrika te kom herstel.
‘n Waarheids- en versoeningskommissie is tot stand gebring om die verdwaalde bokke (wat meestal met ‘n Afrikaanse tongval geblêr het) in die kraal van geestelike welstand terug te bid. Gevoelige en diepgelowige Christene soos Adriaan Vlok, wat as ‘n vorige minister van polisie die pad byster geraak het, kon sy boetedoeningsgewaarwordinge uitleef deur Frank Chikane se voete te was.
Die demonstrasie-effek van hierdie gebeurlikhede het na die universiteit deurgespeel as ‘n les oor hoe om visse te gooi vir die beer wat dreig om hom op te vreet. Laat stroom eerbewyse oor die skouers van die nuwe magsbesetters as ‘n demonstrasie van hoe die skille in strome van jou eie oë afgeval het. Salf die hoofde van die nuwe konings met eredoktorsgrade al word die daad dan miskien soms getooi in die skynheiligheid van valse eerbied en uitgevoer met die skuins knieval van ‘n vroom mens wat haastig iewers heen op pad is.
In die vroeë jare van die huidige eeu is die hosannas dikwels aangehef en die palmtakke elke jaar tydens gradeplegtighede gereeld geswaai toe die helde van die nuwe orde op hulle donkies deur die universiteitspoorte gery het op hulle pad na die akademiese salwingseremonies.
‘n Geassososieerde oorlewingslenter was om die name van die eertyds geëerde rampokkers van apartheid wat op die frescoes van universiteitsgeboue gepryk het, onsermonieel te verwyder en te vervang met die name van die opgeduikte lyke wat uit die nostalgiese begraafplase van die geskiedenis herwin kon word. Sommige van hulle, soos Krotoa, was so oud dat dit sommige van ons historici toegelaat het om die bloedspoor van die vertraptes terug te lei tot die binnevaart van Van Riebeeck se skepies, al drie van hulle gelaai met die patogene van moderniteit wat bestem was om ons Tuin van Eden te kom ontluister.
Op die manier kon die Universiteit bieg deur apologie aan te teken vir oeroue misdade ten einde homself sodoende vry te spreek van huidige misdade. ‘n Egalitaristiese ywer wat die vertrapte skimme uit die verlede wou gelykberegtig in die hede, het posgevat. ‘n Pantheon wat saamgestel was uit die vernederdes van die verlede is opgebou en hul virtuele teenwoordigheid in die hede dan aangewend as ‘n muur van skande waar ons met mekaar kon meeding om te ween oor die sondes wat die voorvaders teenoor hulle gepleeg het.
Maar soos die jare aangestap het, is hierdie besondere vorm van a sop to Cerberus blootgestel aan die werking van die sg. wet van dalende opbrengste. Die sop het net te dun begin word om die transformasie-ywer se maag te vul.
Die Jakobynse vereistes wat gestel is vir die herwinning van die goue eeu waarin die egalitaristiese Tuin van Eden se blomme weer kon bloei, het meer daadwerklike en tasbare ingrypings gebiedend begin maak.
‘n Jakobynse kategisme het stadig maar seker en met groter dringendheid ‘n besliste beslag begin kry en is stelselmatig deur die Senaat, die Raad en die Rektoraat afgekondig as die operasionele instrumentarium wat die instititusionle transformasie van die Universiteit moes lei en begelei.
Die kategisme se afdampingsgeure het egter iets van ‘n Orwelliaanse 1984-reukie in die lug laat hang.
Dit het mense laat dink aan hoe Winston Smith, die hoofkarakter in die Orwell se vertelling, moes gevoel het toe hy die afkondigings van Big Brother oor die luidsprekers moes aanhoor. Nietemin kon dit dien as ‘n vooruitskouing van wat mens in die toekoms kon verwag.
1984 Orwelliaanse Newspeak in die universiteitswese.
Winston Smith berig dat die volgende inligting deur die Goodspeak-sentrum uitgereik is om die Feelgood-gewaarwordingpeile op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse te verhoog. Die afkondiging is afgesluit met die speel van die Nuwe Orde se strydlied: “Laat ons skyn vir Grootboet met ‘n helder glans!” Koek en tee sal in die sytente bedien word en ons herinner daaraan dat gratis kursusse om die “dubbeldink”-vaardighede van studente te verskerp, soos altyd, by die gewone dienspunte beskikbaar is.
Die Newspeak afkondiging:
“Stellenbosch Uiversiteit staan onder die verpligting om te diversifiseer. Alle universiteite moet op ‘n gestandardiseerde manier diversifiseer word. Universiteite moet daarna streef om na die instelling van hul diversiteitsprogramme almal min of meer dieselfde te lyk.
Net goedgekeurde andersoortigheid kan bydra tot diversiteit. Afgekeurde andersoortigheid bevorder nie die homogenifisering van diversiteit nie. Net gehomogeniseerde diversiteit tel. Diversiteit beteken nie uiteenlopendheid nie. Dit beteken toeloopendheid. Dit beteken nie verskeidenheid nie. Dit beteken soortgelykheid.
Hoe meer die oorhoofse universiteitwese homogeniseer, hoe meer word die doelstelling van diversiteit bevorder. Universiteite moet soos krokkedille word – as jy een gesien het, het jy almal gesien. Jakarandas en eikebome kan onder beheerde kondisies toegelaat word om as onderskeidingstekens te bly voortbestaan.
Stellenbosch diversifiseer deur toenemend te verengels. Kaapstad diversifiseer deur Engels te bly. Die inheemse tale en Afrikaans kan onder so ‘n patroon nie gesien word as elemente wat opgeneem moet word in ‘n oorhoofse patroon om diversiteit te handhaaf of te bevorder nie. Dit dien as ‘n struikelblok tot die ontplooiing en vestiging van diversiteit. Die verwydering van ‘n element wat afwyk van ‘n uniforme patroon, lewer groter diversiteit op. Die toevoeging van ‘n element wat groter homogeniteit bevorder, bv. Engels, lewer groter diversiteit op. Grootboet weet dat die handhawing van andersoortigheid die plooie en some is waarop ongelykheid in die weefstof van ‘n samelewing saampak en die ideaal van universiële gelyksoortigheid ondermyn.
Alles is waar en die teendeel ook.!! Also sprach Grootboet. En onthou. Grootboet is lief vir jou, maar Grootboet hou jou dop!
Terselfdertyd het ‘n soort baster “woke”-gesindheid in die vorm van ‘n generiese kulturkritik die tale en sosiaal wetenskaplike dissiplines aan die Universiteit begin binnesypel. Veral uit die VSA. Studies het meer en meer daarna begin neig om leermeesters en studente in ‘n posisie te plaas waar hulle hulself en ander kon ontdek as die slagoffers van ‘n verwronge en onregverdige samelewingsorde. Die wetenskaplike aandag word toegespits om ondersoeke te loods na die maniere waarop die groepe waartoe hulle behoort deur die samelewing geviktimiseer, gemarginaliseer, uitgebuit en tot stilswywe gedwing is. ‘n Mens kan die verskynsel herdoop na ‘n griewelogie of ‘n smartkunde wat beoog het om ‘n nuwe soort generiese gewaarwordingsgesindheid oor die hele geesteswetenskaplike spektum van vakrigtings in te skerp.
En wie kan beter toegerus wees om as die geneeshere van so ‘n siek samelewing op te tree as die deskundiges wat uit die geledere van sulke vertraptes self gegenereer word? Maak die vernederinge waaraan mense soos hulle onderwerp word, hulle dan nie eksistensieel bevoorreg om deur die smart en pyn van vernedering gelouter te word en die dwalinge van ‘n valse bewussyn af te skud nie? En is hulle daarom nie juis beter toegerus om die planne en sketse vir die argitektuur van ‘n alternatiewe samelewing op ‘n verbeeldingryke manier af te teken nie?
Dit lyk of of die Senaat, die Raad en die Rektoraat aan Stellenbosch meer en meer inderdaad hierdie sienswyse onderskryf. Die universiteitsraad het byvoorbeeld by hulle laaste raadsvergadering besluit om een van die koshuise op die Stellenbosch kampus, t.w. Wilgenhof , soos ‘n verdorde wilgerboom los te kap uit sy 130-jarige wortels en die plek te herverbeel as ‘n soort “wie weet wat”-boom. Of as ‘n hoender. Of as ‘n swaan. Wie weet? Die verbeelding is ‘n wonderlike ding. Soos die donkie. En almal weet dat as varke vlerke gehad het hulle sou kon vlieg. Vir die Universiteit se verbeeldingryke herskeppers van onsmaaklike en ongewenste werklikhede het die dringendheid van die tyd die besef gebring dat in die woorde van Alice in Wonderland se Walrus: “The time has come” the Walrus said “to talk of may things: Of shoes and ships and sealing wax, of cabbages and kings—and why the sea is boiling hot—and whether pigs have wings.”
Mens kan die kring van die spotters op Wilgenhof se quad-banke al sien sit en in ligte luim herverbeelde rolle vir die bv.Nagligte sit en uitdink. Soos om geld vir die universiteit te verdien deur PPP-ooreenkomste met die munisipaliteit te sluit waar die Nagligte in volle battledress en met fyn stemmetjies soos Luftwaffe Stukas afduik op die misdadige elemente in die dorp se begraafplase wat die grafte ontsier en daarmee so te verskrik dat die middernagtelike gerinkink net daar in die kiem gesmoor word. Of waar die hoof van die Nagligte die naglewe in die middedorp kan opkikker deur in ‘n nagklub uit sy KKK-gewaad te wikkel met die suggestiewe heupbewegings van ‘n ontkleedanser. Albei as beroepsaanwendinge van gevestigde Wilgenhof-bates om die derde geldstroom wat na die Universiteit se skatkis lei, tot voordeel te strek.
Of selfs dat die koshuisgeledere jaarliks met ‘n kontingent abakwethas aangevul word sodat kruiskulturele vergelykende studies van inlywingspraktyke op ‘n gereelde grondslag deur die antropologie-department gedoen kan word.
So ‘n herverbeelde gebruik van die Wilgenhof-perseel veronderstel natuurlik dat Die Plek nie ontmantel word soos ‘n kernkragstasie deur tonne beton daaroor te stort nie. Dit vereis dat die plek gestol word in sy volle onsmaaklike gewaad en in die hede afgebind word in die herkenbare gestalte van sy patogeniese wesenstoestand. Per slot van sake, as mense ‘n brandoffer aan die Gode bring ten einde vergiffenis vir hul sonde af te smeek, moet die sondebok lyk soos ‘n volwaardige sondebok, anders gaan die Gode die ding mos agterkom. En waar sit mens dan? Die Astekies het geweet dat net onbesoedelde maagde teen die kranse afgegooi kon word om die Gode se wraak te temper. Loskop-dollas het net geen ruilwaarde in die kosmiese vergeldingsmarkte nie.
Dit is tog na alles net redelik om te verwag dat as ’n mens ‘n pispaal van ‘n plek wil maak, daar ‘n paal beskikbaar moet wees om teen te pis. Anders word die herverbeeldingsprojek dalk net ‘n nuttelose gepis in die wind.
Ondertussen bly ons maar aan die wonder oor na watter groen weivelde die vrye herverbeeldingsvlugte van die Raad gaan lei. Ons volg maar die doen en late van Stellenbosch se Universiteitsraad deesdae uit nuuskierigheid, liewer as uit enige ander oorweginge. Wie weet, miskien word ons nuuskierigheid beloon indien dit daartoe kan lei dat ons die Raad en die Rektoraat op ons beurt kan herverbeel as elemente in ‘n bestuurstelsel wat baie beter kan werk in hulle afwesigheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!