Wreedheid van aanval dui op pogings tot moord
’n Mens wil nie altyd net die slegte van ‘n saak raaksien nie, maar dit is tyd dat daar iets aan hierdie plaasaanvalle gedoen moet word. Die ou slagspreuk van ‘genoeg, is genoeg’ is nou meer as voorheen van pas. Veral as mens dink dat daar die afgelope maande ongeveer 6 plaasaanvalle in die Stellenbosch-omgewing was.“
So sê Gideon Roos, seun van Johan (63) en Lucille Roos (62) wat verlede Donderdag (9 Januarie) wreed op hul plaas Rust-en-Vrede aan die R44 buite Stellenbosch langs Cavalli aangeval is. Johan het twee skedelbreuke opgedoen nadat hy ten minste ses keer met ‘n koevoet geslaan is, sy regtervoorarm is op twee plekke gebreek en hy het verskeie kneuswonde aan sy lyf. Lucille het ook hoof- en ander beserings opgedoen, maar is intussen uit die Mediclinic Stellenbosch ontslaan waar hulle na die aanval behandel is.
Johan kon weens die drukking op sy brein nog nie vir sy gebreekte arm en beseerde hand geopereer word nie en is steeds in die intensiewesorgeenheid. Die operasie sal nou waarskynlik Donderdag of Vrydag gedoen word.
“Die gewelddadigheid waarmee die aanval uitgevoer is, laat ‘n mens net weer besef dat dit nie ‘n gewone huisroof was nie, maar dat die skuldiges, indien hulle aangekeer word, van poging tot moord aangekla moet word. Om iemand 5 of 6 keer met ‘n koevoet oor die kop te slaan is nie ‘n poging om iets te roof nie – dis om te moor. Dit is tyd dat misdadigers besef dat daar ernstige gevolge vir hul misdade gaan wees. Ligter aanklagte soos huisroof en diefstal is nie hier die antwoord nie, aangesien die regstelsel dan met ‘n moontlike skuldigbevinding ligte vonnisse sal oplê wat nie noodwendig as afskrikmiddel sal dien nie.
“En ons as gemeenskap moet saamstaan om hierdie euwel te beveg. Ons plaas se naam is Rus-en -Vrede en dis wat ons al vir 7 geslagte hier ervaar het. Die afgelope week se gebeure dwing ons om hieroor te praat en nie te maak of dit maar iets is wat gebeur nie. Ons kan nie aanhou om die ander wang te draai nie. My grootste vrees is om nou te sien dat dit met iemand anders ook gebeur, want ek het die trauma eerstehands ervaar. As ek en my vrou Michelle so daardeur geraak word, wil ek nie eers weet hoe my pa en ma getraumatiseer is nie,“ het Gideon, wie se oupagrootjie se broer, Paul Roos, op die plaas gebore is, vertel.
Gideon vertel at hulle die nag wakker geword het van die geblaf van hul ouers se honde. Kort daarna het hul eie skaaphond buite hul huis gegrom, iets wat net gebeur as daar vreemdelinge in die omgewing is.
“Ek het toe ’n oproep van TSU-sekuriteit gekry dat ek dringend na my pa se huis moes kom omdat hulle aangeval is. Die toneel wat ons daar begroet het, was afgryslik en iets wat mens nie eintlik wil sien nie. Personeel van TSU het toe reeds my ouers se wonde begin verbind en AM Security se beamptes was ook daar. Die ambulans van ER24 was gou op die toneel en kon my ouers na die hospitaal neem. Dieselfde kan gesê word van die Stellenbosch-polisie. ER24 se beamptes het ook ‘n berader vir ons voorgestel wat ons sedertdien bygestaan het. ”
Gideon vertel dat die rowers deur ‘n venster toegang tot die huis gekry het deur met stoele bo-oor die veiligheidstrale (beams) te klim om hul ouers in hul slaapkamer aan te val.
“Hulle het my pa en ma met pepersproei gespuit en aangerand en my ma later in die badkamer ingedruk waar sy haar kon toesluit. Sy het by die venster uitgeklim om ons te kom roep, maar ‘n ander rower het buite gewag en haar gewing om na die huis terug te keer – deur dieselfde venster wat hulle aanvanklik gebruik het. Sy kon egter die paniekknoppie druk wat die nooddienste en veiligheidsmaatskappy geaktiveer het. Die vinnige reaksietyd van TSU se spesiale taakmag en AM Security was uitstekend en ons is dankbaar dat hulle ons ouers ook kon bystaan met noodbehandeling,“ het Gideon gesê.
Uys van der Westhuizen, hoof van landelike veiligheid van AgriWes-Kaap, het gesê dat hy en Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Donderdag met Gideon Roos, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander rolspelers gaan vergader om die pad vorentoe te bespreek.
“Uiteraard wil ons onsself van die feite vergewis voordat ons enige verdere uitsprake maak. Dit is egter so dat daar landwyd ‘n opwelling van hierdie tipe inisdente is. Ons kon in hierdie stadium nog nie al die ander beweerde voorvalle in die Stellenbosch-omgewing bevestig nie, maar daar was wel nog een waarvan ons weet. Na ons vergadering Donderdag met die belanghebbendes, sal ons verdere strategieë bespreek en besluite oor die pad vorentoe neem. AgriWes-Kaap het staande prosedures oor optredes na sulke voorvalle, en ‘n vreedsame optog om bewustheid van die voorvalle te verhoog, is een daarvan en ook iets wat deur Gideon geopper is,“ het Van der Westhuizen gesê.
Lt.Kol Rene Matthee, woordvoerder van die Stellenbosse SAPD, het die voorval bevestig en gesê ‘n saak van huisroof word ondersoek en dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie. Indien enige persoon inligting het wat kan lei tot die arrestasie van die rowers kan ssers Jooste by 021 8099140 gekontak word.
