Op-en-wakker kuiers by Drostdyteater

Bekende kunstenaars maak draai op Stellenbosch
Die immer gewilde Drostdy-teater in die middedorp is tans en volle swang en ‘n hele reeks uithalervertonings wag op besoekers oor die volgende paar maande.
Hier is wat daar gaan gebeur. Maak seker om betyds kaartjies aan te skaf en bring sommer jou vriende saam.

Valentyn met Coenie de Villiers: Vrydag 14 Februarie 20:15,
“Wie kan my sê van die liefde?”

Coenie de Villiers

Coenie de Villiers keer vir Valentynsdag na die Drostdy-teater terug met ‘n program ter ere van die liefde – op die einste dag wanneer die liefde wêreldwyd gevier en besing word. Dis ‘n gepaste dag en kunstenaar vir ‘n konsert oor die liefde in al sy fasette.
Aanhangers van Coenie se werk ken hom as die skepper van van die mooiste liefdesliedere in Afrikaans. Uit sy pen en onder sy vingers vloei van die treffendste liriek en musiek oor die liefde, die liefde in al sy gedaantes. Daar is liedere wat wonder oor die aard van die liefde en komposisies wat die skoonheid daarvan besing. Maar dan is daar ook van die mees aangrypende werk in Afrikaans wat die verlies van liefde vasvang; wat sin maak van daardie ontwykende vlinder van geluk. In hierdie eenmalige Valentynskonsert delf Coenie de Villiers vir die eerste keer diep in hierdie liedereskat om sy liefdesliedere in ‘n enkele vertoning met ‘n gehoor te deel.
Kaartjies op Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1561722682

Nataniel in Concert met Charl du Plessis, Saterdag, 22 Februarie 19:00, Sondag, 23 Februarie 15:00.

Hierdie heerlike vroeg-in-die-jaar konsert bestaan uit splinternuwe stories in Nataniël se unieke styl, asook musiek, oud en nuut, bekend, immergroen en oorspronklik. Fantasie, humor, waarhede en wyshede, kwessies en kwellinge, vrae en antwoorde, al die elemente uit die Nataniël-skatkis word saamgebring. Hy deel die verhoog met Steinway-pianis, Charl du Plessis. Kaalkopwinkel in die foyer!
Kaartjies by webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1557114382
85 minute.
Geen pouse.
Geen kinders onder 14

Nathaniel kom Stellenbosse gehore vermaak.

In my eie woorde – ‘n Verhoog-memoir met Nic de Jager, Donderdag, 27 Februarie 19:00
Vrydag, 28 Februarie 19:00, Saterdag, 1 Maart 19:00, Sondag, 2 Maart 15:00

Stellenbosch se eie Nic de Jager.

Die geliefde radio-program Nic se Goed het allemans-eiendom vir Suid-Afrikaners geword. Maar dís die oortjies van die seekoei. Nic de Jager is ‘n geliefde media-ikoon. Sy innemende teenwoordigheid het deur die dekades ‘n veilige hawe geword teen die roesemoes van die wêreld.
En dan praat ons nie eens van sy ander bydraes in die rolprent- en televisie-wêreld of sy reuse-bydrae tot die musiek-bewussyn van ons land nie. Ná bykans 85 jaar lig Frederik Nicolaas de Jager die sluier om sélf te praat oor sy liefdes, sy ervarings, sy teleurstellings en suksesse. Gehore kry vir die eerste keer die geleentheid om die méns agter die stem te ontmoet. Hy is in eie reg ‘n verteller soos min, ‘n stylvolle raconteur wat nie skroom om die eerlike kollig waarvoor hy bekend is, hierdie keer op homself te rig nie.
Die grepe uit sy lewe is onthutsend eerlik en terselfdertyd diep roerend. Kom ontmoet die mens agter die mikrofoon, die akteur sonder die masker van ‘n karakter. Dis Nic de Jager op sy beste: eerlik, spitsvondig en wel-ter-tale – met ‘n sak wonderlike stories op die koop toe.
Kaartjies op Webtickets:
https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1562409118
Regie: Ingrid Howard
Geleentheidsmusiek: Coenie de Villiers
Konsep en inkleding: Ingrid Howard en Coenie de Villiers
Vervaardiger: Tale Be Told Productions
Beligtingsontwerp en projeksieontwerp: Loui Griebenouw
Verhoog-meublement: Cielo

Hooglied Bokkie,Vrydag, 14 Maart 20:15
Met Marthie Hauptfleisch en Bram Potgieter.

Marthie Hauptfleisch en Bram Potgieter.

Met oorspronklike liedjies en storievertelling delf Marthie in die kompleksiteite van liefde soos uitgebeeld in Hooglied, waar passie beide geestelik en fisies is, verlange onverskrokke is, en eenwording ‘n terugkeer na die paradys simboliseer. Die produksie nooi gehore uit om liefde as ‘n transformerende reis te herontdek – een wat kwesbaarheid, koestering en diep verbintenis omarm. Bram Potgieter tree op as pianis en musiekregisseur, en bring sy meesterlike talent om die musiek van die produksie tot lewe te bring. Sluit by ons aan vir ‘n onvergeetlike aand waar musiek, humor en poësie liefde in al sy fasette vier.
Kaartjies by Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1562414151

Rocco de Villiers in konsert,Vrydag, 28 Maart 20:15
Die gewilde pianis Rocco de Villiers, vermaak met ou gunstelinge Chariots of fire en Musicbox Dancer. Rocco se eie treffers, Liewe Hemel liewe Aarde, Kortbroek Langkouse, Kla1-kla2-kla3-kla4, een of twee tranetrekkers en natuurlik bietjie boeremusiek. Voeg daarby Rocco se sin vir humor, blink pak klere en jy het n warm vertoning. Goed ge-olie en goed geoefen.
Een Rocco, een klavier, een pak klere, maar soveel meer…
Kaartjies by Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1562424713

Die enigmatiese Rocco de Villiers.

Marc Eugene Lottering, Friday, 16 May 20:15, Saturday, 17 May 20:15
Marc Eugene Lottering is Marc Lottering’s newest solo show. In this show Lottering shares personal stories with the audience that he has never shared before. This critically acclaimed show enjoyed sold out seasons in Joburg and Cape Town, with many fans claiming that this is the best Lottering offering yet.
MARC EUGENE LOTTERING is not suitable for children.
No under 16.
Tickets at Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1562775336

Marc Lottering – die enigste van sy soort.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!