Gesoek: Afrikaaps se “vermiste” skeppende tekste
Daar word tans gesoek na bestaande skeppende tekste in Kaaps of Afrikaaps. Dit sluit gedigte, opnames van “spoken word poetry” en TikTok-gedigte, kortverhale, boeke, radio- of televisiedramas of musiek in.
Dié werke word ingesluit in ‘n omvattende gratis elektroniese internasionale databasis van onderverteenwoordigde Afrikatale. Dit vorm deel van die African Literary Metadata-inisiatief (ALMEDA), vertel ALMEDA-genoot dr Riaan Oppelt, ʼn dosent in die departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch (US).
ALMEDA is ʼn projek van Uppsala Universiteit in Swede, en word deur die Europese Navorsingsraad befonds. Daardeur word ʼn soekbare metadata databasis saamgestel van skeppende tekste in verskillende minder ontginde Afrika-tale, soos Swahili, Shona en Sheng (‘n hibriede taal wat in Nairobi in Kenia en dele van Tanzanië gepraat word). Sodoende word skeppende werke in sulke tale meer toeganklik en vrylik beskikbaar vir navorsers, ander skeppendes en die publiek om te gebruik.
“Vermiste” tekste
Oor die insluiting van kreatiewe tekste in Afrikaaps of Kaaps in die groter ALMEDA-projek sê Oppelt: “Afrikaaps het in onlangse jare danksy die werk van talle kunstenaars en akademici heelwat meer erkenning as voorheen verkry. Dit word deesdae in heelwat meer boeke, digbundels, films, televisiereekse en musiekproduksies gebruik as ooit tevore. Dis daarom goed om nou ʼn rekord op te bou van wat reeds alles in verskillende mediums beskikbaar is.”
Hy verduidelik verder: “Heelwat gepaste tekste word steeds net geklassifiseer of gelys onder Afrikaans. Dit maak hulle moeilik om op te spoor, veral vir ʼn gehoor buite Suid-Afrika wat deur internasionale katalogusstelsels werk wat nog nie Afrikaaps of Kaaps as spesifieke soekopsie of metadata ‘tag’ bied nie.”
Oppelt stel egter nie net in hedendaagse tekste belang nie, maar ook in sogenaamde “vermiste” werke uit vervloë dae wat tot dusver onder die radar gebly het. Daarom is hy tans besig om plaaslike argiewe te deursoek vir moontlike leidrade na gepaste tekste.
Hy het al onder meer afgekom op kortfiksie in tydskrifte uit die 1950s – gevind in die argiewe van die NG Kerk waarin karakters Afrikaaps praat: “Dit is na alle waarskynlikheid nie geskryf deur mense wat op daardie stadium self Afrikaaps gepraat het nie. Tog is sulke tekste steeds waardevolle verwysingsbronne, wat hopelik ʼn goeie aanduiding bied van die woordeskat van destydse Afrikaapse sprekers.”
ALMEDA-projek
Oppelt het Uppsala Universiteit einde verlede jaar besoek, en onder meer ʼn lesing oor sy werk vir Afrikaaps as deel van ALMEDA gelewer. Hy is sedert 2022 betrokke by die groter ALMEDA-projek nadat hy vir projekhoof prof Ashleigh Harris ontmoet het toe dié Zimbabwies-gebore dosent van Uppsala Universiteit op besoek aan die Universiteit Stellenbosch was. Hy sê hy bly beïndruk oor haar passie vir Afrikatale.
Harris, wat reeds die afgelope 20 jaar in Swede werk, verduidelik die motivering agter die ALMEDA-projek so: “Ja, mens kry Engelse vertalings van ʼn paar skrywers uit Afrika, soos Chimamandu Ngozi Adichie, NoViolet Bulawayo en Abdulrazak Gurnah. Die meeste materiaal in Afrikatale- en dialekte word egter bitter selde vertaal. Sulke tekste word meestal net plaaslik gebruik en geniet. Vir baie mense in Afrika is boeke eenvoudig te duur, en daarom geniet hulle in hul vrye tyd eerder informele, nie-winsgedrewe en dikwels vlietende werke, soos ‘spoken word poetry’, straatteater, radiodramas en verskillende aanlyn. Die ALMEDA-projek is besig om sulke werke saam ʼn ineengeskakelde databasis of bewaarplek te katalogiseer en te lys, om sodoende hul bestaan te erken. Die vrye toegang tot hierdie inligting maak dit vir belangstellendes makliker om sulke werke op te spoor.”
Om gepaste tekste voor te stel of om meer uit te vind oor die projek, kontak dr. Riaan Oppelt by roppelt@sun.ac.za