Eerste raakrugby-toernooi groot sukses
AfriForum Jeug se raakrugbydag op 15 Februarie op die Middelvlei-wynland, het honderde studente van Universiteit Stellenbosch gelok en ’n sterk gees van samehorigheid en kampusbetrokkenheid geskep.
Dertien spanne het aan die raakrugbydag deelgeneem, waaronder nege mansspanne en vier gemengde spanne. Elke span het minstens drie wedstryde gespeel voordat hulle na die halfeind- en eindrondes kon deurdring.

Die doel van die raakrugbydag is om ’n veilige sosiale omgewing vir studente te skep. Dit is deel van AfriForum Jeug se breër visie om studentebetrokkenheid en -gemeenskap te bevorder en versterk.
“Ons is trots om hierdie inisiatief op Stellenbosch aan te bied. Die positiewe reaksie en groot bywoning bewys dat studente na geleenthede soek om op ’n gesonde en veilige wyse sosiaal by te verkeer,” sê Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se beampte vir ontwikkeling.

Die organisasie het groot pryse beskikbaar gestel om studente aan te moedig om deel te neem en ’n positiewe kampuskultuur te bou. Studenteplein 1 het as wenspan weggestap met R10 000, terwyl die naaswenners, Kalahari Ferrari, R8 000 gewen het. Studenteplein 2 het derde geëindig en R5 000 ontvang. Die span wat die meeste gees gewys het, VBHK, is met ’n spesiale prys van R2 000 beloon.