HS Stellenbosch se nuwe tartan-atletiekbaan ʼn visie vir toekoms

Nuwe baan simboliseer hoop
Hoërskool Stellenbosch (HSS) het onlangs met trots die opening van sy splinternuwe tartan-atletiekbaan gevier. Dit is ‘n wêreldklas-fasiliteit wat nie net die skool se atlete bevoordeel nie, maar ook ʼn groot rol speel in die ontwikkeling van talentvolle jong sportsterre uit die breër Wes-Kaap.
Die atletiekbaan is amptelik op Woensdag, 5 Maart bekendgestel met ʼn opwindende atletiekprogram waaraan verskeie Afrika-kampioene en Olimpiese-medaljehouers deelgeneem het. Onder andere was Prudence Sekgodiso, Akani Simbine, Jo-Ané du Plessis en Miré Reinstorf in vertoon-wedlope in askie.
“Hierdie baan is ʼn mylpaal vir sportontwikkeling en die resultaat van ʼn visie om atletiek en fietsry op ʼn internasionale standaard in Suid-Afrika te bevorder,” sê Theo Pellissier, HSS-skoolhoof.
Die vennootskap tussen Hoërskool Stellenbosch en die Athletics & Cycling Trust (ACE Trust), is moontlik gemaak deur die inisiatief en bekendstelling van die Olimpiese silwermedaljewenner, Elana Meyer.
“Die baan spog met die nuutste Wawelight-tegnologie – vir pasaangee-doeleindes – en is die eerste van sy soort in Sub-Sahara Afrika. Die baan, wat ook spog met Swiss Timing elektroniese tydhousisteem, is ‘n vlak twee-geregistreerde baan by Wêreld Atletiek. Daarbenewens maak sy ligging hom ook uniek en spesiaal – bes moontlik een van die mooiste bane in die wêreld,” voeg Pellissier by.
Geleentheid
“Elke atleet verdien ʼn kans om hul volle potensiaal te bereik, ongeag hul agtergrond. ACE Trustees het my persoonlik genader om hul beursprogram na die suide uit te brei, en ek het dadelik geweet dit kan ʼn verskil maak,” verduidelik Meyer. “Ons het begin met 18 atlete wat in die eerste jaar beurse ontvang het. Dit het gegroei tot 28 in die tweede jaar, 45 in die derde, en in die vierde jaar het ons selfs fietsry by die program gevoeg.”
Met hierdie uitbreiding het ʼn ooreenkoms met HSS gevolg om toegang te gee aan 100 leerders wat met beurse by Hoërskool Stellenbosch skool- en tuisgaan. Dit is ondersteun deur ʼn beduidende belegging in infrastruktuur, insluitend die nuwe tartanbaan, wat verseker dat atlete van wêreldgehalte die fasiliteite kan gebruik.
Stellenbosch ACE
Stellenbosch ACE, ‘n onderafdeling van die ACE Trust, is gestig om hierdie program professioneel te bestuur en die atlete die beste moontlike ondersteuning te bied. Die program werk met ʼn span wêreldklas afrigters, insluitend Zola Budd Pieterse, Nolene Conrad, Alroy Dixon, Marcello Pienaar, Nicolene Cronje, Heinrich Fortuin, JP van As (afrigting), Conrad Stoltz (fietsry) en Jacques J van Rensburg (kondisionering). Daarbenewens word ʼn akademiese oorbruggingsprogram onder leiding van Tessa Crafford aangebied, om te verseker dat atlete ook akademies floreer.
“Ons is besonders trots op een van ons atlete, Wiaan Martin, wat reeds groot hoogtes bereik het. Hy het verlede jaar in die VSA begin studeer en het pas die 400m NAIA-binnenshuise kampioen geword,” vertel Pellissier met trots.
Helderder toekoms
Die tartanbaan is nie net ʼn dinamiese toevoeging tot Hoërskool Stellenbosch se sportfasiliteite nie, maar ook ʼn katalisator vir talentontwikkeling in die breër gemeenskap. Die eerste Talent ID-roadshow, ‘‘n inisiatief van die ACE Trust, het reeds 13 klein dorpe besoek om belowende atlete te identifiseer, en die program het reeds 73 atlete en fietsryers op beurse.

Die nuwe ultra-moderne tartanbaan by die Hoërskool Stellenbosch.

“Hierdie baan simboliseer hoop en moontlikhede. Dit gaan nie net prestasie verbeter nie, maar ook deure oopmaak vir kinders wat andersins nie die geleentheid sou kry om hul volle atletiek-postensiaal te ontwikkel nie,” sê Meyer. “Ons sien uit na die ongelooflike prestasies wat uit hierdie program gaan voortvloei.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!