Kaapse Vonkel steeds een van die bestes
“Ek is só ongelooflik trots om te sien hoe daardie eerste klein treetjie van my pa, Frans, se Kaapse Vonkel só ver gevorder het dat sowat 200 wynkelders in Suid-Afrika nou Cap Classique produseer,” sê Johan Malan, wat onlangs aangewys is as die Diners Club Wynmaker vir die Jaar 2020, vir die Kaapse Vonkel 2015. Hierdie ikoniese Cap Classique vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar.
Suid-Afrika se heel eerste Cap Classique – die ikoniese Simonsig Kaapse Vonkel – vier vanjaar sy 50ste verjaardag. Die mylpaal herdenk ook die land se Cap Classique-kategorie, wat plaaslik en oorsee dié ambassadeur vir Suid-Afrikaanse wyn uitmuntendheid geword het.
Kaapse Vonkel is in 1971 op Simonsig uit die passie en deursettingsvermoë van die Malan-familie patriarg, Frans Malan, gebore. Sedertdien het Simonsig en die Malans hierdie pioniersgees trots voortgesit en Kaapse Vonkel tot ’n internasionale kwaliteit-maatstaf én vaandeldraer vir Suid-Afrikaans gemaakte, bottel-gegiste vonkelwyn, beter bekend as Cap Classique, ontwikkel.
Om hierdie reuse-geleentheid te vier, maak Simonsig ’n dramatiese nuwe vrystelling. Vandeesmaand stel hulle die Kaapse Vonkel met splinternuwe verpakking én ’n nuwe spog-voorkoms vir die Kaapse Vonkel Satin Nectar en Satin Nectar Rosé, vry.
“Ek is ook trots dat internasionale gesaghebbende wynliggame gereeld die uitmuntende kwaliteit van die hele kategorie erken.”
Johan is opgewonde dat al meer Suid-Afrikaners Cap Classiques ontdek en geniet. “Dis ’n leefstyl-wyn en pas perfek by die moderne wyndrinker. Dit is vars, lewendig, verfrissend, elegant, stylvol en plaas jou in ’n goeie bui. Dit is die veelsydigste wyn – van ontbyt tot middernag!”
Dit is in hierdie gees wat die Kaapse Vonkel Satin Nectar se nuwe verpakking ’n opwindende nuwe tree gee. Dit is ’n kleef-omhulsel, wat met helder onmiskenbare ikone uit die Kaapse blommeryk versier is. Dit verteenwoordig ’n vars, joviale en lewendige aanslag, wat die gees van Afrika-herlewing en sy kreatiewe- en vreeslose mense verheerlik. ’n Spesiale neketiket lig die 50ste herdenkingsjaar uit.
Frans Malan het die eerste bottel-gegiste méthode champenoise wyn in Suid-Afrika gemaak, in ’n stadium toe vonkelwyn meestal uit gekarboneerde en veral soet produkte bestaan het. Hy was ook een van die drie stigters van die wynroete-konsep en Stellenbosse wynroete in Suid-Afrika.
Hy het in 1968 pas begin om Simonsig-wyne onder sy eie etiket te bottel, toe ’n reis na Frankryk sy belangstelling in sjampanje geprikkel het. Terug by die huis, het hy aan die werk gespring en die eerste, plaaslik-vervaardigde, bottel-gegiste vonkelwyn het in 1971 die lig gesien. Dis van cenin blanc gemaak, want dit was al wat hy tot sy beskikking gehad het.
Soos met enige pionierswerk, was Frans se reis alles behalwe maklik. Daar was onder meer geen plaaslik-vervaardigde pupitres – ’n spesiale rak wat die bottels in ’n afwaartse posisie hou vir die draaiproses – beskikbaar nie. ’n Skrynwerker is gevra om dié rakke te maak. Die resultaat was ’n baie lamlendige spinnekopagtige rak, maar dit het die taak gedaan gekry.
Vele ander uitdagings is mettertyd oorkom. Natuurlik het wynliefhebbers ook opvoeding oor hierdie nuwe produk op die Suid-Afrikaans wynlandskap geverg, want Kaapse Vonkel was toe baie droog en teen R3 per bottel, die duurste wyn in Suid-Afrika.
Elke bottel het ’n pamflet met foto’s wat die prosesse betrokke om die wyn te maak, illustreer, bevat. Die etiket het verdere fokus geplaas deur die woorde: “In HIERDIE bottel gegis”.
Dit was Frans se droom dat die wyn ook oorsee uitblink en hy het voortdurend gereis om hierdie doel te bereik. Die vloedgolf het in 1995 gevolg, toe die International Wine Challenge Kaapse Vonkel die “Koningin van Witwyn” noem. Vele ander toekennings volg in die jare daarna.
Die wyn het ook ’n reeks Cap Classiques voortgebring, wat saam met die res van die volledige portefeulje, voortdurend plaaslike- en internasionale lofprysinge laat instroom.
Dit was Frans se wynmaker-seun, Johan, wat in 1987 vir die eerste maal Pinot Noir en Chardonnay gebruik het, om Kaapse Vonkel te maak. ’n Dekade later is Pinot Meunier bygevoeg.
Johan het in 1988 die organisasie wat later die Cap Classique Produsente Assosiasie sou word, begin. Hy is ook die stigtingsvoorsitter. Saam met ander produsente het hulle die nuwe benaming – Méthode Cap Classique – die tradisionele produksiemetode in Suid-Afrika, gevestig.
Ander hoogtepunte op die Kaapse Vonkel-reis sluit onder meer in:
- In 1999 stel Simonsig Cuvée Royale, ’n wyn van die 1991-oejsaar, vry. Die wyn word net van uitsonderlike oesjare vrygestel;
- In 2006 sien die Brut Rosé die lig – ’n wyn wat Pinotage en Pinot Noir as basis het;
- ’n Dekade later word Kaapse Vonkel Demi Sec bekend gestel en
- In 2019 word Kaapse Vonkel Satin Nectar Rosé vrygestel.
Met die terugkyk op die handelsmerk se 50 jaar herdenking, sê Johan wat vir hom die meeste uitstaan, is hoe die leerproses steeds voortgaan. “Ons sien steeds hoe ’n skynbaar klein onbenullige detail, jare later ’n reuse verbetering tot gevolg kan hê.”
“Gelukkig maak ek al vir 39 jaar Kaapse Vonkel en ondervinding bring baie waarde. Ek het besef watter ongelooflike bydrae Chardonnay maak en nog meer as dit die Chardonnays van Simonsig se eie wingerde is.
“Die grond is verweerde skalie en hierdie cuvees is ongelooflik intens en kragtig, maar steeds pragtig elegant. Chardonnay sal in die toekoms selfs nog ’n groter rol in Kaapse Vonkel speel. Om dit moontlik te maak, sal die wyn langer moet verouder. My langtermyn ideaal is dat dit drie jaar op die moer lê, voor degorgement,” sê Johan.
“Tans is ons gemaklik tussen 15 en 18 maande.”
Kaapse Vonkel is nie net ’n versnit van drie verskillende druiwekultivars nie, maar ook van vrugte uit ander streke waaronder Darling, Elgin en Firgrove, wat almal bekend is vir hul koel-klimaat en Robertson Chardonnay, wat in kalkryke grond groei.
“Elke verskillende bron bring iets uniek en voeg boustene vir die finale cuvée by en dis waar die groter kompleksiteit vandaan kom,” sê Johan en voeg by dat die koeler streke ook oplossings sover dit klimaatsverandering betref, inhou.
“Ons kyk ook na die moontlikhede wat ander kulitvars soos pinot blanc bied, veral vir die goeie natuurlike suur waaroor dit beskik.”
“Die lang, moeilike pad is steeds die beste weg!”
Hierdie filosofie word ook onderskryf deur Michael Malan, die derde geslag Malan wynmaker by Simonsig, wat nou aan hoof staan van die rooiwyn-afdeling; en Charl Schoeman, wat verantwoordelik is vir Simonsig se Cap Classiques en witwyne.
Oor vanjaar se oes sê Charl: “alles het net mooi bymekaar gekom. Ons het goeie winterreën en gunstige klimaatstoestande gehad, en daarmee saam ’n positiewe-, energieke span wat oorgehaal is om hierdie 50ste herdenkingswyn onder die bestes te plaas.”
Hy sê die druiwe is baie gesond en met ’n effens kleiner oes as die vorige jaar, sal die geure en konsentrasie baie goed wees.
“Ons het onlangs ’n nuwe klei amfora gekoop en sien uit om die wyn daaruit te proe. Ons het ook met Pinot blanc begin werk en die resultate is fantasties. Ons is opgewonde om hierdie ’n addisionele komponent vir ons Cap Classique-versnit te maak,” sê hy.
Die Kaapse Vonkel Satin Nectar en Satin Nectar Rosé is tot 1 Maart 2021 eksklusief by Woolworths beskikbaar en daarna is hierdie wyne en ander – insluitend groot bottels en ouer oesjare – by die aanlynwinkel by www.simonsig.co.za asook by meeste handelaars te koop.
Die wynkelder is op die Kromme Rheepad, Koelenhof, Stellenbosch, geleë.