Is aksynsverhoging die Coup de Grasse vir SA-wynbedryf?

Aksysnverhoging nekslag vir wynbedryf

Die aksynsverhoging wat deur nasionale tesourie ingestel is, sal heelwat wynbesighede ʼn finale nekslag toedien en die ekonomiese herstel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf verder kniehalter.

Tito Mboweni, minister van finansies, het vandag tydens die nasionale begrotingsrede ʼn aksynsverhoging van 8% aangekondig vir wyn, vonkelwyn en brandewyn.

“Hierdie volg op die rug van ʼn 16% loon- én 15% elektrisiteitsverhoging wat op plaasvlak geabsorbeer word. Ons is uiters teleurgesteld dat die regering weer eens nie gehoor gegee het aan die pleidooi van ons bedryf nie,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

“Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met die tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk en versoek dat aksynsbelasting met nie meer as 50% van die verbruikersprysindeks (VPI) gelig word nie.

“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf tans is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die hoër as verwagte aksynsverhoging doen afbreuk hieraan en kan heelwat besighede wat reeds op hul knieë is ʼn finale nekslag toedien, wat sal bydrae tot die alreeds groot aantal werksverliese én die sosiaal-maatskaplike uitdagings in hierdie gemeenskappe vererger.”

Die realiteit is dat die aksynsverhogings nie noodwendig die verbruiker se sak raak nie, maar afgewentel word na wyndruifprodusente. Voor die loon-, elektrisiteit- en pas aangekondigde aksynsverhoging het die regering R10.04 uit aksynsbelasting en BTW verdien van ʼn gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop, teenoor die wyndruifprodusent wat ʼn netto boerdery-inkomste van 77c per bottel verdien.

  • Intussen het Agri Wes-Kaap ook sy teenkanting teen die aksynsverhoging laat hoor.

“Uit die minister van finansies se begrotingsrede wat vandag gelewer is, is dit duidelik dat kommersiële landbouers nie op veel regeringsteun kan staatmaak nie. Die las op kommersiële produsente is inteendeel verhoog met onder meer die aankondiging van ‘n 8% styging in aksynsbelasting op alkohol en tabak, ‘n 27 sent per liter styging in die brandstofheffing en geen droogtehulp aan die sektor nie. Daar is min in Mboweni se begrotingsrede wat positief vir kommersiële landbou is en sy toespraak het bevestig die land se finansies is in ‘n benarde posisie,” sê die organisasie in ‘n verklaring.

“Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met Tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk,” Rico Basson.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!