Cofee Snobs se nuwe enkelsnit praat oor kindwees en ouerliefde
Wanneer jy die lekkerluisterwysie en hoendervleismooi lirieke van die Huisgenoot Tempo-benoemde du, Coffee Snobs, se nuwe enkelsnit hoor, verstaan jy onmiddellik hoekom hulle so gewild is onder Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers.
Branderkind, wat gaan oor hul seuntjie en die see, is ’n goedvoel-kontemporêre snit wat dit regkry om die sorgvryheid van kindwees, asook onvoorwaardelike ouerliefde, perfek vas te vang.
“Ek is baie lief vir die see, dit is my gunsteling deel van die skepping en ek voel geanker hier. Al voel dit of die wêreld inmekaar tuimel (soos die laaste jaar) kry ek altyd nuwe perspektief en hoop bloot net deur vir die see te kyk of my tone in die water te sit,” vertel Vernette Wessels, die Eva van die groep en skrywer van die enkelsnit. “My seuntjie deel hierdie liefde en dis so wonderlik om te sien hoe die energie deur hom bruis as ons op die strand of in die water is. Ek weet die see sal altyd deel van hom wees en ’n plek waar hy kan vry wees om voluit te leef!”
Die musiekvideo wat ook pas bekendgestel is en deur Luc Prinsloo vervaardig is, is in Mosselbaai verfilm en sluit aan by die tema van die lied. Dit vertel die storie van ’n branderplankryer wat van kleins af lief was vir die see en hoe hierdie liefde verdiep soos wat hy ouer word. “Ons seuntjie, Matthias, en drie van ons vriende, FJ Lombaard, Wulf Erhardt en Wade Shaw, is in die video te sien,” deel sy. “Die boodskap wat ons graag hiermee wil uitdra is dat ’n mens dit wat mooi en goed is in jou eie lewe moet waardeer en dat jy moet doen waarvoor jy lief is.”
Branderkind is hulle vierde enkelsnit en volg in die voetspore van hul vorige vrystelling, Sal Jy, wat baie goed ontvang is, asook ’n baie suksesvolle tweede album – Lig – wat vir ’n Tempo-toekenning benoem is.
Coffee Snobs, wat bestaan uit die getroude paartjie, Marius en Vernette Wessels, is in 2012 gestig en hulle liefde vir mekaar en musiek is tasbaar in elke verhoogoptrede en musiekopname.
Marius was nog altyd mal oor konsert hou en al was hy nog altyd ’n bietjie skaam, is daar nêrens anders waar hy eerder sou wou wees as met sy baskitaar op die verhoog nie. Hy het in Groblersdal grootgeword en kom uit ’n baie musikale gesin. Akoestiese musiek was nog altyd sy gunsteling en hy verklap dat hy graag ’n vlieënier sou wou wees as hy ’n ander werk moes kies. Dié talentvolle musikant glo dat niks wat die moeite werd is ooit maklik is nie en het nog altyd hard gewerk vir wat hy in die lewe wil bereik.
Vernette het in Pretoria grootgeword en was van kleins af besig om te sing of klavier te speel. Hierdie ma van twee is al vir een-en-twintig-jaar in die musiekbedryf doenig en het vroeg al geleer dat dit nodig is om goeie balans in die lewe te handhaaf. Sy is mal oor die buitelewe, geniet ’n wye verskeidenheid musiek en verklap dat kunstenaars soos Elvis Blue, Jack Johnson en Laurika Rauch die grootste invloed gehad het op haar eie musiekstyl.
Hierdie veelsydige musiekpaar van Mosselbaai, wie se verhoognaam gebore is uit hulle gesamentlike liefde vir goeie koffie, het aanvanklik net vir die pret begin optree. Positiewe terugvoer van radiostasies en luisteraars het hulle egter geïnspireer om die saak met meer erns te benader.
Hulle spog met ’n indrukwekkende arsenaal oorspronklike musiek, wat hoofsaaklik gebaseer is op hulle eie lewenservaringe, en vind aanklank by kunstenaars wat betekenisvolle musiek skep.
Oor die jare het hulle die voorreg gehad om die verhoog te deel met verskeie groot name in die bedryf en was hulle ook deel van ’n musiekproduksie, Donkernag Pantoen, wat deur Riana Scheepers geskryf is.
Tans werk hulle aan nog twee enkelsnitte wat hulle graag nog in 2021 wil vrystel, asook ’n nuwe produksie wat hulle graag by 2022-feeste wil opvoer.
Coffee Snobs glo dat baie ouers sal aanklank vind by hulle nuutste enkelsnit, Branderkind, en hoop dat dit werklik ’n positiewe impak op luisteraars sal hê.
Die liedjie is aanlyn beskikbaar.