Hulp vir eie gemeenskap
Elsabe Retief
Die e’Bosch-projek bring elke jaar hulde aan onbaatsugtige Stellenbossers wat gereeld en sonder verwagtinge na die gemeenskap uitreik. Hier is nog een:
In Kayamandi ken almal die Viviers-gesin. Karin Viviers en haar man Jan het meer as twee dekades gelede hul intrek in Kayamandi geneem waar hulle ingeburger geraak en uitgereik het na die gemeenskap. So veel te meer in die grendeltyd, toe werk toe gaan onmoontlik was en daar baie honger mae was om te vul.
Karen en haar bure het besluit om Makro toe te gaan en voedsel soos vleis en bederfbare produkte grootmaat aan te koop.
“Ons het juis gekonsentreer op voedsel wat nie ingesluit was nie by die kospakkies wat uitgedeel is,” het sy vertel.
“Ons het ook as fasiliteerders opgetree en gemeenskaps- en kerkorganisasies bygestaan en geadviseer wat hier ‘n verskil wou maak aan die honger wat die pandemie se grendeltyd teweeggebring het. So ook het Hill Song se barmhartigheidsafdeling hier pakkies uitgedeel aan mense wat kom vra het.”
Karen is vol lof vir donateurs wat bydraes gelewer het om die behoefte aan kos in Kayamandi en ander gemeenskappe aan te spreek. ‘n Boer het vragmotorsvol suurlemoene vol vitamiene C – dit was ‘n besondere vrugbare sitrusseisoen vanjaar – in Kayamandi afgelewer wat onder die gemeenskap uitgedeel is.
‘n Vervaardiger van mageu, ‘n tradisionele drankie gemaak van gefermenteerde mieliepap, het duisende liters daarvan geskenk, wat Karen en ander vrywilligers weer by onder meer crèches uitgedeel het. Hierdie nie-alkoholiese drankie is baie voedsaam en boonop gefortifiseer met vitamiene.
Die voedingspakkies met rys en mieliemeel wat in die gemeenskap uitgedeel is, het egter elektrisiteit nodig gehad om die produkte gaar te maak. Ook hier het die Viviers-gesin gehelp deur vir mense krag te koop asook data vir hoërskoolleerders. Hulle het ook modems gekoop en aan studente beskikbaar gestel. Finansiële hulp is boonop aangebied aan inwoners om hulle met die betaling van skoolfonds by te staan.
Daar is baie dankbare harte in Kayamandi vir mense soos die Karin en Jan en hul medevrywilligers wat uitgereik het na hul gemeenskap en hul lot verlig het en steeds doen in ‘n baie donker tyd.