Laai die batterye met Franschhoek se misterienaweke
Die afgelope jaar of so was veeleisend vir almal, maar daar’s ’n goeie manier om van die stres ontslae te raak en die batterye weer te laai. Gaan geniet ’n ontspanne wynlandwegbreek waar alles vooraf gereël is en jy net kan terug sit, figuurlik gesproke, en alles geniet.
Franschhoek se gewilde misterienaweke is terug en weer eens vol belofte van verrassings, ontspanning en suiwer genot. Die naweke sluit al Franschhoek se juwele in, van luukse-verblyf en bekroonde wyne tot fynproewerkos en heerlike ervarings.
Sedert die misterienaweke se ontstaan in 2012 het meer as 2 000 mense reeds daarvan gebruik gemaak en dié Bolandse dorp en sy prentjiemooi vallei besoek. Hierdie streek is per slot van sake een van Suid-Afrika se gewildste en beste reisbestemmings.
Franschhoek se misterienaweke pas paartjies wat wil ontsnap van die daaglikse geharwar soos die spreekwoordelike handskoen. Wat die naweke selfs nog gewilder maak, is die feit dat gaste niks hoef te bespreek nie aangesien alles vir hulle gereël word.
Die naweek skop af met ’n eksklusiewe (en onkonvensionele) inbespreking vir al die gaste. Met ’n glas wyn in die hand word daar gemeng voordat gaste hul spesiale misterienaweekboks oopmaak. Die boks bevat al die besonderhede van waar gebly word, waar geëet word en wat ervaar gaan word, insluitende ’n prettige, informele aand waartydens almal in die vallei verwelkom word in egte Franschhoek-styl. Alle Covid-19-protokols sal die hele naweek geld.
Hoewel die meeste van die naweek vooraf beplan is, sal daar genoeg tyd wees om rond te loop en al die dorp se aanbiedings te ervaar, insluitende die plaaslike mark, kunsgalerye, sjokoladewinkels en boetiekwinkeltjies.
Gaste kan kies tussen twee fabelagtige pakkette wat volgens die verblyf ingedeel is.
Ultimate (R8 150 per paartjie)
Die crème de la crème van verblyf in die vallei.
Superior (R5 800 per paartjie)
Stylvolle boetiekhotels en gastehuise.
Die koste per paartjie sluit die volgende in:
- twee nagte se verblyf
- ontbyt daagliks
- aandete Vrydag en Saterdag
- ’n ligte middagete Sondag
- ’n keur van prettige Franschhoek-ervarings wat by inbespreking bekend gemaak sal word en beloof om onvergeetlik te wees.
Die bevestigde datums vir vanjaar se Franschhoek-misterienaweke is 25 tot 27 Junie, 30 Julie tot 1 Augustus en 27 tot 29 Augustus. Bespreking vir al drie naweke is reeds oop. Moenie gras onder jou voete laat groei nie want die misterienaweke verkoop soos soetkoek .Vir enige navrae of om te bespreek, kontak Carmen Arendse by mysteryweekend@franschhoek.
Terme en voorwaardes
- tariewe is vir twee mense wat die naweek deel
- volle betaling bevestig die bespreking
- nie oordraagbaar nie en geld is nie terugbetaalbaar nie
- geen kinders of kleingoed
- sluit vervoer en vlugte uit
- verblyf, maaltye en aktiwiteite is nie oordraagbaar
- indien die organiseerders ’n naweek moet afstel weens inperkingsregulasies het gaste die opsie om geld wat reeds betaal is, oor te dra na ’n alternatiewe Franschhoek-misterienaweek, of hulle kan hul geld terug vra minus ’n administrasiefooi van R500.