Twee nuwe adjunkrektore by PRG
Twee nuwe adjunkrektore se aanstelling by Paul Roos Gimnasium is pas deur die rektor en voorsitter van die beheerliggaam bevestig.
Gwen Olivier se aanstelling, met ingang 1 Oktober 2021, as opvolger van wyle Werner van Rensburg, is deur die WKOD bekragtig. Olivier is in Januarie 2006 by Paul Roos Gimnasium aangestel en is sedert 2012 interne adjunkrektor. Volgens die rektor, Van Staden, is haar aanstelling `n bewys van die hoogstaande gehalte van die onderwysers by Paul Roos Gimnasium.
Volgens Olivier is dit vir haar ‘n voorreg om voort te bou op die positiewe leiding en leierskapontwikkeling onder die bekwame leiding van die rektor.
AC Blume is deur die beheerliggaam, met ingang Januarie 2022, as interne adjunkhoof na `n volledige aanstellingsproses aangestel.
Blume het in Cradock grootgeword en verwerf sy onderwyskwalifikasies aan die NMMU waar hy ook `n honneursgraad in onderwysbestuur verwerf. Hy is tans departementshoof vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal by Hilton Kollege in KwaZulu-Natal. Hy is ook lid van die bestuurspan van sy huidige skool en dien as voorsitter van die koshuiskomitee.
As ervare rugbyafrigter spog hy met die toekenning vir voorspelerafrigting vir die Sharks se o.18-Cravensweekspan van 2017 tot 2019.
Volgens Blume is hy bevoorreg en geëerd om by so `n beroemde instelling soos Paul Roos Gimnasium aangestel te word en is dankbaar teenoor die beheerliggaam vir die vertroue in hom. Hy beklemtoon dat hy daarna uitsien om die personeel, leerders en skoolgemeenskap van Paul Roos Gimnasium te dien.
Paul Roos Gimnasium verwelkom graag vir hom en sy eggenote, Kirsty, in Stellenbosch en sien daarna uit om sy kennis en ervaring van die etos en atmosfeer van `n seunskool na Paul Roos Gimnasium te bring.
Beide Olivier en Blume sal `n belangrike rol speel in die handhawing van die hoë akademiese standaard en uitgebreide buite kurrikulêre program in Paul Roos Gimnasium.