Sisulu kan gesien word as ‘n papagaai vir Comrade Lenin se imperiale werkersparadys
Jannie Gagiano
Mens is nie seker waarom Lindiwe Sisulu se kritiese beskouinge oor die in- en uitwerkinge van die toepassing van beginsels van ‘n liberale grondwetlike regime op die bestuur van landsake in Suid-Afrika as so vreemd veroordeel word nie.
Konstitusionalisme as ‘n leerstelling en as ‘n program vir die skepping en vestiging van legitieme en doeltreffende institusionele politieke bestuursmeganismes in moderne samelewings het ‘n lang en eerbare reputasie in westerse ontwikkelde lande.
Maar dit is ook die broerskind en begeleidingsverskynsel van die opbou en vestiging van kapitalisties georganiseerde ekonomiese produksiestelsels op die planeet. So, as jy kapitalisme verag. dan verag jy sy tweelingboetie of wat jy beskou as sy tweelingboetie, ook. En as jy jou veragting in ‘n ideologiese werklikheidsvoorstelling wil begrond en jou minagting uiting wil gee in die vorm van die revolusionêre bestryding van wat jy beskou as die euwels van kapitalisme, dan is Sowjet Bolshevisme die uitsoekkerk waar jy kan aantree om die blye boodskap aan te hoor. Of die preekstoel waarvandaan jy die revolusionêre verlossingsboodskap gaan verkondig.
Die ANC het nog altyd voor die val van die muur ‘n intieme hand-op-die-blaasverhouding met revolusiestokers in Moskou gehad en ooreenkomstig die hoofelemente van die verlossings- kategisme wat in die heilige skrif van die Bolsjevisme vasgelê is, hulle eie gemaak.
Die loog waarin hulle oortuiginge gedompel is in ‘n post Sowjet-wêreld en na amper dertig jaar van daadwerklike landsbestuur, het nou wel ‘n klomp gate gevreet in die geloofskombers, maar daar is nog baie wat kaalvoet oor die Drakensberge sal loop om die tien gebooie van “the movement” te beskerm.
Die basisdokument waarin hierdie ideologiese verbetenheid gesetel is, bly die leerstellinge en denkbeelde wat die geesdrif vir die sg. National Democratic Revolution onderskraag en dros nie te ver weg van sy Leninistiese wortels nie. Dit vorm die ideologiese bladmusiek waarop die Zumas, Malemas , Magashules ens. hulle oudmodiese en afgeleefde kitaar slaan.
Lindiwe Sisulu lyk na een van daardie soort.
Sisulu is miskien doodgewoon net ‘n outydse Bolsjevis. Ons sit klaar in Suid Afrika met haar denkbeeld van “colonialism of a special kind”. Miskien is sy maar net “a Bolshevik of a special kind.” ‘n Coconut met rooi binnevleis.
Die hoof politieke teoloog wat die Bolsjevistiese verlossingsleer verkondig het was natuurlik een van Marx se ketterpriesters Vladimir Illich Lenin. Papa Walter Sisulu was ‘n “dyed in the wool” Bolsjevis. Dit was Lenin se siening dat as jy as vader sy kind vir agt jaar of so aan die revolusionêre boodskap blootstel, jy ‘n lewenslange Bolsjevis in die wêreld kon bring. Walter het dit waarskynlik goed in Lindiwe se opvoedkundige vormingsproses ingeknie.
Die ideologiese elemente in die stuk wat sy geskryf het en wat nou die relletjie oor of sy nog beskou kan word as geskik om in die kabinet aan te bly veroorsaak het, verraai ‘n duidelike verwantskap met die Leninistiese oertekse waaruit hulle spruit.
‘n Sleutelbeginsel van Lenin was dat kapitalisme nie net ‘n werktuig vir die skepping van rykdom was nie, maar terselfdertyd en as ‘n wesenlike deel van dieselfde skeppingsproses, ook as ‘n onvermydelike neweproses armoede in die wêreld gebring het. Die wesensmeganismes van kapitalisme is psigologies bevordelik vir eiesinnigheid, eiesugtigheid, gulsigheid, individuele selfverheerliking ens en maatskaplik vir die vestiging en voortstuwing van onomkeerbare materiële ongelykheid, gepaardgaande armoede en die vernietigende uitwerking wat dit het op mense se lewensgehalte en lewensgeluk. Om nie eers te praat van hul geestelike vorming, omvorming en misvorming nie.
Vir Lenin kan die mensdom nie met so ‘n onding vrede maak nie. Mens kon so n ding net vernietig. Wortel en tak uitroei. Tesame met die klas van onheilbringers wat materiële baat vind uit die voortgesette instandhouding van so ‘n stelsel en die denkbeelde, maatskaplike praktyke, kultuur en kunsskeppinge, godsdiensopvattinge ens wat hulle as verskonings en rasionalisasies aanbied vir die instandhouding van so ‘n verderflike bedeling.
”A democracy is a state which recognizes the subjection of the minority to the majority, that is, an organisation for the systematic use of violence by one class against the other, of one part of the population against the other.” ‘n Demokrasie wat in kapitalistiese samelewings binne die institusionele kombersie van ‘n konstitusionele staat toegevou word, is in teenstelling vir Lenin “a democracy for an insignificant minority – a democracy for the rich’.
Toegepas op Suid-Afrika beteken dit o.m. dat die politieke gelykstelling wat in ons konstitusie besing word as ‘n politieke afbouing van Apartheid, sonder die ooreenkomstige ekonomiese gelykstelling wat vereis word vir die afbouing van “ekonomiese Apartheid” ‘n bedrog is en nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Hier in Suid-Afrika bly ons, as ons met ‘n Leninistiese bril na die ding kyk, “a democracy for the rich”. Die revolusionêre baba word versmoor deur die liberale konstitusionele kombersie waarmee dit in die wieg toegevou word.
Alhoewel Sisulu dit nie uitdruklik sê nie, wonder mens of dit die soort ding is wat sy in gedagte het om die Jakobynse knoop deur te haak in omstandighede waar ‘n verlepte konstitusie en die uncle Toms wat die ding moet vertolk nie, soos sy dit sien, die mas kan opkom nie.
Grondwetlike beperkinge soos vervat in liberale konstitusionle denkbeelde en praktyke lê die revolusionêre ywer om die wereld in ‘n egalitaristiese paradys te verander, aan bande. Dit word beskou as teen-revolusionêr. Die revolusionêre Jakobynse gelykheidstrewe kan alleenlik verwesenlik word indien daar genoeg mag en geweldshulpbronne konsentreer kan word in die meganisme wat suksesvol kan aanspraak maak op ‘n monopolie van geweld as ‘n middel om kollektiewe doelstellings te bereik. Dit is nou die gesentraliseerde staat. Die aanwending van staatsgeweld in diens van die verwesentliking van die egalitaristiese ideal, word regverdig deur die diens wat dit lewer aan die Gemeenskap van die Heiliges of eintlik aan die Gemeenskap van die Verheiligtes. In die revolusionêre leksikon is ‘n ander naam vir hierdie gemeenskap, “the People – Vox populi vox dei.”
Ware revolusie vereis die verheiliging van geweld in diens van die gelykstelling van die “People”. “Freude schoner Gotterfunken” sing Beethoven se koor in sy 9de simfonie as ‘n soort verheerliking van die Franse revolusie. God se vonke spat die wêreld vol en Sy betowering herstel die wesentlike broederskap wat verlore gegaan het met Adam se geknoei in die paradys en ander wandade van daardie ou met die horings en die pylstert. “Deine Zauber bind man wieder was die mode streng geteilt” en alle “Alle Menschen werden bruder” wanneer hulle in die goddelike vlerke verweil, sing die koor verder.
Siniese liberale konstitusiemakers verhoed ons om die modes wat ons verdeeld en ongelyk hou (streng geteilt) met die goddelike vuur weg te brand en sodoende handhaaf hulle ‘n soort generiese Apartheidstelsel in die wêereld .
Die bedrommelde swart regters wat die poorte tot die egalitaristiese paradys versper, is vir Sisulu nie in Beethoven/Schiller se taal “feuertrunken”(vuurbesope of vuurbeskonke ) genoeg om as dienaars van die gemeenskap van die verheiligtes op te tree nie. Hulle raak beskonke op kolonialisties gedisteleerde whiskey voor hulle op die regsbank klim. Gooi hulle saam met die stelsel wat hulle in stand hou in die revolusionêre verteringsvure, dan raak ons vreugde werklik gelaai met goddelike vonke.
As jy as regter nie van judisiele dronkbestuur aangekla wil word nie, dan is nkhomboti die dop wat die Afrika-are in jou kop moet laat swel en die skille van jou oë moet laat afval.
Bestorm die Bastille en tempels van monopolie-kapitaal soos die reuse-kettingswinkels in Kwazulu Natal se hoofstede as die ontberinge van armlastigheid onuithoudbaar word. Bevrydings- onverdraagsaamheid is ‘n edele respons in so ‘n wêreld en vernielsugtigheid, plunder en brandstigting ‘n uitingskreet van die pyn van armlastigheid. Dit verdien aanmoediging en morele beskerming. “With our boxes of matches and our necklaces we will liberate our country.” En as jy teepraat, dan “soek jy ’n “tyre”.
Jacob Zuma se beeld as ‘’n onwrikbare manteldraer vir die uitlewing van ware revolusionêre brandstigting kry ‘n hupstoot en die valse profete op die regbanke en in die presidensie word in die bek geruk. Hulle soek ‘n “tyre”.
Umshini wam.Wham wham wham wham en bewende buikspek.
Nou daar is ‘n ou wat weet hoe om ‘n revolusie te dans! ‘n Pronkstuk wat weet hoe om Uncle Tom se regters te uitoorlê en kolonialistiese bewussynsbeswymings en virusbesmettings onder ‘n stortkraan weg te spoel.
Sisulu se verknorsing kom duideliker na vore as sy ‘n variasie op die ou Marxistiese valse bewussynsleerstuk aansny as ‘n manier om swart regters sleg te maak. Hulle denke is dan, so dink sy, aan ‘n vorm van geestelike en intellektuele kolonialisasie onderwerp.
Dit bly egter ‘n ope vraag of die soort teenmiddels wat berei word om Europese kolonialisasie in Afrika te bestry, nie ook maar hoofsaaklik uit Europa stam nie. Veral Papa Walter se Marxistiese denkbeelde oor die vorm van geregtigheid wat die Marxiste aanbeveel om die “gebroke werklikheid” wat in kapitalistiese samelewings heers, weer heel te maak.
Hier in Suid-Afrika is ons dus eintlik dubbel gekolonialiseer. Eers deur die Hollanders en die Engelse met hulle gewaande en vermetele meerderwaardigheidsdenkbeelde, maar dan ook deur die Russe met hul vermetele en gewaande verlossingsdenkbeelde. Pay you penny and take your pick of steier terug na die herwinning van ‘n soort voor-moderne ubunthu-fikasie as ‘n model vir die herstel van die edeler vorme van primitivisme wat bv. deur ‘n African Renaissance-projek opgewek kan word. Ongelukkig het Rousseau al die patent op daardie ene al in 18de eeuse Europa uitgeneem. En elke tree wat die wêreld op die pad na ‘n voortstuwende verswelging deur tegnologiese innovasie gee, voer ons verder weg van die regressiewe herstel van ‘n wêreld waarin die edele barbaar weer tuis kan voel.
Die onbenydenswaarde keuse val dan in ons tydsgewrig tussen bv John Locke (‘n stigtingsfiguur van liberale konstusionalisme) se aanbevelings en Lenin se meer robuste totalitêre opsies. Jy kan kies, Mandela. En Mandela het gekies. En nou sit ons met die gebakte pere. ‘n Konstitusionele staat en ‘n klomp regters wat pligsgebonde is om die bepalinge van die grondwet noukeurig en met intergriteit te vertolk en die wetstoepassers in die spore van geregtigheid te laat loop.
Die verknorsing begin miskien daar, maar ongelukkig vir haar eindig dit nie daar nie. As mens ‘n bronneontleding wat betrekking het op die sondes van armoede in samelewings en die morele verdoeming daarvan wil doen, is die groter Europese ruimte weelderig gesaai met voorbeelde. Sisulu met haar opgesmukte haardos, Franse parfuum allure en Italiaanse hoëhakskoene is nie die eerste goedbedeelde mens wat begin kerm het oor imperiale oorheersing, koloniale uitbuiting en sieldodende armoede nie.
Al voor Christus en veral na Christus was dit die hoofgereg op die tafel waar kwessies van maatskaplike geregtigheid gedebatteer was.
Paulus van Tarsus word deesdae in linkse Europese kringe as een van die eerste anti-koloniale en anti-imperiale aktiviste in die Romeinse Ryk uitgewys en daarvandaan tot nou toe lê die kultusse wat saligmaking deur vrywillige of gedwonge armoede, dik gesaai op Engeland en die kontinent.
Lyding (ook lyding deur materiële ontbering) word in die Christelike storie tot ‘n soort epistemologiese waarheidsontsluitingsmetode verhef en die Marxiste se hele valse bewussynsverhaal maak daarop staat om teorie van ‘n proletariese klassebewussynsverlossing te bou.
Die huidige Pous se naamgenoot, Francis van Asiss,i het so te sê die versugting van redding deur armoede tot die leuse van ‘n kerkorde verhef. Die klomp millenniale ekstase soekers in die laat middeleeue, miskien die grondbereiders vir die uitbou van ‘n latere Protestantse etos, het omtrent almal die gevestigde vatikaan-monopolie afgesweer deur die werkinge van die vier perderuiters van die apokalips (een van hulle was hongersnood) toe te skryf aan die sataniese aktiwiteite van metafisiese skurke soos die antichris en die hoer van Babylon. Dit is nou ander name vir die Pous en die Vatikaan. Moderne bevrydingsteologie groei en gedy o.m. in ‘n beduidende mate in die vatikaan se geestelike baarmoeder. Die hoer van Babylon se huis is een van baie wonings. Monopolie-kapitaal is maar net een van haar hoerkinders.
Sisulu se Bolshevik-oortuiginge is in baie opsigte net ‘n gemoderniseerde en gemodifiseerde weergawe van ‘n gevestige Christelike apokaliptiese oertemplaat. ‘n Oulap se rooi maak mooi.
So wie kolonialiseer vir wie? Sisulu kan gesien word as net so ‘n papagaai vir Comrade Lenin of Comrade Stalin se imperiale werkersparadys as wat Zondo gesien kan word as ‘n papagaai vir bv Jefferson se Empire of Liberty. Was Tutu ‘n papegaai vir die vestiging van ‘n goddelike koninkryk op aarde en ook hier in Suid-Afrika?
En hoekom is daar so ‘n gretigheid onder die elemente wat vroeër in die greep van die Russiese werkersparadys vasgevang was om te ontsnap aan die vorm van koloniale inlywing wat Stalin en die Rooileer aan hulle opgedring het? ‘n Soort Tsaristiese Imperium onder nuwe bestuur? Vol Freude en schoner Gotterfunken. En vol gedwonge broederskap.
Watter soort palookas loop vrywillig en geesdriftig uit die paradys uit en in die hel in? En wanneer hulle in die hel aankom, dan is een van die eerste dinge wat hulle doen om liberale institusionele suurstoftente te bou en konstitusionele skanse op te rig teen die soort praktyke wat Sisulu se mentors aanbeveel as die weg om die Jakobynse droom te bewaarheid. Kolakowski stel dit goed: “There is no reason to expect that this dream can ever come true except in the cruel form of despotism; and despotism is a desperate simulation of paradise”.
Konstitusies kapater die magsgieriges. Haal die drif uit die libido dominandi van tiranne. Sit so ‘n bietjie blouvitrejoel in die Jakobyne se koffie. Om libiniale stotteringe by Jakobyne te induseer bevorder openbare gesondheid in ‘n demokrasie. Om die huidige president en die regters te beskuldig van ‘n politieke soort erektiele disfunksie, is eintlik ‘ kompliment aan hulle viriliteit.
Sisulu het dit veral teen die swart regters op die bank. Sy praat van African asof dit ‘n soort uit een blok gekapte sui generis gegewenheid is. As sy met African bedoel swartmense en armoede dan as tekenend van swartwees kan deurgaan, dan teken sy haarself saam met die gewraakte regters uit haar eie prentjie uit.
Soos die Amerikaanse bokser Larry Holmes dit gestel het “It is hard being black. You ever been black? I was black once – when I was poor.“ Mens wonder of Sisulu nog kan dink sy is in hierdie sin swart. Haar oupa was ‘n witman. Sy is materieel welgesteld. Miskien is sy net so besorgd oor armlastige witmense. Haar Jakobyne ekstase bly om die minste daarvan te sê, stom op hierdie punt.
Is dit in die kol om vir Sisulu voor te hou as ‘n Bolshevik? Probeer die ou “duck test.” “If it looks like ducks, swims like a duck and quacks like a duck, then perhaps it is a duck.”
Nou, as die ANC so ‘n eend nek omdraai, dan kan ‘n mens begin glo dat ons regering ons miskien gaan toelaat om maar aan te gaan met die boerdery op die familieplaas. En dat dit kan help om die ander eend, die een wat die goue eiers lê, se kuikens te laat aanwas.