Bloemhof naaswenners in Gerrie Berner-tennistoernooi
Die Hoër Meisieskool Bloemhof se eerste tennisspan kon verlede naweek weer daarin slaag om tot die finaal van die Gerrie Berner-tennistoernooi deur te dring, maar was nie suksesvol om hul titel as kampioene te verdedig nie. Die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje het ná ’n oorwinning van 4-1 die trofee gelig.
Dié gesogte tennistoernooi se damesafdeling word jaarliks deur die HS Paarl Gimnasium aangebied en spog metpragtennis deur Suid-Afrika se beste hoërskoolspanne. Vanjaar was daar twee Vrystaatse spanne (Oranje en Eunice Girls’ High School) en vier spanne uit Gauteng (Helpmekaar College, HS Waterkloof, HS Menlopark en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria) wat teen ses spanne uit die Boland gekompeteer het: Bloemhof, Rhenish Girls’ High School, HS Stellenbosch, HMS Paarl, HS Paarl Gimnasium en ’n uitnodigingspan wat leerders van onder meer HS Hugenote en HMS La Rochelle ingesluit het.
Bloemhof, wat sedert 2016 as dié toernooi se wenners gekroon is, het vanjaar al hul groepwedstryde gewen om hul buurskool, Rhenish, in die semifinaal te pak. Hierdie uitspeelwedstryde is Vrydag weens reën uitgestel en het eers Saterdagoggend plaasgevind.
“Dit was ’n taai wedstryd,” meen Megan Gibbs, Bloemhof se tenniskaptein. “Rhenish was sterk kompetisie en ons was boonop gelyk met slegs één wedstryd wat sou bepaal wie na die finaal deurdring.”
Die finaal teen Oranje het vir die Bloemhoffers goed begin toe hulle die dubbels gewen het, maar die Oranjeniete oorheers daarna in die enkels om uiteindelik met vier punte teenoor een te wen.
“Ons weet daar is baie werk wat voorlê, maar ons sien uit om die span van Oranje weer in Mei in Bloemfontein aan te durf wanneer ons aan die Amanda Coetzer-toernooi gaan deelneem,” sê Gibbs.
Oranje was tussen 2012 en 2015 die Gerrie Berner-kampioene. Vanjaar is Bloemhof tweede en Rhenish in die derde plek. Die mansafdeling het in Februarie plaasgevind waar Paul Roos Gimnasium die trofee gelig het.