Projek pak veiligheid vir fietsry op Stellenbosch
Danie Keet
Stellenbosch-fietsry (SF) is tans onder meer besig om met verskeie rolspelers in die dorp te onderhandel om die veiligheid van fietsryers van die dorp te beskerm. Dit kom veral in die lig van ‘n aantal onlangse gevalle waartydens fietsryers wat die dorp besoek, in sekere gevaarareas aangeval en beroof is.
Hierdie pogings sluit in die identifisering van hierdie areas, die oprigting van spesiale waarskuwingstekens en ‘n beroep op die gemeenskap en motorbestuurders om fietsryers in hierdie gevaarsones te begelei en sodoende te beskerm.
“Sedert die einde van 2021 het ons begin skakel met die sekuriteitskomponente van die munisipaliteit, met die spesifieke behoefte om die gevaarsones of dan ‘hot spots’ waar fietsryer-aanvalle gereeld voorkom, te identifiseer en hok te slaan,” sê Carinus Lemmer, ‘n direkteur van SF.
“Uiteraard kan die werk wat nodig is om dié gevaar te elimineer, nie net deur die fietsrygemeenskap gedoen word nie. Voorstelle van die burgemeester, dat ryers in groepe saam moet ry, sal nie deug nie, want baie ryers, veral die wat op hul eie pendel-ry, of besoekers is uit ander dorpe, kan nie gebind word aan voorstelle en reëls wat nie uitvoerbaar is nie. Fietsryers, soos voetgangers en motoriste, behoort outonoom te mag besluit hoe, waar en wanneer hulle beweeg of pendel,” sê Lemmer.
Volgens Lemmeris SF nou deel van die SSI (Stellenbosch Security Initiative) en sal poog om deur steunwerwing die besluitnemers te beïnvloed om spesiale padtekens en veiligheidskamera’s op ‘hotspot’ en in gevaarsones aan te bring, en om sigbare polisiëring tydens pendelure op die geïndetifiseerde plekke te doen.
In sy jaarverslag van 2021 meld Dawid Botha, SF voorsitter, dat die organisasie die jaar grotendeeels daarop gefokus het om die munisipaliteit te oortuig om meer geld te spandeer om die fietsmeesterplan van 2015 uit te voer.
“Die groot verandering in ons benadering was dat ons besef het dat ons nie net veilige fietsry kan bevorder sonder om ook te dink aan voetgangers, rolstoelgebruikers, en alle kwesbare padgebruikers soos bejaardes, kinders, ouers met stootkarretjies en skaatsplankryers, nie. Ons het ook onderneem om verhoudings te bou met al hierdie groepe.
“As deel van hierdie proses, het ons gereeld deelgeneem aan die munisipaliteit se mobiliteitsforum, maar dit is ongelukkig sonder rede opgeskort na die laaste vergadering op 31 Maart. Navrae oor die hervatting van die forum is nie bevredigend beantwoord nie. Al wat ons weet, is dat dit deur die munisipale bestuurder gestaak is.
“Die afdeling fasiliteitsbestuur van die Universiteit Stellenbosch het hul NMT-planne aan ons verduidelik en ‘n goeie gesprek is gevoer. Ons het ‘n lewendige inspuiting van energie en nuwe idees gekry van ‘n aantal jongmense en studente wat by ons aangesluit en gereeld met ons vergader het.
“Ons het deurlopend positiewe vergaderings gehou met Roscoe Bergstedt van die departement infrastuktuurdienste, waartydens ons hom kon help om knelpunte en oplossings te identifiseer vir die NMT-netwerk. Gedurende 2021 is Stellenbosch se NMT-beleid gewysig en die NMT- en fietsplan saamgevoeg in ‘n nuwe dokument.
“Ons het ons voorbehoude uitgespreek, veral omdat daar nie ‘n fietsnetwerk bestaan nie, net geïsoleerde en gefragmenteerde geriewe. Ons sien ook weinig tekens van ‘n uitgebreide afgesperde fietsbaannetwerk en betreur die stadige vordering met die uitvoer van fietsgeriewe. Fietsry en stap en dus aktiewe mobiliteit op Stellenbosch, is nie veilig nie,” het hy gesê.
Talle ander projekte en aksies is deur die jaar deur SF geloods. Dit sluit in die opdatering van die fietskaart in elektroniese formaat, danksy ondersteuning van Andrew Wheeldon van Bicycle Cities is ‘n paar Matiefietse bekom vir ‘n projek in Khayalitsha, Kirsten Wilkens, hoof van Open Streets in Kaapstad, het samesprekinge met die organisasie gevoer en ook ‘n draai saam deur die dorp gaan ry en knelpunte soos gevaarlike oorgange en glybane, besigtig, die STEM (Science, Technology, Engineering, Mathematics)-program is op 17 September in Kayamandi geloods. STEM gebruik die fiets om hierdie vakgebiede meer toeganklik vir leerders te maak.
Nog ‘n aksie wat begin is, is die ARK-projek in Andringa-, Reyneveld- en Kerkstraat wat meer vriendelik gemaak moet word vir kwesbares en motorverkeer sterk gekalmeer of selfs beperk word.
Van die probleme met die huidige fietsry-omstandighede in Stellenbosch is dat die NMT-netwerk gefragmenteer is en meer gedoen moet word om dit te verbeter, insluitend die bou van afgesperde fietsbane, glybane is euwels en lewensgevaarlik vir kwesbares soos voetgangers, rolstoele en fietse, geverfde fietsbane bied geen beskerming aan fietsryers nie en in belangrike verbindingstrate soos Merrimanlaan, is dit lewensgevaarlik.
Alledaagse fietsry of pendelry bly onveilig op Stellenbosch en verhoed dat mense in groter getalle werk, winkels of skole toe of vir ontspanning ry. Die begroting vir die voltooiing van die fietsmeesterplan moet dringend aandag kry en met SF bespreek word.
Botha meen dat dit opmerklik is dat baie meer motorbestuurders meer hoflik teenoor fietsryers optree, veral by vierrigting-stopstrate.