Talle griewe kom na vore by vergadering
Buitensporige waterrekeninge, foutiewe watermeters, watermeterlesings wat nie geneem word nie en skattings wat nie op die amptelike munisipale finansiële stelsel se datastel verskyn en aangedui word nie. Dit is van die bevindinge van ‘n indringende ondersoek wat deur www.stellenboschmonitor gedoen is na aanleiding van ’n vergadering wat omgekrapte belastingbetalers met verteenwoordigers van die munisipaliteit, insluitend die burgemeester, Gesie van Deventer, gehou het.
Omdat talle belastingbetalers van Stellenbosch soortgelyke probleme ervaar, is ‘n openbare vergadering gehou om die toedrag van sake te bespreek. Die vergadering is verlede week in die biblioteek gehou en deur sowat 80 uiters ontevrede belastingbetalers bygewoon.
Volgens Dawn van Wyk, ‘n enkelouer van Paradyskloof wat die groep gestig het, was die ontvangs wat die belastingbetalers van die munisipaliteit gekry het, alles behalwe vriendelik of behulpsaam.
Buiten vir die uitvoerende burgemeester, Van Deventer, is die munisipaliteit ook verteenwoordig deur Kevin Carolis, hooffinansiële beampte en Gary Boshoff, hoof van gemeenskaps- en veiligheidsdienste.
Van Wyk is een van talle Stellenbosse inwoners wat gebuk gaan onder ‘n munisipaliteit wat nie an hulle bevredigende antwoorde kan verskaf op die buitensporige rekeninge nie. In van die gevalle is die verhoging in waterrekeninge tot soveel as 170% – en beloop dit in sommige gevalle tussen R30 000 en R80 000 per maand vir ‘n normale residensiële eiendom.
“Volgens my rekeninge en persoonlike kennis is my meter die laaste jaar ‘n paar keer geskat. Die munisipaliteit se reaksie was dat my rekening feitlik elke maand geskat word omdat die meter na bewering nie toeganklik is nie.
“Versoeke om ondersteuning van die munisipaliteit val op dowe ore en ons krag word eenvoudig afgesny as hierdie belaglike en onwerklik hoë waterrekeninge nie betaal word nie.
“Onder die Whatsapp-groep wat ek gestig het, is 5 lede wie se gesamentlike waterrekeninge meer as R240 170.98 beloop. Die munisipaliteit kan dus met hul optrede bykans R1 miljoen per maand uit 21 belastingbetalers melk. Iewers Is daar groot fout met die prosesse en rekordhouding by die munisipaliteit,” het Van Wyk die gevoel op die vergadering opgesom.
Stellenbossers wat die vergadering bygewoon het, het ook geïntimdeerd gevoel toe hulle gedwing is om ’n teenwoordigheidslys met persoonlike besonderhede in te vul, voordat toegang tot die vergadersaal gegee is. Sommiges, wat nie vooraf aangedui het dat hulle die vergadering gaan by woon nie, is selfs weggewys.
Emeritus professor Christo Viljoen, voormalige dekaan van die fakulteit ingenieurswese en voormalige vise-rektor van die Universiteit Stellenbosch, het ‘n somber prentjie van die water- en elektrisiteitstariewe geskets en gesê dat belastingbetalers inderdaad deur die munisipaliteit beboet word wanneer berekeninge van hul watertariewe op ‘n onrealistiese glyskaal gemaak word.
“Om mee te begin is daar geen statutêre liggaam wat watertariewe beheer en goedkeur nie, anders as in die elektrisiteitsbedryf waar dit deur Nersa hanteer word. Die verhoging in tariewe waaroor soveel Stellenbossers ontevrede is, skep die indruk dat die munisipaliteit kan vra wat hy wil en ons moet maar net betaal. Die munisipaliteit gebruik die geleentheid om inwoners wat hul rekeninge betaal, te oorbelas en woekerwins te verkry,” het Viljoen gesê.
Viljoen het die hoë waterverbruik verduidelik en die berekeninge bevraagteken.
“As ‘n mens aaneem ‘n huishounding gebruik tussen 6 kl en 70 kl water per maand, is daar ‘n verskil van 1580% in die tariewekategorie tussen die laagste en hoogste verbuik. ’n Belastingbetaler wat in 2015 50 kl per maand gebruik het, het ‘n verhoging van 309% na 2022 ondervind, oftewel 269% meer as inflasie. Dit is ongekend en buitensporig en grens aan woekerwins, en die droogtetariewe is nog meer buitensporig. Daar is geen, maar geen regverdiging vir so ‘n styging nie; dit is nie ‘n ontmoedigingstarief nie, dit is ‘n boete wat belastingbetalers opgelê word,” het hy gesê.
Nog ‘n inwoner het ‘n rekening van R118 000 vir ‘n maand se waterverbruik gekry en na 14 maande se e-poskorrespondensie met die munisipaliteit is daar nog geen oplossing vir sy probleme nie.
“Ons word tot teen R424.71 per kiloliter aangeslaan op vlak 4 waterbeperkings – dis absoluut belaglik en daar is ‘n massiewe verskil tussen R6,81 op vlak 1 en R424.71 op vlak 4-tariewe. Die uitermate hoë tariewe in die droogte was verstaanbaar om verbruik te probeer verlaag, maar nou moet dit nie so wees nie,” het nog ‘n belastingbetaler gesê.
Van Deventer het die vergadering verseker dat sy wil weet, goed of sleg, wat dit is wat die mense by die vergadering, wat lede is van die Whatsapp-groep wat die vergadering geïnisieer het, pla.
“Ek het reeds in Julie hiervan gehoor en het ‘n vergadering met Goldie van Heerden gehad en is bewus van die kwessies waaroor die vergadering gaan. Ek wil ook graag my rol in die munisipaliteit verduidelik en sê dat ek aangestel is binne ’n streng politieke struktuur en mag nie enigiets oor administrasie doen nie, ek kan nie inmeng nie – ek kan niks doen nie. Ek mag hoegenaamd nie inmeng in die administrasie nie. Ek mag ook nie eers poog om in te meng nie, ek mag nie ‘n instruksies gee nie. Dis ‘n doodsonde en ek sal aangekla word en my werk verloor. Daar is ’n streng skeiding tussen die rol van burgemeester en die van administrasie, waar die munisipale bestuurder hoof van is.”
Sy het dit beklemtoon dat sy ‘n oorsig rol speel vir ingeval klagtes nie na behore hanteer word nie en om dit dan verder te voer.
Sy is ingevolge Art 55 van die wet op munisipale strukture tot uitvoerende burgemeester deur lede van die raad verkies is.
By nadere ondersoek oor rekordhouding van waterrekeninge deur die munisiplaiteit, het dit aan die lig gekom dat geskatte lesings as deel van hulle berekenings geboekstaaf word.
“Dit is onwettig as lesings nie beskikbaar is nie om die data wat in die finansiële stelsel ingevoer word, as werklike lesings aan te dui,” het ‘n kenner van munisipale data- en waterbestuur by navraag bevestig. Die geskatte waardes moet duidelik onderskei kan word van die werklike lesings.
“Die munisipaliteit gebruik die SAMRAS-finansiële stelsel asook SWIFT, ‘n program wat statistiese analise doen van watergebruikdata in die munisipale finansiële databasis.”
Die SWIFT-stelsel is ‘n rekenaargebaseerde program wat statistiese analises doen om die watermeters van verbruikers te monitor. Deur hierdie data verskaf dit verbruikerspatrone en neigings oor werklike verbruik. Die stelsel was blykbaar vir meer as twee jaar nie opgedateer nie en foutiewe watermeterlesings is dus nie uitgewys nie, wat daartoe lei dat foutiewe rekeninge uitgestuur word.
Die funksie van SWIFT sluit ook in om water-oudits te doen, en om waterverliese en watertariewe te bereken. Dit dui ook werklike en geskatte watermeterlesingdata aan en wys foutiewe watermeters uit.
Van Wyk het beklemtoon dat sy alles volgens die riglyne van die munisipaliteit gedoen het, en nou maar een van ‘n handvol belastingbetalers is wat dieselfde probleme ervaar. Sommige inwoners het hul watermeters al drie maal laat vervang, toetse laat doen en pleidooie aan die munisipaliteit gerig, maar sonder sukses.
Dit was veral die feit dat Van Deventer klaarblyklik niks aan die sake kan doen nie, wat die mense by die vergadering die harnas ingejaag het.
“Hoekom kan sy niks kan doen nie, nêrens berokke raak of inmeng in die dorp se bestuur nie? Dan moet ons iemand kry wat die werk kan doen,” het ‘n ontstoke Stellenbosser in reaksie hierop op die vergadering gesê.
Buiten die buitensporige waterrekeninge wat onder die loep gekom het, is ander probleme, soos die oorvloei van rou riool in die Eersterivier vanuit die munisipale rioolwerke, kragrekeninge, swak diens deur munisipale amptenare, die ignorering van skriftlike versoeke en aantygings oor tenders wat onder verdagte omstandighede toegeken is, van die griewe wat ook teenoor die burgemeester gelug is. www.stellenboschmonitor het ’n indringende ondersoek na hierdie en ander klagtes begin en sal oor die volgende paar weke in diepte verslag doen hieroor.
Lees die munisipaliteit se reaksie op hierdie en ander bewerings hier.
Gesie lieg, sy raak wel betrokke by sekere dinge, wat definitief niks met haar amp te doen het nie, soos toe die “nuwe” Meraki se aansoek vir ‘n “dek” deur die ingenieursdept afgekeur is, is juiste dept deur haar genader om die aansoek goed te keur. SM kan haar gerus daaroor ook vra.
Goeie taktiek deur Munisipaliteit om getal te beperk, nou word dit afgemaak as KLEIN GROEPIE. Ons het opgegee om maand vir maand te baklei oor ons lekkasie se rekening en maar betaal. (Gelukkig was die bedrag nie so groot soos die ander klaers nie)
Uiitvoerende burgemeesters is verantwoordelik vir munisipale begrotings. Dit sluit in die winsmarges op die verkoop van water en ander dienste..
Die MFMA (Munisipale Finansiële Bestuurswet #56 van 2003) bepaal: ‘The council of a municipality must for each financial year approve an annual budget for the municipality. The mayor must table the annual budget at a council meeting at least 90 days before the start of the budget year. The mayor must coordinate the processes for preparing the annual budget . . etc.’
‘n Munisipale begroting is dus die heersende burgemeester en sy/haar raad se verantwoordelikheid. Die surplus op Stellenbosch se munisipale waterverkopr het in die afgelope 10 jaar verdriedubbel.
Sy lieg…ek het my eposse aan haar en Mr. Karolus en Me. Rooifontein en Me. Nicholls gestuur…twee keer. Niemand het eers ontvangs erken nie, geen woord terug gehoor nie.
Ons is NIE groot waterverbruikers nie, ons gebruik tussen 11 en 15 kl per maand al vir tien jaar, hulle het toegang – sien die meter deur heining van pad af. My vraag is hoe ek dan skielik vir twee maande 38 en 40 kl gebruik volgens hulle terwyl ons niks anders doen as al die ander maande nie. Daar is geen lek nie…want daarna keer dit terug na normaal…so wat het dit veroorsaak….ons doen geen besproeing nie, maak nie swembaddens vol nie, het nie krane oop vergeet nie….wat is verklaring, dit is wat ek wil weet…haar houding stink…tyd dat ons van haar ontslae raak…maw ons sal van die DA moet ontslae raak…tyd vir onafhanklike kandidate…
Wat gaan Mr. Bredell sê? Hy is ook DA! Natuurlik gaan hy vertel hoe wonderlik sy is!