Augustus ‘n hoogtepunt vir PRG-kultuur, -sport
Augustus was ‘n goeie maand vir Paul Roos Gimnasium.
Die opwindende en langverwagte interskoledinee en -veiling het PRG op 18 Augustus ‘n inkomste van R1 miljoen verseker. Buiten fondswerwing, spog PRG met indrukwekkende sportprestasies en die groot wen (34-19) tydens die rugby-interskole teen Grey Kollege (Bloemfontein) op Saterdag, 20 Augustus.
Hierdie hoogtepunt is gevolg deur PRG-krieket se T10-veiling wat op Dinsdagaand, 23 Augustus aangebied is. Hier het jong krieketspelers (gr. 8 tot 11), entoesiastiese ouers en plaaslike besighede saamgespan om ‘n opwindende geesbou- en fondsinsamelingsaand ten bate van krieketontwikkeling by PRG aan te bied. Danksy die gemeenskap se passie vir krieket is R350 000 ingesamel. Hierdie fondse sal aangewend word vir die installering van syskerms op PRG se krieketveld.
Op 9 en 10 September kompeteer 9 PRG-krieketspanne teen mekaar by die Markötter-sportKompleks en PRG se krieketovaal onderskeidelik. Die opwindende kriekettoernooi word met trots deur Cape Umbrellas geborg en dien as aanloop tot ‘n splinternuwe krieketseisoen by PRG.
Die sukses van die Atterbury-PRG musiekfees wat op 24 en 25 Augustus vir die eerste keer sedert 2019 kon plaasvind, getuig van PRG se veelsydigheid en toewyding tot prestasie, nie net op sportgebied nie, maar ook kultureel.
PRG se koor (ATKV ‘22 wenner), sy sanggroep, sy blaas- en strykorkes, én die gr.10-massakoor het almal aan dié konsert oor twee aande saam met Coenie de Villiers en Corlea Botha deelgeneem. Ander talentvolle deelnemende jeugdiges vanuit die breër Stellenbosch gemeenskap was ‘Jamestown Sounds’, die ‘Madelein van Rooyen String Studio’, die Rhenish Laerskool, sowel as Rhenish Girls’ High se koor- en sanggroepe. ‘n Opwindende toevoeging was die Vrystaatse Jeug-blaasensemble, wat ook by hul aankoms in Stellenbosch, spesiale meesterklasse vir PRG-musikante aangebied het. Ingrid Howard van die Drostdy-teater het as vervaardiger van die Atterbury-PRG Musiekfees opgetree. Hierdie konsert is deur 1200 gehoorlede en spesiale gaste van PRG ondersteun.
Buiten die bogenoemde hoogtepunte spog Paul Roos ook met die volgende prestasies in Augustus:
- PRG se o.15A-skaakspan wen goud by Topskole Skaak in Wellington.
- PRG se o.18A-skaakspan wen silwer by Topskole Skaak in Wellington.
- PRG-skaak wen 8 bordpryse in totaal.
- PRG Forum (die praatkunste) se Steffan Thielen en Mark du Preez neem aan die provinsiale Moot Court deel, en dring beide deur tot die nasionale ronde.
- PRG-toneel se “SKRUM” verdien ‘n dubbel goue toekenning by die MADD-toneelfees in Montagu en neem deel aan die ATKV-tienertoneelkompetisie.
- PRG-toneel se “Tienertoneel” verdien ‘n silwertoekenning by die MADD-toneelfees in Montagu en neem deel aan die ATKV-tienertoneelkompetisie.
- PRG-debat se Afrikaanse junior- en seniorspanne kompeteer in die finale van die ATKV-debatkompetisie teen Affies en eindig nasionaal, in tweede- en vierde posisies onderskeidelik.
- PRG-debat se Engelse junior- en seniorspanne kompeteer in die ‘Western Cape Schools’ Debating Tournament’. PRG se Reuben de Wit eindig derde en word gekies vir die provinsiale span.