Net hier vir karre – regtig?

Waar is munisipaliteit se wetstoepassing?

Ons (www.stellenboschmonitor.com, se…) ondersoeke na gebeure en situasies wat Stellenbossers pla, is goed op dreef, maar dis belangrtik om daarop te let dat ons nie negatief en onnodig  krities wil wees nie. Ons wil bloot help dat besorgde inwoners wat kwessies wat die dorp benadeel die regte en behoorlike samewerking van die plaaslike owerheid kry wat dan moet sorg dat die belastingbetalers se bekommernisse aangespreek word – tot  voordeel van die hele dorp en al die gemeenskappe. Dalk is ons benadering anders omdat ons ‘n iets op sy naam noem en die owerhede tot verantwoording roep sonder omhaal van woorde. Red.

Hierby ‘n plasing van Bun Booyens, ‘n deurwinterde Stellenbosser wat ook die belange van die dorp op die hart dra:

Bun Booyens:

Ek probeer altyd om dinge hoflik en konstruktief te hou, maar hierdie scenario het hom vandag (weer) afgespeel voor die PJ Olivier-kunssentrum langs Die Braak.

* Dieselfde paar mense beset die bankie daar en slaap klaarblyklik saans daar – daar is ‘n skuiling gebou. Die area is bemors. Geen ander lid van die publiek kan daardie openbare sitplek meer benut nie.

* Een van die mense daar het al sy eie kampstoel daar en sit en drink oop en bloot uit ’n boks wyn (2 glase binne 30 sekondes vanmiddag);

* Reg langs hulle staan ’n munisipale amptenaar met ‘n “Safety & Security”-logo op sy bo-arm;

* Ek gaan vra hom om iets aan die saak te doen – daar stap immers deurentyd skoolkinders verby;

* Hy sê (hoflik) hy kan nie iets doen nie: “Ons is net hier vir die karre” (die insameling van parkeergeld);

* Ek vra hom om dan sy hoof by wetstoepassing te bel om iemand te stuur wat wel iets aan die situasie kan doen. Hy haal sy skouers op.

* Ek vra hom of hy die nommer het wat hy moet bel om “safety & security”-kwessies aan te meld. Hy sê hy het nie so ’n nommer nie.

* Presies dieselfde scenario het hom vroeër die week afgespeel met ’n ander amptenaar wat ook oorbluf was toe ek haar vra om iets te doen.

Nou … wat op aarde is die doel van ’n amptenaar met “Stellenbosch Municipality” op sy pet en “Safety & Security” prominent op die arms wat rondstaan en op sy selfoon speel letterlik minder as ‘n meter van iemand wat oop en bloot die wet oortree én in die proses die “safety & security” van die verbygangers in gedrang bring?

As hierdie ampternare dan reken hulle is daar net “vir die karre”, moet daar op hul arms staan “Ons is hier net vir karre”. Dan behoort hulle ook nie wintersbaadjies te dra met “Law Enforcement” prominent daarop geskryf nie.

My vrae aan ons burgemeester:

* Het hierdie mense ‘n voorvalleboek wat hulle in staat sal stel om die oë en ore van die munisipaliteit en die dorp se mense te wees?

* Is daar ’n munisipale amptenaar wat dan al hierdie voorvalle saamvat en gebruik om die dorp te help om die komplekse probleem van haweloosheid sinvol en menslik aan te pak?

Dit is regtig frustrerend dat my en ander inwoners se belastinggeld bestee word aan ’n groep “wetstoepassers” wat klaarblyklik nie bemagtig is om die wet toe te pas nie, en ook nie riglyne het hoe om voorvalle te hanteer of aan te meld nie.

Sonder om neerbuigend te wees: Burgemeester Van Deventer stap ‘n slag deur die dorp en kyk wat gebeur waar. Nooi van die inwoners saam sodat hulle jou kan wys waar lol wat. Almal van julle word immers met ons belastinggeld betaal.

Dié vrae, en ander wat hiermee verband hou, is aan die burgemeester gestuur en die antwoorde sal bygevoeg word sodra dit ontvang is – Red..

Hier is die munisipaliteit se antwoorde.

Hy is net hier vir die ‘karre” het die vriendelike beampte gesê, enkele meters van waar haweloses helder oordag sit en drink – en uitkamp voor die PJ Olivier-kunssentrum waar talle kinders klas loop.
Foto’s: Bun Booyens

 

 

 

2 Replies to “Net hier vir karre – regtig?”

  1. Baie dankie, Bun, vir jou weldeurdagte skrywe. Dit word waardeer dat jy die moeite gedoen het om tyd hieraan te spandeer. Ek hoop vsn harte dat die burgemeester hierop gaan reageer, en selfs jou uitnodiging sal aanvaar om betrokke te raak. Dit voel egter vir my of baie mense baie aanvallend teenoor Gesie is, en hulle doel is om haar te verwyder. Dit is nie die manier om dit te doen nie. Gee asb. ook krediet waar nodig. Ons kla te dikwels met die witbrood onder die arm. Kyk bietjie verder as Stellenbosch, en wees dankbaar vir die baie positiewe dinge wat wel hier gebeur. Daarmee sê ek nie dat ondoeltreffende regering goedsmoeds aanvaar moet word nie. Beslis nie. Dankie vir die geleentheid om my stuiwer in die armbeurs te gooi.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!