Sepiesterre het alles – of hoe?

Die waarheid agter sepiester-glimlag

Sepiesterre het dit alles, ‘n TV-naam, geborgde motors en ‘n droomloopbaan. Maar, het hulle wérklik? Is hulle lewe werklik een van glitz en glam, tydskrifvoorblaaie, kameras en TV-roem?

Een so aktrise, het in ‘n boek die waarheid agter haar breë glimlag en skynbare happy life vertel. Dit laat ons besef dat ons gunsteling-karakters op TV tuis ook ‘n mens met ‘n verlede en seerkry is. ‘n Mens, soos elkeen van ons wat ook net ons plekkie in die son soek. Die talentvolle aktrise, en skrywer van Agter my glimlag – Lindie Stander het haar worsteling in ‘n boek onthul.

Agter my glimlag is ‘n eerlike weergawe van Lindie se worsteling en sy skets vir die leser ‘n duidelike prentjie van haar seerkry en soeke na aanvaarding, liefde en heel word. Die leser sal maklik weggevoer raak en saam met Lindie die pad loop. Dit is moeilik om die boek neer te sit as jy dit eers begin het.

Lindie het diep gedelf gedurende hierdie rou en eerlike skryfproses. Lindie vertel die skryfproses was by tye moeilik, maar sy wou nooit tou opgooi nie en: “… die skrywers-drif het my hele wese oorheers vir ‘n jaar lank.” Lindie sê voorts dat sy letterlik haar bestaan moes dissekteer.

“… maar dis presies wat ek móes doen as ek kon hoop om ‘n suksesvolle boek te skryf. Ek moes die rou wonde van vooraf toewerk. Die persoonlike terapeutiese proses wat deur die skryfwerk voortgesit is, was egter van onmeetbare waarde,”  sê Lindie.

Ons leer Lindie se weerlose kant ken en sien hoe diep sy, herhaaldelike kere, gewond is. Sy was op ‘n afgrond-pad en wou telkemale ‘n einde aan haar lewe maak. Vir Lindie was dit nodig om haar kasdeure, met al die geraamtes daarin, wawyd oop te maak sodat die boek: “… geloofwaardig genoeg kan wees.” Lindie wou hê lesers moet haar sien as vlees en bloed mens, soos almal anders.

Swart hond

Lindie se verhaal vertel van diep wonde, deur haar eie, en ander mense se toedoen, maar sy dra nie meer daardie bagasie nie.

“Ek het mysélf vergewe – vir my foute en my tekortkominge. Die aandeel wat ander mense in my seer het, het ek vir hulle terug gegee. Wat hulle met hul eie ellende maak is nie meer my besigheid nie. Ek wens egter niemand skade toe nie.”

Depressie is iets waarmee soveel mense sukkel en, die statistieke wys dat teen uit elke drie Suid-Afrikaners met depressie of ‘n vorm daarvan worstel. En tog is dit so effens hush-hush, asof om te erken jy kry swaar ‘n skande is. Lindie sê sy hoop dat haar boek ‘n helder liggie sal skyn op die: depressiewe swart hond – die een wat ons uit verleentheid buite in ‘n hok vasgeketting hou.” en sy het ‘n boodskap vir mense wat dieselfde swaarkry en seer ervaar.

”Hoe meer openlike gesprekke ons oor ons geestelike welstand het, hoe meer platforms kan ons skep om die stigmatiese ‘skandvlek’ van depressie uit te wis. Depressie gaan nie verdwyn nie. Net mense vir wie ons lief is gaan,” glo sy.

Hierdie talentvolle aktrise is ‘n duidelike voorbeeld van die kaliber kunstenaars en inspirasie mense in Suid-Afrika en haar verhaal is een van hoop en tweede kanse.

Volgende

Lindie is op haar gelukkigste in haar huisie saam met Santie. Sy laat wel val dat, alhoewel sy geen groot. dramatiese planne vir die toekoms het nie, sy dalk haar hand wil waag met ‘n fiksie roman. Vir nou is sy dankbaar vir die geleentheid om te kan werk en beplan: … dalk ‘n 1200km staptog in Japan.”

Lindie is ‘n self-erkende koffie snob en sê haar gunsteling dis is enige iets is enige iets Asian. Sy is “beslis nie ‘n oggend-mens nie.” Hoewel sy en Santie ‘n “vreeslike vet kat” huisves, is sy eintlik ‘n hond-mens.  Haar gunsteling plek op aarde?“… my en Santjie se vakansie-kliphuisie langs die Wildekus.”

Agter my glimlag is ‘n briljante vertelling van ‘n vrou se worsteling met depressie, drankmisbruik en soeke na liefde. Die leser mag dalk ook net iets van hom- of haarself tussen die blaaie van hierdie onthulling herken.  En Lindie sê: “… ek is nie volmaak nie, my lewe is nie volmaak nie, maar ek is ok.”

Agter my glimlag is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

Annette Havenga Stellenbosch Monitor ©

In samewerking met NB-Uitgewers

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!