Vrae oor veiligheid van gat in Birdstraat wat 2 lewens eis

Birdstraat se gat van die dood reeds lank omstrede

Dit is duidelik dat inwoners van Sellenbosch ontsteld is oor die munisipaliteit se reaksie op die dood van die twee jong Matie-studente wat twee weke gelede ’n fratsongeluk gesterf het toe hul motor in die diep gat in Birdstraat beland het.

Leila Lees (18) kleindogter van die Afrikaanse joernlis Max du Preeez en haar vriend Ethan Kirk (19) is in ‘n motorongeluk dood nadat hul motor in die reuse-gat wat al lank ‘n kopseer vir Stellenbossers is, in die middedorp van Stellenbosch beland het.

Lees en Kirk het Vrydagaand 21 Oktober vermis geraak nadat hulle die aand saam gekuier het. Hulle was skynbaar oppad na Kirk se blyplek in Paul Krugerstraat toe hul motor op onverklaarbare wyse deur die omheining, wat veronderstel was om die gat te beskerm, gebars en op sy dak in water onder in die gat beland het Toe die motor Maandag 24 Oktober deur ‘n verbyganger opgemerk is, het net sy wiele bo die water en riete uitgesteek. Lees en Kirk is in die motor gevind en albei was reeds dood.

Hierdie gat, oorspronklik deel van ‘n eiendomsontwikkeling, is al vir etlike jare ‘n seer oog en gevaarlike plek in die  dorp en talle vertoë is al tot die plaaslike owerheid en grondeienaar gerig om iets aan die terrein te doen. Nadat die eiendomsontwikkeling sowat 33 jaar gelede gestaak is, is die bousels afgebreek, die terrein omhein en net so gelaat.

Talle Stellenbossers het oor die voorval gekla en vingers na die eienaar, Daniel da Chanha (sr), en die plaaslike owerheid gewys omdat die vertoë skynbaar op dowe ore geval het.

Hendrik Lemmer, wat eiendomme aangrensend aan die terrein besit, het gerugte dat die voertuig teen ’n hoë snelheid gery het, verwerp.

“Hulle kon nie meer as 60 km/u gery het nie omdat hulle eers links in Birdstraat gedraai en toe onmiddellik regs in Paul Krugerstraat. Dalk het die motor gegly en hulle het geskrik. Die omheining kon hulle nie keer nie,” het hy gesê.

‘n Eiendomsontwikkelaar wat ook in die omgewing eiendom besit, maar wat uit vrees vir intimidasie nie sy naam genoem wil hê nie, het gesê die omheining was heeltemal onvoldoende.

“Daardie draadjie sou nie eers ‘n fiets kon keer nie. Die hele situasie getuig van drastiese nalatigheid – van sowel die grondeienaar as die munisipaliteit wat moes toesien dat die terrein nie so verwaarloos is nie. Die eienaar en die munisipaliteit moet hulle maar reg maak vir reuse-eise,” het hy gesê.

André Pelser, voormalige voorsitter van die Stellenbosse belastingbetalersverening en gesoute inwoner van die dorp,  het gesê Da Canha het 3 eiendomme in Stellenbosch wat nie ontwikkel is nie en nog twee in Paradyskloof wat ook al jare onvoltooid en verwaarloos staan.

“Ek druk al jare dat die burgemeester en munisipaliteit ‘n formele beleid vir die hantering van hierdie, en ander eiendomme, in plek kry. Dit lyk of die munisipaliteit sy bes gedoen het om die eiendom se ontwikkeling te bespoedig. Maar die munisipaliteit het te lank geneem het om ‘n beleid oor probleemeiendomme in te stel. Dit wil egter voorkom asof drank, roekelose bestuur en ’n fratssituasie meer met hierdie tragedie te make het as enigiets anders.”

Andre de Villiers, ‘n eiendomsmakelaar van Stellenbosch wat ook al oor die toestand van die perseel by die Stellenbosch-munisipaliteit gekla het, het gesê die feit dat die munisipaliteit eers sowat twee maande gelede wakker geskrik het met die afkondiging van ‘n ordannansie oor probleemeiendomme, is tragies.

“Nog 2 eiendomme in Paradyskloof van dieselfde eienaar is nou ook al 15 jaar in ‘n verwaarloosde toestand en gevolglik is die waarde van die eiendomme in die omgewing negatief beïnvloed terwyl die eiendomsbelasting amper verdubbel het.

“Kon hulle in 33 jaar nie die nodige aksie bewerkstellig om hierdie probleem in die dorp te bestuur nie? Ander eiendomme van dieselfde eienaar loop dieselfde pad en dit is asof hy met sy Stalingrad-strategie ‘n houvas oor die raad het. Die tragiese ongeluk van die twee jongmense by die ‘gat’ in Birdstraat sou sekerlik nie fataal gewees het indien dit ontwikkel was,  of ten minste ‘n behoorlike heining of keermuur opgerig was nie, ” het De Villiers gesê.

Lorinda van Niekerk van Cluver Markotter prokureurs op Stellenbosch het gesê die moontlike regsaanspreeklikheid kan strafgregtelik of siviel van aard wees. Vir strafreglike aanspreeklikheid sal die staat moet bewys dat die eienaar en/of die munisipaliteit ‘n statutêre of gemeenregtelike misdryf gepleeg het. Vir sivielregelike aanspreeklikeheid sal die eiser(s) moet bewys dat die eienaar en/of munisipaliteit se wederregtelike en nalatige optrede/versuim skade veroorsaak het wat redelikerwys voorsienbaar was.

In ‘n lang verklaring verduidelik Anthony Barnes, direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling van die Stellenbosse munisipaliteit, die reeds bekende geskiedenis van die perseel, probleme met die eienaar en verduidelik dat die munisipaliteit nou ‘n ordonnansie wat probleemeiendomme bestuur, in plek gestel het.

Barns het gesê dat daar tydens ‘n vergadering met die eienaar op 10 Maart vanjaar onder meer aangedring is dat die eienaar behoorlike omheining om die nou-berugte gat moes oprig, dat die water uit die gat gedreineer moet word en dat aansoek gedoen moet word vir die regte grondgebruiksonering.

Daniel da Canha jr het by navraag geweier om met www.stellenboschmonitor te praat.

 Intussen is daar begin met ‘n petisie waarin daar geeïs word dat die gat in Birdstraat opgevul moet word. Tot op hede het 7235 mense reeds die petisie onderteken.

Die plek in die omheining om die gat in Birdstraat waardeur die motor met twee Matie-studente gebars het. Foto:Francois Lombard

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!