Stigma aan Vigs nog lank nie verby

Akademiese programme in MIV/vigsbestuur meer relevant as ooit

Vaardighede om die pandemie in die werksomgewing te bestuur noodsaaklik om organisasies vir die toekoms voor te berei [Stellenbosch]

Sedert Wêreldvigsdag die eerste keer op 1 Desember 1988 gedenk is, het die stand van die Vigs-pandemie aansienlik verander. Met die wydverspreide opvoedingsinisiatiewe en doeltreffende behandeling, kan mense met MIV en vigs nou lang, produktiewe lewens lei en het nuwe infeksies toenemend verminder.

’n Mens sou eenvoudig die sukses kon vier en besluit om tyd en hulpbronne eerder aan te wend vir die talle ander uitdagings wat die kontinent in die gesig staar. Maar daar is ’n groep mense by die Universiteit Stellenbosch (US) wat, met rede, van hierdie mening verskil.

In 2021 was daar wêreldwyd 1,5 miljoen nuwe MIV-infeksies. Dit is ’n miljoen infeksies of 300% meer as die 2020-doelwit van 500 000. Ook het 680 000 mense in 2020 weens vigsverwante oorsake gesterf, wat ook die doelwit van minder as 500 000 sterftes oorskry. Hierdie syfers lei tot vrae oor die ware vlak van bewustheid en ook toegang tot medikasie of selfs kennis van MIV-status, aangesien sterftes nie voldoende afneem nie. Die span by die Afrika-sentrum vir MIV/vigsbestuur by die US is baie bewus van hierdie syfers en waarom ons bekommerd moet wees.

“Die stigma, diskriminasie, geslagsongelykhede en die gebrek aan waardigheid en menslikheid wat MIV en vigs tot gevolg het of wat daarmee geassosieer word, word nie deur konvensionele mediese behandeling genees nie. Daarom is dit steeds nodig om aandag aan MIV en vigs te gee,” sê dr. Munya Saruchera, senior lektor en waarnemende direkteur van die sentrum.

As ’n mens na die fyner nuanses van die statistieke kyk, word Saruchera se besorgdheid duideliker. In Suid-Afrika is 64% van die 7,5 miljoen mense wat tans MIV en vigs het, vroue. In die groter sub-SaharaAfrika vorm vroue en meisies 63% van alle nuwe MIV-infeksies in 2021 .

Gesien saam met die feit dat in Suid-Afrika mans minder geneig is om MIV-dienste (toetse en behandeling) te gebruik, skep dit ’n potensieel bose kringloop. Die uitdaging is dat dit wyer strek as geslagsgebaseerde geweld.

“Die siklus is gekoppel aan baie faktore, waaronder kwessies soos mag, patriargie, armoede, ’n tekort aan sosioekonomiese regte en swak toegang tot hulpbronne ,” verduidelik Saruchera. “Vroue is sorgwekkend kwesbaar en word uitgebuit, en sommige vroue neem hul toevlug tot onbeskermde transaksionele sekswerk vir oorlewing.”

Dit sluit sterk aan by die globale tema van vanjaar se Wêreldvigsdag, “Gelykmaking”, wat die verbetering van die oneweredige voorkoms van MIV as prioriteit stel. Covid-19 het natuurlik ’n groot impak gehad. Die pandemie het die wêreld vir meer as twee jaar oorskadu en veroorsaak dat baie ander globale uitdagings op die agtergrond geskuif is. Kan dieselfde van MIV en vigs gesê word ?

Saruchera reken so: “Die bekendstelling van MIV/vigs-programme is gestaak weens Covid-19, hulpbronne en leierskap is verskuif en toegang tot antiretrovirale terapie is ook negatief beïnvloed.”

’n Toename in werkloosheid, ’n tekort aan voedsel vir mense op behandeling en uitdagings rondom geestesgesondheid vererger die situasie. Om hierdie ongelykhede reg te stel, bied die Afrika-sentrum drie nagraadse akademiese programme in MIV/vigsbestuur in die werksomgewing aan. Die programme bied studente ’n multidissiplinêre lens en insigte in bestuurswetenskap. Vorige studente sluit in mensehulpbronbestuurders, predikers, onderwysers, verpleegkundiges, dokters en direkteure.

“Studente verwerf ’n verskeidenheid vaardighede, insluitend vaardighede in kritiese ontleding en evaluering, en verkry dieper insig in kwessies soos die regsaspekte van die indiensneming van mense met MIV, geslag en seksualiteit, die sosioekonomiese impak van MIV/vigs, migrasie en die skakel met armoede en MIV/vigs, beleidmaking en implementering, programontwerp en evaluering, asook maatskaplike verantwoordelikheid,” verduidelik Saruchera.

Hy glo dat indien MIV/vigs nie doeltreffend bestuur word nie, stigma steeds mense se lewens sal vernietig, infeksies sal aanhou styg omdat mense bang is om vir MIV te toets, behandeling sal nie nagekom word nie, en dit sal lei tot onnodige verlies aan lewens en produktiwiteit. Maar wat belangrik is om te weet, is dat die vaardighede wat onderrig word na enige konteks oorgedra kan word waar mense en organisasies bestuur word vir beter uitkomste tydens uitdagings, soos in die geval van Covid-19. Om plaaslik bewustheid te kweek, het die Afrika-sentrum organisasies en skole in die Stellenboschdistrik genooi na ’n Wêreldvigsdag-byeenkoms met ’n spesiale fokus op MIV/vigs-stigma, geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling.

Saruchera en ander leiers van die US het vanoggend openbare MIV-toetse gedoen om toetsing as lewenstyl aan te moedig en ’n einde te maak aan die stigma. Toetsing is ook beskikbaar vir ander gaste, sowel as toetse vir TB, diabetes en middelmisbruik.

 

Dr. Munya Saruchera, senior lektor en waarnemende direkteur van die Afrika-sentrum vir MIV/vigsbestuur, glo kwessies soos stigma, diskriminasie en ongelykheid wat met MIV en vigs geassosieer word, kom steeds algemeen voor en vereis vindingrykheid om globale MIV/vigs-doelwitte te bereik.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!