Stellenbosser deel ervarings by Midmar Mile se 50ste herdenking

Midmar was nie ‘n Everest nie, maar ons almal het een

“Dit was nog altyd my droom om die Midmar-myl te swem en vanjaar het ek die geleentheid gekry om dit saam met 20 000 ander swemmers te doen – wat ‘n voorreg.”
Dit is die woorde van Thys Lombard, bekende Stellenbosser, uitvoer-verkoopsbestuurder van OIdenburg-wyne in Helshoogte en ‘n diepgewortelde voorliefde vir oopwaterswem.

“Vanjaar was die 50ste herdenking van die begin van hierdie wêreldbekende oopwaterswembyeenkoms – die grootste van sy soort in die wêreld,” vertel Thys. “Ek is van jongs af betrokke by oopwaterswem en het meer daarvan gehou as die swem in swembaddens. Ek was egter op my dag kaptein van Maties se swemspan en het baie byeenkomste bygewoon en goed gevaar. Maar dit was die oopwater wat my nog altyd getrek het. Die vryheid in die see, met jou eie vernuf teen dié van moeder natuur  is iets ongeloofliks om uit te daag.

“My swemloopbaan het ook baie geleenthede geskep vir die vestiging van herinneringe – dit is hoekom ek en my seun nog greeld by Koeëlbaai gaan ‘body surf”. Om saam met hom in die see te swem, branders te ry en te kan spog oor wie die beste in die branders vaar, skep nuwe herinneringe en is iets wat ek met my familie kan deel. Dit is baie beter as enige trofee wat ‘n mens kan wen. Ek wil nie ‘n naletenskap los nie, maar eerder bou aan kwaliteittyd saam met my kinders en familie.”

Thys het in sy jonger dae ook saam met sy pa in die Strand gaan swem en branders gery voordat hulle Windhoek toe getrek. Met hul terugkeer het hulle gesoek na ‘n skool wat swemafrigting aanbied omdat “rugby nie vir my sou gewerk het nie”. Paarl Gimnasium was die antwoord en hy en sy suster Ellen het hul skoolloopbane daar voltooi. In st 7 (gr 9) het hy reeds verskeie swemrekords opgestel en dit was duidelik dat swem sy groot passie was.

“Ek het ook afrigting begin kry by Libby Burrell, wat die Matie-swemklub begin en lank groot suksesse as Matie-swemafrigter behaal het. Toe die binnenshuisie swembad daar in 1982 in gebruik geneem is, het ek vir Maties begin swem en was van 1984 tot 1988 hul manskaptein. My suster was terselfdertyd die kaptein van die vrouespan, ‘n groot voorreg dat ek ook haar goeie herinneringe aan swem by Maties kon deel. Die driekamp-byeenkomste het toe ook net begin en ek het daaraan deelgeneem en in die swem-afdeling meegeding.”

Thys vertel dat die oopwaterswem hom steeds aangetrek het en hy het in daardie tyd aan aldrie die groot see-swembyeenkomste, die Clifton Mile, die Glencairn na Simonstad-uitdaging en  die Fishhoek Mile deelgeneem en almal in een jaar, 1988, gewen.

Hy het saam met Corrie Muller en Fourie Kotze aan die SA driekampbyeenkoms deelgeneem en die aflos gewen en darem R100 se prysgeld gekry om tussen hul drie te deel. In 1983 het Lee McGregor by die lewensreddingsgroep in die Strand aangesluit en hom uitgenooi om ook deel te neem. Hier het Thys ook aan verskeie kompetisies in hierdie dissipline van seeswem deelgeneem.

“Die laaste paar jaar het ek gereeld aan die Cape Mile deelgeneem en die in 2019 vyf jaar het ek al vyf myle van die byeenkoms na mekaar op dieselfde dag voltooi.

“Maar wat die Midmar Myl so besonders gemaak het, was eerstens die feit dat dit al vir 50 jaar aangebied word en dat ek met deelnemers van oorsee kon meeding. Bloot die deelname saam met ‘n groot groep mense wat dieselfde passie deel, is iets besonders. Mike Pengelly is seker die bekendste veteraan en het op 76-jarige ouderdom aan sy 50ste Midmar Myl deelgeneem – dit is eenvoudig ongelooflik. Ek was deel van die Frankie Learns to Swim-projek, ‘n onderneming wat in waterveiligheid vir kinders spesialiseer.

“En alhoewel die weer maar bewolk was en die water koud, is dit ‘n belewenis wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie. Die hele naweek gaan oor swem en ondersteuning van ‘n verskeidenheid liefdadigheidsorganisasies. Die byeenkoms is natuurlik ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die Howick-omgewing – dit is nie verniet die grootste oopwaterswembyeenkoms in die wêreld nie!

“Die ervaring om met so ‘n groot groep swemmers te kon meeding, was beslis ‘n hoogtepunt in my swemloopbaan. Die wegspring is bietjie van ‘n nagmerrie en om verby al die swemmers te kom verg nogal groot inspanning. Die byeenkoms is goed georganiseer en dit is ‘n ervaring wat ‘n passievolle swemmer ten minste een keer moet ervaar.

“Ek het ook die voorreg gehad om Doug Ingram, Olimpiese swemafrigter uit die VSA, te ontmoet en hy het na die byeenkoms ook ‘n besoek by ons op Oldenburg afgelê. Daar was ook ‘n ander meevaller vir my deurdat ‘n velspesialis wat agter my gestaan en wag het om weg te spring ‘n merk op my been opgemerk het en my aanbeveel het om dit te laat verwyder. Dit het ek toe ook al gedoen en wie weet wat sou gebeur as ek nie na haar raad geluister het nie,” sê Thys.

“Maar wat my altyd sal bybly, is die lesse wat ‘n mens met swem leer. Ook hier by die Midmar Myl het ek weer iets geleer – Ingram het gesê dat elke mens nie berg Everest kan uitklim nie, maar dat elke mens ‘n Everest op sy pad kry – iets intimiderends wat hy of sy moet oorwin, en dat ons net sulke uitdagings moet aanvat,” het Thys gesê.

Saam met my held, Paul Blackbeard wat die kompetisie baie gewen het. Hy het die hele pad van Australië gekom en weer die 60+ ouderdomsgroep gewen.
Op die boot oppad na dsie wegspring saam met Michelle Weber en Paul Blackbeard en die Olimpiese 10km-kampioenm van Holland, Sarah Vanrouwendaal.
Thys en sy suster Ellen as Maties-swemkapteine in die 1980-‘s.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!