Talle medaljes en rekords vir Bloemhoffers

Bloemhof-atlete laat rekods spat

Lisa de Wet

Wanneer byna 2000 Bloemroos-leerders saam op die pawiljoen omdraai om een van die legendariese Bloemroos-krete te sing, weergalm nie net die stemme en die stampende voete deur die hele stadion nie, maar ook die band wat tussen dié broer- en susterskool bestaan: ‘n band wat nie sommer elders gevind word nie.

Die sweet, trane en hoendervleis in die warm Paarl-son sal altyd soveel meer as die puntetelling beteken, maar steeds het Bloemhof uitstekend gevaar.Dit was weer die geval by die 2023 Prestige -atletiekbyeenkoms wat in die Paarl gehou is.

Die o.15’s verbeter ses rekords – Simone van der Merwe in die 800 m, Daniela Viljoen in die 800 m en 1500 m, en Pippa Viljoen in die 200 m en 400 m. Ook in die 4 x 100 m aflositem verbeter die dames die rekord.

Lana Oberholzer én Mignonne de Beer het ook die rekord in die o.17 100 m-hekkies verbeter deur onderskeidelik eerste en tweede in hierdie item te eindig Bloemhof het 18 goue medaljes, 18 silwer en 17 brons medaljes verower.

Pippa Viljoen is aangewys as die beste junior baanatleet en Lana Oberholzer as die beste senior baanatleet.

Bloemhof se baadjietrots en die klipharde, onophoudelike geeskrete het aan elke laaste Bloemroos-leerder die energie verleen om so effens vinniger te hardloop, verder te spring en verder te gooi. Selfs die dansers was dankbaar toe Bloemroos aanhou juig het ongeag die tegniese probleme wat krummelkrag veroorsaak het. Tot Fidel en Paul Roos het gedurende die dag saam die musiek en gees geniet!

Vir baie van die jonger leerders was dit ‘n eerste ervaring, een wat hulle vir altyd sal koester, maar die matrieks se stemme en harte was die heel seerste toe hulle een laaste keer die skoollied by Prestige moes sing.

‘n Derde plek bly altyd ‘n voorreg indien dit in die maroen- en navybaadjies verower is.

Die o.17-aflosspan het vir groot opgewondenheid gesorg toe hulle die 4 x 100m-aflosrekord van 49.04 sekondes na 47.70 sekondes verbeter het. V.l.n.r: Nell Basson, Mignonne de Beer, Lara Ehlers en Lana Oberholzer.
Pippa Viljoen (o.15) steek die wenstreep oor aan die einde van haar 400m waar sy met ‘n tyd van 58.56 sekondes die goue medalje verower het.
Lana Oberholzer het skoonskip gemaak in die o.17 100m Hekkies-item en ‘n nuwe rekord van 13.87 sekondes ingestel.
Daniella Coetzee, Lineke van Zyl en Amelie Morgan het die atlete van die kantlyn af ondersteun.
HMS Bloemhof se Huisleiers en die gelukbringer, Fidel, het seker gemaak die Bloemhoffers bly begeesterd by die 30ste 4M-atletiekbyeenkoms.
Wilna van Heerden, skoolhoof, Lana Oberholzer en Andre van Staden hoof van Paul Roos.
Mike Britz spring weg in die afloswedloop.
Wilna van Heerden, Pippa Viljoen en Andre van Staden.
SIimone van der Merwe en Daniella Viljoen in aksie.
Die Bloemhof-dansers het die skare op hul voete gehad.
Bloemhof se leerders voer hul 4M-kreet op.
‘n Ongekende gees van opgewondenheid het by die byeenkoms geheers

Foto’s: Jan van Zyl, Digital Image Warehouse en HMS Bloemhof (verskaf)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!