‘n Suksesvolle week van sport by PRG
‘n Hoogtepunt vir PRG-sport oor die afgelope week is PRG se krieketuitslae na afloop van hul wedstryde teen GreyBloem, Paarl Gimnasium, Durbanville en Strand Hoërskool. Paul Roos se o19-, o.15- en o.14-spanne het aan 21 wedstryde deelgeneem waarvan hulle met ‘n trotse 14 (67%) van die wedstryde skoonskip gemaak het.
Trotse oomblikke was toe Paul Roos se o.19A-span GreyBloem in 50 boulbeurte met 99 lopies én Paarl Gimnasium in 50 boulbeurte met 7 paaltjies geklop het. Paul Roos se o.15A-span het GreyBloem met 1 paaltjie gewen en hul o.14A-span met 9 paaltjies.
Atletiek
Paul Roos-atlete het 22 medaljes na afloop van die Boland junior atletiekkampioenskappe huistoe gebring. Zak Hickman (o.18-hamergooi), Reuben van der Merwe (o.18-spiesgooi), Harrison Gibson (o.18-hoogspring) en Mark Lester (o.16 1500 m) het almal goue medaljes tussen 23 en 25 Februarie in die Dal Josephat Stadium verower.
Bergfietsry
Dertien bergfietsryers van Paul Roos het aan die WC XCO #2-toernooi deelgeneem. Uitblinkers op dié gebied was JP du Plessis wat eerste geeïndig het in die junior-mansafdeling, en Van Zyl Steyn (o.16) wat tweede geeïndig het in die jeug-mansafdeling.
Waterpolo
Paul Roos Gimnasium se B-, C- en D-waterpolospanne het op 24 en 25 Februarie teen Wynberg Hoërskool gekompeteer en 9 uit 10 van dié wedstryde teen Wynberg gewen.