Vasbyt laat Elandri oor wenstreep kruip
Elandri Schmidt, ‘n gr.12-leerder aan HMS Bloemhof, het in haar 3000 m-item by die ASA Junior Atletiekkampioenskappe op 25 Maart in Pietermaritzburg gewys waarvan ‘n ware Bloemhoffer gemaak is.
Sy het deelgeneem aan die 3000 m terwyl haar spesialiteit eintlik 1500 m is. Haar bene hetn et voor die wenstreep onder haar ingegee, maar sy het voortgebeur en oor die wenstreep gekruip.
James Moloi, hoof van ASA, het aan www.stellenboschmonitor gesê Elandri se prestasie toon veerkragtigheid.
“Sy het in die moeilike toestande aan hitte-uitputting gely. Sy het in die laaste rondte oor die bane begin swenk en in die pylvak inmekaargesak. Sy het daarin geslaag om oor die lyn te kruip en haar skouers oor te kry om ‘n tyd te registreer, wat haar die tweede plek besorg het.”
Haar volledige uitslae was as volg:
o.20 1500 m Vroue: Bronsmedalje
o.20 3000 m Vroue: Silwermedalje
Sy het ook op 14 April aan die Cape Milers/Endurocad Wêreld-atletiek se kontinentale atletiektoer in Groenpunt deelgeneem. Hier het sy aan die 3000 m in die elite-seniorkategorie deelgeneem en ‘n agtste plek behaal asook ‘n seisoenbeste van 10:02.