Gaan skenking van R15 miljoen aan DA pad na Libertas-ontwikkeling plavei?

Inwoners ruk op teen Libertas-ontwikkeling

Die beoogde ontwikkeling van ‘n gedeelte van die geskiedkundige plaas Libertas op Stellenbosch het inwoners vandeesweek rooi laat sien.

Die plaas, wat reeds in 1707 deur Tas na Libertas herdoop is nadat hy vir 13 maande in die Donker Gat van die kasteel  in Kaapstad toegesluit is, gaan, as die ontwikkelaars hul sin kry, in ‘n woonbuurt met ongeveer 1200 huise op drie verskillende dele van die plaas omskep word.

Dit is veral inwoners van Die Boord wat hieroor omgekrap is, maar belastingbetalers van Stellenbosch is ontevrede omdat daar nog geen behoorlike studies oor hersonering, die impak op die omgewing en openbare deelnameproseses gehou is nie.

“Wat die ergste is, is dat die ontwikkeling buite die stedelike grens van die dorp val en die ontwikkeling dus direk teenstrydig is met die beginsels wat deur die Stellenbosch-munisipaliteit self vasgestel is oor die bestuur van ruimtelike ontwikkeling in die dorp. Sou die aansoek goedgekeur word, kan die munisipaliteit nie sy eie beginsels oorboord gooi en dit ter wille van sogenaamde voordelige uitbreiding van die dorp nie,” het ‘n woordvoerder van die Stellenbosse belastingbetalersverenigng by navraag gesê.

Die voorgestelde ontwikkeling beslaan ongeveer 180 ha, terwyl sowat 50 ha uitgehou word. Daar is drie blokke waarbinne die ontwikkeling sal geskied, een blok met 7 eenhede, een met 500 eenhede en een met 700 eenhede, tesame met beperkte kommersiële ontwikkeling.

“Dit is ook belangrik om daarop te let dat die oorskreiding van die stedelike grens nie ‘n  buitengewone konsep vir die Stellenbosch-munisipaliteit is nie aangesien die aanpassing van die stedelike grens al voorheen gedoen is vir uitbreidings wat tot nadeel van gemeenskappe in Jamestown, Raithby, Kylemore en Johannesdal gedoen is. Ons voel die huidige munisipale bestuur toon ‘n ernstige gebrek aan kommer oor die bewaring van Stellenbosch se historiese erfenis, lewensgehalte en sosiale eenheid omdat hulle voortgaan om hierdie vernietigende praktyke te fasiliteer,” het ‘n lid van Die Boord-aksiegroep gesê.

Op ‘n vergadering van ongeveer 120 regshebbende inwoners van Stellenbosch en veral Die Boord, is daar gesê die beoogde aansoek om ontwikkeling wyk af van munisipale beleid veral met bepalings in die reeds aanvaarde en goedgekeurde ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP). Inwoners voel dit moet ten alle koste vermy word.

“Die argument is eenvoudig – daar is geen noodsaaklikheid vir hierdie ontwikkeling nie. Die beplande Adam Tas-korridor gaan reeds duisende nuwe inwoners na Stellenbosch lok en opsigself groot druk op die beperkte infrastruktuur van die dorp plaas. Die munisipaliteit se mislukte nie-gemotoriseerde vervoerplan (NMV) skiet tekort aan inhoud en dra tans geen gewig nie en kan dus nie ten gunste van die ontwikkeling as argument gebruik word nie. Sowel die Adam Tas-korridor as die NMV moet eers ten volle ontwikkel wees voordat regverdiging vir die uitbreiding van die stedelike grens oorweeg kan word.”

Volgens ‘n woordvoerder van die Stellenbosse belastingbetalersvereniging, gooi die munisipaliteit sy eie beginsels oor ontwikkeling oorboord, sou dit goedgekeur word.

“Die hele kartakter van Stellenbosch gaan verander en een van die grootste inkomstebronne, toerisme, gaan nadelig beïnvloed word deur die verwagte verkeersopeenhopings. Omdat die sonering vir gemengde gebruik geoormerk is, kan die ontwikkelaars feitlik enigiets daar doen. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat meer natuurlike – en landbougrond verlore gaan nie. Nog ‘n beginsel van die aanvaarde 2019 munisipale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (MROR) wat deur die voorgestelde ontwikkeling geïgnoreer word, is dat nedersettings beperk moet word om die natuur en landbougebiede te beskerm.”

Inwoners het ook die voordeel wat hierdie ontwikkeling vir Die Boord sou inhou, bevraagteken. Na beraming sal daar meer as 2 000 nuwe voertuie die enigste toegangsroete na die Libertas-ontwikkeling moet gebruik wat ongekende druk op motor- en voetgangerverkeer in Van Reedestraat gaan plaas, die waarde van eiendomme in die gebied nadelig raak en ook groot druk op die kruising met die R44 plaas.

“Boonop hang daar ‘n groot vraagteken oor die beweerde skenking van ‘n bedrag van by die R30 miljoen deur die ontwikkelaars aan die Demokratiese Alliansie (DSA) wat net soos in die geval van Adam Tas se stryd met die destydse bewind aan die Kaap oor korrupsie en onetiese gedrag gegaan het, nou ook die plaaslike munisipaliteit van Gesie van Deventer in die gesig staar,”het ‘n ontstoke inwoner by die vergadering gesê. “As uitvoerende burgemeester en ingevolge die munisipale goedkeuringstelsels soos dit tans bedryf word, het sy min of meer ‘n veto-reg oor alle munisipale besluite en kan sy selfs ‘n appél, teen so ‘n ontwikkeling ten gunste van die ontwikkelaars van die tafel vee.”

Pat Botha van die Stellenbosch Belangegroep het gesê die voorgestelde ontwikkeling op so ‘n historiese plaas, en dit buite die stedelike grense van Stellenbosch, is onaanvaarbvaar.

“Die stadsbeplanners betrokke, First Plan, se Gideon Roos kon nie sê watter voordeel die ontwikkeling vir Die Boord inhou nie. Sy enigste verweer was dat dit ‘n groter belastinginkomste vir die dorp sou meebring. Die proses sal in drie fases gedoen word – inligting van die gemeenskap, aansoeke vir hersonering by verskillende departemente soos landbou, en ‘n omgewingsimpakstudie – ‘n proses wat tot 2 jaar kan duur.

“Ons grootste besware is die verbreking van die stedelike grens, dat dit ‘n historiese plaas is wat grotendeels vernietig gaan word en die verkeersopeenhopings in ‘n reeds verstopte verkeerstelsel wat sal vererger,” het sy gesê.

Die raadslid vir wyk 22, Esther Groenewald, het by die geleentheid gesê hulle sal nie kopgee oor die verandering van die landelikheid van Die Boord nie, asook nie dat die karakter en erfenisstatus van die omgewing aangetas word nie.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het soos volg op navrae gereageer:

“Enige grondeienaar kan ‘n grondgebruikaansoek loods. Die munisipaliteit het ‘n pligsorg om enige aansoek wat aan die administratiewe vereistes voldoen, te prosesseer. Hierdie prosesseering van ‘n grondgebruikaansoek beteken nie op sigwaarde dat die aansoek gesteun word nie. Die munisipaliteit moet op hierdie stadium slegs die aansoek prosesseer en die proses van stapel stuur, voordat ‘n besluit deur die Munisipale Bepanningstribunaal geneem word.

“Die grondgebruikaansoek is geadverteer vir publieke kommentaar. Op versoek van belangepartye het die aansoeker ingestem om die tydperk vir publieke deelname te verleng tot 21 Junie 2023. Daar is ook ingestem om tydens hierdie periode ‘n openbare vergadering deur te hou.

“Om die integriteit van die proses, wat nog in sy beginfase is, te verseker en alle betrokke partye te beskerm (die aansoeker, die belangepartye wat die aansoek ondersteun, sowel as die belangepartye wat die aansoek teenstaan), sal dit onverantwoordelik wees om kommentaar te lewer oor sekere opinies of besware. Lede van die publiek word aangemoedig om van die publieke deelname proses gebruik te maak om hul insette te lewer.”

 

Talle bestaande besighede in Van Reedestraat gaan deur die ontwikeling geraak word.
Hierdie rustige landelikheid, so eie aan Stellenbosch, staan gevaar om permanent vernietig te word sou die Libertas-ontwikkeling voortgaan.
  • Sowel First Plan as die munisipaliteit is om kommentaar genader, maar het met die ter perse gaan nog nie gereageer nie. Hul insette sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

One Reply to “Gaan skenking van R15 miljoen aan DA pad na Libertas-ontwikkeling plavei?”

  1. Keep the Stellenbosch Idyl – there is enough space for development – but create some roads to bypass this treasure – and keep all the heavy trucks out of town !!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!