Almal kan 7 lewens met orgaanskenkings red

Mediese studente span tegnologie in om tekort aan oorgaanskenkers die hoof te bied

 ʼn Groep tegnologies-vaardige mediese studente van die Universiteit Stellenbosch (US) span die mag van algoritmes en kunsmatige intelligensie (KI) in om broodnodige bewustheid van orgaanskenking in Suid-Afrika te kweek.

Die Save7-inisiatief is ʼn organisasie sonder winsbejag wat deur studente gestig is om die boodskap uit te dra dat elke Suid-Afrikaner die potensiaal het om sewe lewens te red deur hul niere, hart en longe te skenk wanneer hulle sterf.

Jonty Wright (20), ʼn derdejaarstudent, het Save7 gestig nadat hy pasiënte in die hospitaal ontmoet het wat desperaat op organe gewag het. “Daar was niks meer wat dokters vir hulle kon doen nie en hulle het letterlik gewag om te sterf. Iets daaromtrent het vreeslik verkeerd gevoel en ek het geweet ons moet iets doen,” het Wright gesê.

Hy het hom tot tegnologie gewend. Eers het hy ʼn webwerf geskep om bewusmaking te verhoog en toe het hy homself geleer om ʼn KI-kletsbot te programmeer om vrae oor orgaanskenking in Suid-Afrika te beantwoord. “Dink daaraan as ChatGPT, behalwe dat dit ʼn kenner op die gebied van orgaanskenking is,” het hy oor sy uitvinding gesê.

Wright se ouers is grafiese ontwerpers en het gehelp om die Save7-handelsmerk aanloklik te maak met waagmoedige ontwerpe en ʼn gesprekstyl wat by ʼn jong, digital-vaardige gehoor aanklank sal vind. “Veral die jonger geslag weet nie genoeg van orgaanskenking nie,” het Wright verduidelik. “Ons moes hierdie moeilike onderwerp eenvoudiger maak om die publiek te betrek, daarom fokus ons narratief meer op ‘vermenigvuldiging van lewe’ in die hede, as om oor die dood in die toekoms te dink.”

Benewens die verskaffing van inligting en die beantwoording van vrae, het Save7 ook ʼn vennootskap met die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika aangegaan om gebruikers in staat te stel om binne minder as ʼn minuut as skenkers te registreer. “Jy kan Save7.org gebruik om aan te sluit en ʼn persoonlike boodskap vir jou naasbestaandes te los, wat saam met jou handtekening ʼn wetlik erkende testament skep wat betref jou onderneming om jou organe te skenk. Die hele proses duur minder as ʼn minuut en is absoluut gratis – en dis ʼn eerste in Suid-Afrika.”

Die Save7-span het dit ook vir gebruikers maklik gemaak om hul vriende en gesinslede aan te moedig om as skenkers te registreer en dieselfde gesprekke met hul gesin te voer deur ʼn WhatsApp API (toepasingsprogramkoppelvlak) te gebruik. Soos Wright dit gestel het: “Deur aan te sluit kan jy sewe lewens red, maar deur jou netwerk aan te moedig om jou voorbeeld te volg kan jy eksponensieel meer lewens red.”

ʼn Miljoen Suid-Afrikaners

Hulle is tans besig met ʼn veldtog wat ten doel het om meer as ʼn miljoen Suid-Afrikaners teen einde Augustus, wat internasionaal as Orgaanskenkermaand erken word, te bereik.

Maar hul pogings is nie tot groter bewusmaking beperk nie. Sedert sy ontstaan het Save7 naverwerkingsdatastelsels ontwikkel wat die komplekse administratiewe prosesse vereenvoudig wat by oorplantingverwysings en pasiëntondersteuningsgroepe betrokke is. “Soos wat jy dieper in die orgaanskenkingsekosisteem in Suid-Afrika delf, ontdek jy baie krake waardeur potensiële skenkers kan val, soos ondoeltreffende verwysingstelsels, ʼn tekort aan gesentraliseerde databasisse en swak pasiëntondersteuning, om net ʼn paar te noem.”

Save7 het met VulaMobile saamgespan om ʼn gebruikersvriendelike verwysingsportaal te skep vir dokters om potensiële skenkers na oorplantingseenhede te verwys. “Die punt is om hierdie verwysing so maklik as moontlik vir gesondheidswerkers te maak. Dit is werklik ʼn tragedie wanneer gewillige skenkers met gesonde organe verlore gaan omdat die huidige verwysingsproses ongerieflik vir dokters is.”

Die Save7-span het ook die eerste nierpasiënt-ondersteuningsgroep by die Tygerberg-hospitaal gevesstig, wat tans met 50 lede spog. “Dit is maklik om in die oplossing van die groot probleme vasgevang te raak en van die mense voor ons te vergeet. Ons doelwit met die ondersteuningsgroepe is nie net om ʼn broodnodige gemeenskap vir ons pasiënte te verskaf nie, maar om ʼn raamwerk te skep wat ander openbare hospitale kan gebruik om na te volg,” sê Naazim Nagdee, Save7 se vise-president.

Die ondersteuningsgroep word gelei deur Melissa Jacobs, ʼn voormalige pasiënt wat self ʼn orgaan ontvang het. “Toe ek dialise ontvang het, sou ek regtig iemand se ondersteuning waardeer het. Iemand wat my kon opvoed oor my toestand, oor hoe om na my liggaam om te sien, hoe om selfversorgend te wees en veral hoe om die emosionele en sielkundige impak van hierdie toestand te hanteer,” het Jacobs gesê. “Ná my oorplanting het my dokter my van Save7 vertel en ek het die geleentheid gesien om betrokke te raak en dít wat ek nodig gehad het, te bied aan diegene wat nog dialise ontvang het.”

Prof Elmin Steyn, oorplantingschirurg en hoof van chirurgie by die US en die Tygerberg-hospitaal, is vol lof vir haar studente se inisiatief. “Dis hartsverblydend om te sien dat deernisvolle jong mediese studente KI-tegnologie en sosiale media gebruik om die minder bevoorregtes te help. Hierdie veldtog het die potensiaal om orgaanskenking nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd ʼn hupstoot te gee. Almal moet dit ondersteun.”

Hul doel is om ʼn stelsel te skep wat maklik deur ander studente, dokters en oorplantings-koördineerders wêreldwyd nagevolg en geïmplementeer kan word. “Ons streef ʼn oplossing na wat onmiddellik en maklik toepasbaar is,” het Sachen Naidu, Save7 se tesourier, gesê. Hierdie doelwit verg dat hulle hul vordering noukeurig dokumenteer, asook doeltreffende strategieë en tekortkominge ontleed. Hulle beoog om strukturele en organisatoriese prototipes te verskaf wat toekomstige orgaanskenkingsinisiatiewe reg oor die vasteland kan help.

“Ons is geïnspireer deur die beginsel van oopbronsagteware – dit bied die basiese raamwerk wat ander net kan kopieer en in hul eie unieke omgewings kan ‘plak’,” het Naidu verduidelik. Die Save7-span glo hulle kan die proses vir ander in soortgelyke situasies vereenvoudig deur hul eie ervarings in ʼn ontwikkelende land te deel. “Ons hou daarvan om daaraan te dink as die ontwikkeling van ʼn sorgpakket wat op enige plek ontplooi kan word.”

Save7 word deur die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging (SAOV), Mediclinic, die Orgaanskenkerstigting, asook die Universiteit Stellenbosch ondersteun. Hulle is geheel en al studentgedrewe en word deur vrygewige skenkers gefinansier. Belangstellendes wat hulle help om hul doelwit te bereik kan met hul skakel of ʼn skenking by Save7.org doen.

  • Matipa Ledwaba, ‘n Save7-lid en Jonty Wright.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!