Susterskole deel pret en plesier in winterweek

Winterweek weer groot sukses

Vera van der Merwe (Bloemhof, gr.10)

Tydens die week van 24 tot 28 Julie het die lang verwagte Wintersweek tussen die Hoër Meisieskool Bloemhof en hul susterskool, Rhenish Girls’ High, aangebreek en ‘n week vol opwinding en pret is gedeel.

Die week het afgeskop met Afrikaanse pret in Bloemhof se kleinsaal. ‘n Paar graad 10-klasse van beide skole het Dinsdagoggend bymekaar gekom en tussen versnapperings mekaar beter leer ken en nuwe vriendskappe gevorm.

Woensdagoggend het die VRL en personeel van die twee susterskole mekaar entoesiasties op die netbaalbaan die stryd aangesê met groot gees en luide aanmoediging van die ondersteuners.  Vrydag tydens eerste pouse het Rhenish ‘n kosmarkie aangebied met smullekker melktert en koeksisters.

Woensdag 26 Julie het die ware kompetisie begin. Landloopatlete het die middag in die koue ‘n lang roete aangepak en gewys wat ware uithouvermoë behels. Die twee skaakspanne het ook met versigtige beplanning met skaakstukke in Rhenish se biblioteek oorlog gevoer.

Donderdag 27 Julie het die redenaars met vlymskerp woorde en opinies hul standpunte oortuigend oorgedra. Die netbalwedstryde het later begin en in flitse van maroen en vlootblou het die eerste span netbalspelers wêreldklas spel gelewer. Kochstraat het behoorlik weergalm soos beide skole deur verskeie liedjies hulle spanne met groot oorgawe ondersteun het.

Wintersweek se naam is nie verniet ‘n verwysing na die koue en reënerige winteromstandighede van Stellenbosch nie.  Vrydag het die reën behoorlik uitgesak en moes die oorblywende netbalwedstryde na die Bloemhof-sentrum verskuif.

Alhoewel die netbalwedstryde kon skuif, moes die hokkiespanne die reën trotseer. Sopnat toeskouers het geesdriftig hulle kele rou geskree en die eerstespan hokkiespelers het in die reën speel moeiteloos laat lyk.

Die winter het sy tande gewys, maar Bloemhoffers kan met trots sê: Semper Fidelis,  Altyd Getrou.

Bloemhof en Rhenish se eerste hokkiespanne deel hul vreugde en vriendskap.
Ons vang gees!
Bloemhof se eerste netbalspan.
Anica Venter, kaptein van Bloemhof se eerste hokkiespan.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!