Groot lugskou die naweek op Stellenbosch

Orkes span saam met vliegtuie vir besonderse vertoning

Die enigste lugskou in die Wes-Kaad word hierdie naweek op Stellenbosch gehou en met die groot hoeveelheid vliegtuie wat in aksie gesien gaan word, kan besoekers ‘n skouspel sonder weerga verwag.

Die lugskou word op Vrydag 22 Maart en Saterdag 23 Maart by die Stellenbosse vliegklub net buite Stellenbosch op die R44 na Somerset-Wes aangebied.

Anton Theart, bestuurder van die Stellenbosch-vliegklub, het gesê alles word gedoen om die dag so aangenaam as moontlik vir besoekers te maak.

“Ons verwag nagenoeg 6000 toeskouers en wil seker maak dat dit vir almal, ook die plase en besighede in die omgewing van die vliegklub, ‘n aangename ervaring sal wees,“ het hy gesê.

Anton het gewaarsku dat kaartjies net op Quicket te koop is en nie enige ander platform nie. “Ander kaartjies wat tans te koop aangebied word, is nie geldig nie en mense moet asseblief nie daar gaan koop nie aangesien dit nie geldig gaan wees vir enige van die twee dae nie,“ het Anton gewaarsku.

Buitend die groot getal vliegtuie wat by die lugskou in aksie gaan wees, is daar ook ‘n uitsonderlike vertoning Vrydagaand teen sononder.

Dan  gaan die gevierde Stellenbosse stadsorkes ‘n uitvoering gee terwyl van die vliegtuie aan verbyvlugte en lugtoertjies gaan deelneem.

“Talle van die vliegtuie wat in ons vorige lugskou in aksie was, gaan vanjaar weer hier ‘n draai kom maak. Daar is egter nog onsekerheid oor sommiges, so besoekers kan gerus ons program dophou om te sien of daar enige veranderinge is. Ons wag so nog vir bevestiging of die Grippen van die SA Lugmag sy verskyning gaan maak – dit sal verseker ‘n groot aantrekkingskrag wees omdat ‘n mens hulle maar min hier rond sien.

“Soos gebruiklik sal die lugskou geopen word met valskermspringers wat ‘n reuse Suid-Afrikaanse vlag by hulle sal dra en daarna gaan die pret begin. Die Flyng Lions Harvards behoort vanjaar ook weer een van die hoogtepunte te wees met hul formasievlugte en kunsvliegvernuf. Dit laat toeskouers elke keer na hul asems snak.

” ’n Ander demonstrasie wat groot byval by die toeskouers sal vind is die Working On Fire Kishugu-vuurbeheerdemonstrasie. Die afgelope paar maande het die Wes-Kaap swaar geleef onder die talle bos- en veldbrande en hierdie helde van die lug  het lang ure in gevaarlike omstandighede gewerk om die brande te stuit. Om hulle van naderby in aksie te sien, gaan beslis vir groot opwinding sorg,” het Anton gesê.

TSU se taktiese lugsteunpan gaan ook ‘n opwindende demonstrasie lewer, terwyl die reuse Antonov ook die lugruim gaan deurklief. Sprake van ‘n groot passasiersvliegtuig wat ‘n verbyvlug gaan doen, kon nog nie bevesetig word nie, maar is dalk ook op die kaarte.

Vrydag se hoogtepunt is ongetwyfeld die gesamentlike optrrede van die Stellenbosch-stadsorkes en die Harvard-kunsvliegspan – dit alles teen sononder wanneer ‘n magiese atmosfeer geskep gaan word.

Saterdahg  (23 Maart) is propvol opwinding en die aksie begin reeds om 08:00 en duur tot 16:00. Toegang is via die Annadale-pad en nie die R44 nie en besoekers word versoek om seker te maak van die roete.

Talle stalletjies wat kos en iets te drinke aanbied sal op die terrein beskikbaar wees en kinders onder 5 kry gratis toegang – dit is dus ‘n geleentheid vir die hele familie.
Toeskouers en mense wat dit nie kan bywoon nie, kan ook die gebeure volg op Kaapstad Radio se lewendige stroomdiens by https://onelink.to/RadioCapeTown of van hul webtuiste by  https://radiocapetown.co.za/. Alex MacPhail is die gasheer wat die aksie sal beskryf.

Kaartjies is beskikbaar https://www.quicket.co.za/events/247561-stellenbosch-airshow-2024/

 

Kunsvliegtoertjies is volop by die lugskou die naweek.
Working on Fire se lugvleuel gaan demonstrasies lewer.
Valslermspringers gaan luister aan die geleentheid verleen.
Alle paaie lei Vrydag en Saterdag na die Stellenbosse vliegklub vir die enigste lugskou in die Wes-Kaap hierdie jaar.
‘n Kunsvlieg-skouspel wag op besoekers aan die Stellenbosse lugskou hierdie naweek.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!