Meer as 11 000 AI-werke reeds geskep
Annette Havenga
Johan Kotze is geen onbekende in Stellenbosch nie. Alhoewel hy nie sy werk as uniek beskryf nie, spreek die andersheid van sy werk tog tot kunsliefhebbers. Die kunstenaar sê dat hy in nou 100 persent bemoeid is met AI en gesels voorts dat hy dit baie geniet. Hy is vreeslik gefassineer deur vorms en patrone. Hy skerts dat hy, as ywerige fotograaf, gedurig sommer net patrone afneem en al vreemde kyke in Stellenbosch se strate gekry het wanneer hy patrone op die sypaadjie afneem.
“Ek het al meer as 11,000 werke geskep met AI. Ek is heeltemal bewus dat baie mense nog uiters skepties is omtrent AI en ek begryp dit. Maar ek omhels dit en gebruik dit,” meen Johan.
Die kunsgogga het Kotze van jongs af gebyt en hy vertel dat hy nog maar altyd geteken het. Sy destydse kunsonderwyser, Nico van Rensburg, het hom baie bemoedig. Van Rensburg het self ook later bekend geraak vir sy skilderwerk en hoof geword van die Johannesburg-kunsskool. Nadat Kotze weer klasse by sy mentor geloop het, het die twee ook vriende geword. Hy het ook later by Dale Elliot in Knysna ‘n paar klasse geloop.
Vir hierdie kunstenaar is sy energieke verbeelding iets waaroor hy baie dankbaar is en sê sy inspirasie kom van oral en dat: “een beeld of foto lei gewoonlik tot iets anders. Ek besef maar al te goed ek is baie bevoorreg.”
Tans is hierdie uitsonderlike werke net op Facebook te siene, maar hy beloof om weer, soos tevore, by die Dorpstraat-markie in Stellenbosch uit te stal sodra die geleentheid weer daar is. Tans hou hy homself beseg deur elke dag te werk aan sy kuns en sê dat hy nêrens anders wil wees as in Suid-Afrika en Stellenbosch nie.
“Ek is mal oor die plek en dit is vol inspirasie, elke dag.”
Wat is sy boodskap aan ander kunstenaars, veral die jong, onervare beginners?
“My boodskap sal wees – kyk rond in jou omgewing en raak bewus van moontlike patrone of vorme wat omskep kan word in iets moois.”
Na ‘n uitnodiging om met kinders te gesels, het hy vir hulle ‘n paar foto’s van die sypaadjie gewys en toe die resultaat nadat hy daaraan gewerk het en sê dat hy dit baie geniet het om met hulle te gesels.
Sy eie fotografie-inspirasie kom van mense soos Obie Oberholzer vir fotografie en op skildervlak, van Nico van Rensburg, maar sê ook dat daar ander mense sommer baie naby is.
Kotze, wat in Desember sy 80ste verjaarsdag vier, woon al vir 25 jaar in Stellenbosch. As kind het hulle baie rondgetrek as gevolg van sy pa se werk as aflos-stasiemeester op die spoorweg en was hy in ses verskillende laerskole. Hy het sy hoërskooljare op Potchefstroom in die koshuis spandeer. Nadat hy in Johannesburg gaan werk het en later getroud is, het hy na Australië geëmigreer. Hy het twee jaar daar gewoon voordat hy terug gekom het Suid-Afrika toe en hy homself in Stellenbosch gevestig het.
Hierdie oupa van 13 kleinkinders is baie kreatief. “Hulle kan baie goed teken, so ek hoop dit raak ernstig.”
5 vinnige-vrae aan Johan:
Bos of see? Bos
Koffie of tee? Koffie
Oggend of aand mens? Aand
Pizza of steak? Definitief steak…..met ‘n goeie rooiwyn