SA wynbedryf moet langtermyngroei verseker

Geleentheid vir herposisionering van wynbedryf nou hier

Fokus, glo en implementeer strategieë om huidige geleenthede aan te gryp, posisioneer Suid-Afrikaanse wyn as wêreldleier in volhoubaarheid, wees onbaatsugtig, en kyk verby huidige neigings om langtermyn-bedryfsgroei en veerkragtigheid te verseker.

Dit was die hoofboodskap by vanjaar se wynkonferensie wat Donderdag in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) gehou is. Die byeenkoms is bygewoon deur beryfsleiers, belanghebbendes en media om insigte uit te ruil en die toekoms van Suid-Afrikaanse wyn te bespreek.

Rico Basson, bestuurshoof van South Africa Wine, glo daar is verskeie moet-wen gevegte wat die bedryf moet uitspook en verskeie groeigeleenthede wat, indien  geïmplementeer, broodnodige verandering vir groei kan verseker.

“Baie van ons druiweprodusente en wynkelders bly onder kontantvloeidruk weens hoër-as-inflasie-kostestygings, ’n laer oes en lae prysstygings. Dít, tesame met faktore soos politieke onsekerheid, het die afgelope dekade tot laer aanplantings en wingerdvervanging gelei.”

Rico Basson

Neigings

Alhoewel Felicity Carter, stigter van Drinks Insider en wynkenner, die opkoms van verfrissende wit- en robuuste rooiwyn, wyntoerisme, en ’n fokus op klimaatsverandering en volhoubaarheid as hooftendense identifiseer, is daar ander opkomende tendense in die bedryf wat ons moet dophou soos om millenniërs te betrek, die groei van lae- en geen-alkoholwyne en die neiging om meer gesond te wil lewe.

Felicity Carter

“Hoekom drink millenniërs nie genoeg wyn nie? Jonger verbruikers soek geur. In ’n wêreld van eindelose geure is twee dinge vir jong verbruikers van kardinale belang: wynopvoeding en premie wyn. Belê in onderrig en skep ambassadeurs, en maak wynversameling deursigtig, maklik en toeganklik vir almal.”

Carter het die gebruik van tegnologie beklemtoon om wingerdbestuur radikaal te verander. Om siektes soos rolblaar voor te spring voor dit manifesteer, sal wyngehalte en volhoubaarheid aansienlik verbeter. Terwyl byna die helfte van wynkelders wêreldwyd te kampe het met akute arbeidstekorte, veral van wingerdwerkers, is Suid-Afrika ’n belangrike wynproduserende land wat nie deur hierdie kwessie geraak word nie, wat die voordeel hiervan vir die handhawing van konsekwente produksie beklemtoon.

Volgens Carter beïnvloed kommer oor gesondheid mense se drinkgewoontes met verskeie mense wat swakker slaapgehalte na alkoholverbruik opmerk, wat deur slimhorlosies aangedui word. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) se verklaring dat geen vlak van alkohol veilig is nie, het selfs nog vrae laat ontstaan. Gevolglik daal alkoholverbruiksyfers in baie lande, veral die VSA, weens hierdie gesondheidspersepsies.

“Hierdie persepsies is ’n groot uitdaging vir die wynbedryf. Dis nou veral belangrik om wyn se rol as ’n plaas-tot-etenstafel-drankie en integraal tot die Mediterreense dieet te beklemtoon én matige verbruik te bevorder. Wyn se kulturele waarde as ’n gedeelde ervaring kan help om dalende verbruikerstendense teë te werk.

“Die wynbedryf staar verskeie uitdaging in die gesig, maar kan leer by hoogs suksesvolle individue. Hierdie mense het vyf sleutelkarakteristieke in gemeen: hulle werk hard, fokus voortdurend op kwaliteit, staan ferm in wat hul glo, toon ambisie en skep ’n gemeenskap met goeie smaak. Deur hierdie beginsels aan te neem kan die wynbedryf die uitdagings bestuur, kwaliteit en reputasie verbeter én ’n lojale verbruikersbasis bou wat uitnemendheid en outentiekheid van waarde ag.”

Patrone

Bruce Whitfield, bekroonde joernalis, topverkoperskrywer en gesogte spreker, beklemtoon dat die bedryf moet floreer te midde van chaos en onsekerheid deur geleenthede aan te gryp en individue en spanne te bemagtig. Volgens hom moet jy beter vrae vra om verborge risiko’s te ontbloot en versteekte patrone te herken.

“Oorlog, staatskuld en tegnologiese ontwrigting skep geweldige globale kommer, leiers moet  egter fokus op dinge waarop hulle invloed kan uitoefen. Ware leiers weet wat om te ignoreer.”

Whitfield het veral klem gelê op die belangrikheid van data bo sensasie en gewaarsku dat ons begrip van die wêreld op feite eerder as retoriek gegrond moet wees. Hy het leiers aangemoedig om beter vrae te vra, patrone raak te sien en vir die toekoms voor te berei eerder as om dit te probeer voorspel. “Die mensdom is op ’n ver beter plek as 200 jaar gelede, verskuif dus jou perspektief en glo onwrikbaar dat dinge sal uitwerk. Gee ’n treetjie terug en kry die volle perspektief. Verstaan jou ware doel en doen beter. Geleenthede kan selfs in moeilike tye aangegryp word. Wees opportunisties, prioritiseer, bewaar kapitaal en wees beslissend om groei en veerkragtigheid te verseker.”

Leier in volhoubaarheid

Dr John Barker, OIV direkteur-generaal, het wyn se globale uitdagings uitgelig en  vier sleuteltemas geïdentifiseer: klimaatverandering en volhoubaarheid, wyn en die samelewing, toekomstige verbruikers en die handel en geo-politieke onsekerheid. Met globale wynproduksie die laagste sedert 1961 beklemtoon Barker dat klimaatverandering die grootste risiko vir die sektor inhou. Globale innovasie, samewerking en die deel van kennis om hierdie uitdagings aan te spreek is volgens hom nou uiters belangrik. “Die wynbedryf kan deur hierdie onseker tye kom en ’n seker toekoms vestig indien ons fokus op volhoubare praktyke en aanpas by ’n veranderende samelewing en verbruikerstendense. Die noodsaaklikheid van volhoubaarheid in alles wat ons aanpak is onbetwisbaar.

Dr John Barker

Barker lê klem op die wynbedryf se inklusiewe en globale aard en die sektor se veerkragtigheid deur samewerking beklemtoon. “Daar is ’n geleentheid om wyn te posisioneer as ’n globale leier in volhoubaarheid in ’n wêreld met soveel teenstrydige boodskappe. Daar is ook ’n behoefte om wyn se rol en posisie in die samelewing te heroorweeg en wyn se werklike kulturele en ekonomiese waarde te erken. Ons moet die gesondheidsimpak van skadelike verbruik erken en kampvegters wees van matige en lae-risiko verbruik.”

Hy beklemtoon ook die belangrikheid van die verstaan van veranderende voorkeure van nuwe verbruikers en maan dat ons hierby moet aanpas deur hierdie verbruikers se ervarings met die ryk geskiedenis van wyn te verweef. “Die wynbedryf is veerkragtig, met ongeëwenaarde gehalte en prestasies. Ons moet dit benut,” sê Barker. Slaan munt uit die sterkpunte en gryp toekomstige geleenthede met oop hande aan.”

SA poort na Afrika

Jordi Borrut, besturende direkteur van Heineken Beverages, het die positiewe impak van Heineken se samesmelting met Distell op Suid-Afrika beklemtoon, met die klem op beleggings in verskaffersontwikkeling, plaaslike aankope en indiensneming. Heineken beskou Suid-Afrika as die poort na Afrika, en dié familiebesigheid is verbind tot aansienlike beleggings in die toekoms. Die maatskappy plaas ’n sterk fokus op volhoubaarheid met die oogmerk om  nettonulbesoedeling teen 2030 te bereik en deur in verantwoordelike alkoholverbruiks-programme te belê.

Jordi Borrut, besturende direkteur van Heineken Beverages

Volgens Borrut is belasting een van die grootste uitdagings wat die wynbedryf in Suid-Afrika in die gesig staar, aangesien hier baie hoër aksyns op alkohol gehef word as in die meeste ander wynproduserende lande. Dit moet heroorweeg word aangesien ’n onlangs gepubliseerde studie, insluitende ’n koste-voordeel-ontleding, getoon het dat die wettige alkoholbedryf ’n netto positiewe jaarlikse bydrae van R62 miljard tot die samelewing lewer.

Borrut het die wynbedryf van Heineken se toewyding verseker, met verwysing na  die beduidende groeipotensiaal wat selfs met beskeie toenames in markdeurdringing tot 530 000 wyndrinkers kan byvoeg en tot miljoene liter meer wynverkope kan lei. Heineken voorsien ’n Suid-Afrikaanse wynmark wat deur ’n gesonde middelsegment oorheers word, waar waardegedrewe handelmerke die verbruik aandryf. “Ons wil ankerhandelsmerke in hierdie middelsegment hê, maar wil ook ons handelsmerke vereenvoudig om duidelik te maak wat ons nié doen nie.”

Onbaatsugtig

‘n Paneelbespreking oor die plaaslike mark is gelei deur Ivor Price, joernalis, televisie- en radioaanbieder met ‘n passie vir landbou. Die paneellede was Daphne Neethling, eienaar en direkteur van PaardenKloof Estate, Rydal Jeftha, bestuurshoof en direkteur van Koopmanskloof Wynkelder, en Denzel Swarts, stigter van Son of the Soil Leadership Foundation en direkteur by die Pinotage Youth Development Academy.

PaardenKloof fokus in besonder op bewaring, wat gesien word as ’n bydrae tot die toekoms. Biodiversiteit is een van hul eiesoortige verkooppunte met ’n sterk klem op tegnologie en innovasie, veral in die kliënteruimte. Neethling het haar ervarings as ’n swart vrou en handelsmerkeienaar in die wynbedryf gedeel. ’n Veerkragtige, diverse besigheidsmodel het haar maatskappy in staat gestel om ’n 100-jaar storm én ’n vernietigende brand deur te staan.

Rydal Jephta

“Dit gaan oor deursettingsvermoë en veerkragtigheid, om vorentoe te kyk met ’n visie wat jou optrede en besluite rig,” sê sy. “Jy moet jou invloed verbreed, objektief wees oor wat jy wil wees en sien, en almal saam met jou neem, veral kliënte en werkers.”

Jeftha het ’n verhaal van veerkragtigheid vertel ná ’n lang loopbaan met min groeigeleenthede. Hy het die belangrikheid uitgewys van veerkragtigheid in die wynbedryf en die nodigheid om die jeug te inspireer. ’n Geloofstap het hom na ’n suksesvolle loopbaan by Thandi Wines gelei.

Toe hy sien hoe sy passie sy dogter inspireer om ’n wynmaker te word, was alles in perspektief.

“Ons doen dit vir die volgende geslag,” sê Jeftha.

Die benadering by Koopmanskloof is dus om te luister ten einde gehoor te word. “Ek wil mense met stories en die gehalte van ons wyne beïndruk, maar gehalte is nie genoeg nie. Jy het ook konsekwentheid seisoen na seisoen nodig. Jy kan nie op jou louere rus nie; jy kan nie die bal laat val nie en jy moet waarde toevoeg tot jou mense, wingerde en kelder.”

Swarts het gewys op die belangrikheid van studie en kwalifikasies om verandering te bewerkstellig. Sy besigheid fokus op ’n standvastige gemeenskap geskoei op noodsaaklike lewensvaardighede en ’n sterk identiteit onder jongmense. Onderrig rus hulle toe met die nodige gereedskap en kweek ’n mentaliteit van onbaatsugtigheid om die toekoms te verbeter.

“Dit was belangrik om die verandering te wees wat ek wou sien. Ons aanvaar nie handouts nie; ons aanvaar hand-ups wat spreek van voorneme en verantwoordelikheid. Ons kan nie oor transformasie in isolasie praat nie; dit moet gepaardgaan met persoonlike  verantwoordelikheid om by te dra tot ’n inklusiewe omgewing.”

Vennootskappe

Na ’n uiters suksesvolle geleentheid, het Daneel Rossouw, Hoof van Verkope vir Landbou by Nedbank Kommersiële Bankwese, afgesluit: “Ons is trots om saam met South Africa Wine te werk op hul eerste beraad, wat ’n reuse sukses was. Die tema van vanjaar se geleentheid, Blend and Bond, eggo Nedbank se leidende beginsels van vennootskap en samewerking wat ons samewerking met noemenswaardige landbou-belanghebbendes soos South Africa Wine rig. Hierdie vennootskappe lig Nedbank se verbintenis tot die ondersteuning van die hele landbouwaardeketting tydens die hoogte- en laagtepunte tot voordeel van volhoubare groei toe.”

Daneel Rossouw van Nedbank

Die South Africa Wine Summit is met trots aangebied met Nedbank as die hoofborg. Ardagh Glass Packaging, Hillebrand Gori en Agrimark was as kleiner medeborge betrokke.

Agrimnark is medeborg van die konferensie.
  • Die wynbedryf het merkwaardig verander sedert 1994 met die viering van 30 jaar van demokrasie, gekenmerk deur tegnologiese vooruitgang en wêreldklas kultivars. Die sektor genereer 270 000 werksgeleenthede, uitvoere van 306 miljoen liter ter waarde van R10 miljard en plaaslike verbruik van 474 miljoen liter wyn en 29 miljoen liter brandewyn.
  • South Africa Wine, as ’n inklusiewe liggaam vir die wynbedryf, het sedert die maatskappy op 1 Julie 2023 in die lewe geroep is, ’n omvattende hersiening van verskeie temas – van kennisoordrag tot globale marktoegang – geïnisieer. Verskeie hersiene strategiese waardeaanbiedinge sal in die volgende paar maande geloods word om besighede en die bedryf te ondersteun om onsekerheid, en meer belangrik, herposisionering na ’n meer volhoubare posisie te stuur.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!