Afrika-wetenskaplikes doen oproep vir billike navorsingsvennootskappe

Kennistekort in Afrika weens tekort aan omvattende studies

ʼn Groep vooraanstaande wetenskaplikes van Afrika doen in ʼn nuwe navorsingsartikel in Nature Medicine ʼn oproep vir meer onpartydige navorsingsvennootskappe.

Die artikel beklemtoon die kritieke behoefte aan regverdige en samewerkende navorsingspogings om die unieke en diverse mikrobiome van bevolkings en omgewings in Afrika te ondersoek. Hierdie mikrobiome is histories onderverteenwoordig in navorsingstudies wêreldwyd.

Die begrip van die rol wat die mikrobioom in verskillende ekosisteme speel, het die afgelope twee dekades aansienlik uitgebrei. Onlangse studies verskaf byvoorbeeld belangrike insigte oor die rol van die mikrobioom in menslike gesondheid en siektes. Hierdie studies doen aan die hand dat die mikrobioom uiters divers is in samestelling en op verskillende vlakke aansienlik verskil.

Hierdie samestellingsverskille oor verskillende bevolkings heen maak dit moeilik om te veralgemeen. Boonop het die gebrek aan omvattende studies in lae- en middelinkomstelande tot ʼn aansienlike kennistekort in Afrika veral gelei.

Daar is grondige bewyse dat Afrikane ’n tuiste bied aan hoogs diverse en onderskeibare mikrobiese gemeenskappe. Ondanks hierdie verskynsel is daar sover baie min mikrobioomstudies op die vasteland gedoen. Die enkele studies oor Afrika-mikrobiome wat wel gedoen is, is tipies sonder die samewerking van Afrika-wetenskaplikes gedoen. Dit wek kommer oor wetenskaplike billikheid en “wetenskaplike kolonialisme”.

Sleutelpunte uit die artikel:

Behoefte aan plaaslike leierskap: Die bemagtiging van wetenskaplikes uit Afrika om navorsingsinisiatiewe te lei, verseker kultureel-toepaslike en impakvolle studies. Die artikel beklemtoon die belangrikheid van plaaslike navorsingsleierskap om rigting en leiding aan mikrobioomnavorsing te gee.

Etiese en billike vennootskappe: Die skrywers pleit vir vennootskappe wat op wedersydse respek en gedeelde doelwitte gegrond is. Dit sluit duidelik riglyne vir data-eienaarskap en die regverdige verdeling van navorsingsvoordele in.

Regeringsbetrokkenheid: Nasionale regerings speel ʼn belangrike rol in die ondersteuning van navorsing deur beleidsontwikkeling, finansiering en die skep van ʼn bevorderlike regulatoriese omgewing.

Gestandaardiseerde protokol: Die daarstelling van gestandaardiseerde prosedures vir mikrobioomnavorsing sal die heruitvoerbaarheid en konsekwentheid van die bevindings bevorder en derhalwe globale samewerking en deel van kennis vergemaklik.

Aanhalings van die skrywers:

“Belegging in plaaslike navorsingsinfrastruktuur en kapasiteit sal nie net mikrobioomwetenskap bevorder nie, maar ook tot gesondheidsbillikheid en presisiegeneeskunde op ʼn globale skaal bydra,” het dr Ovokeraye H. Oduaran, ʼn mikrobioom-kenner verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand en hoofskrywer van die artikel, gesê.

“Ons het reeds voorheen die behoefte aan meer studies oor die Afrika-mikrobioom beklemtoon. As Afrikane, moet ons aan die voorpunt van hierdie studies staan omdat dit ons eie gemeenskappe en ekostelsels direk raak. Ons het billike vennootskappe nodig om betekenisvolle en volhoubare navorsingsuitkomste te bereik,” het prof Thulani Makhalanyane, ʼn mikrobioomwetenskaplike van die Universiteit Stellenbosch en medeskrywer, gesê.

Voorgestelde implementeringsraamwerk:

Die artikel bied ʼn gedetailleerde raamwerk om rigting aan billike navorsingspraktyke te gee. Hierdie raamwerk beklemtoon etiese oorwegings, gemeenskapsbetrokkenheid, kapasiteitsbou, multidissiplinêre samewerking, kennisoordrag en gestandaardiseerde werksvloeiprgramme. Sleutelpilare van hierdie raamwerk sluit in:

  • Plaaslike navorsingsleierskap: Bemagtig plaaslike wetenskaplikes om te verseker dat die navorsing kultureel en kontekstueel toepaslik is.
  • Gekontekstualiseerde globale navorsing: Spreek plaaslike openbare gesondheidsprioriteite aan terwyl daar na oplossings gestrewe word wat wêreldwyd toepaslik is.
  • Etiese vennootskappe: Vestiging van billike samewerkingspraktyke met gedeelde doelwitte en duidelike riglyne oor data en eienaarskap van monsters.
  • Gestandaardiseerde protokolle: Implementering van gestandaardiseerde prosedures vir die insameling, berging en ontleding van monsters.
  • Regeringsbetrokkenheid: Moedig aktiewe deelname van nasionale regerings in navorsingsinisiatiewe aan.

Oor die skrywers:

Hierdie oproep is deur ʼn diverse groep wetenskaplikes van Afrika geskryf wat verbonde is aan vooraanstaande universiteite en navorsingsinstansies regoor die vasteland. Hulle spesialisvakgebiede behels berekeningsbiologie en menslike en omgewings-mikrobiome. Die skrywers staan die bevordering van wetenskaplike kennis en die verbetering van gesondheidsuitkomste deur billike en samewerkende navorsingspraktyke voor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!