Nico Koopman spreker by Russel Botman-gedenklesing
Prof Nico Koopman, viserektor: sosiale impak, transformsie en personeel aan die Universiteit Stellenbosch (US), is vanjaar se spreker by die jaarlikse Russel Botman-gedenklesing. Die lesing is ʼn huldeblyk aan die lewe en visioenêre ideale van prof Hayman Russel Botman en sy verbintenis tot teologiese geregtigheid.
Die lesing vind op Woensdag 16 Oktober 2024 om 17:30 in die Attie van Wijk-ouditorium, fakulteit teologie, Dorpstraat 171 en aanlyn op MS Teams plaas.
Koopman se lesing is getiteld Bevrydende gesegdes en stories van Russel Botman. Enkele persoonlike refleksies. Prof Miranda Pillay, buitengewone professor by die Desmond Tutu sentrum vir godsdiens en sosiale geregtigheid aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sal respons op die lesing lewer.
Hierdie jaarlikse lesing word aangebied deur die fakulteit teologie in samewerking met die kuratoria van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, asook die Beyers Naudé-sentrum vir publieke teologie.
Hayman Russel Botman is in 2000 by die US aangestel as professor in die departement praktiese teologie en missiologie. Hy was ook die stigter van die Beyers Naudé-sentrum vir publieke teologie. In 2002 is hy aangestel as viserektor: onderrig en in 2007 word hy aangestel as die US se eerste swart rektor en visekanselier. Onder sy visioenêre leierskap is die HOOP-projek in 2010 geloods, met die klem op sosiale relevansie, gelyke geleenthede en akademiese en navorsings-uitnemendheid. Visie 2030 wat in 2013 aanvaar is, is deel van sy nalatenskap: met die oogmerk dat die US ʼn innoverende, inklusiewe en toekomsgerigte instelling sal wees.
Prof Botman is onverwags op 28 Junie 2014 oorlede.